Dis Vrydagmiddag en jy het uiteindelik jou laaste verslag ingedien, al jou e-posse beantwoord en jou rekenaar afgeskakel. Nóú kan jy begin uitsien na daai welverdiende bosveld-wegbreek! Jy sit voet in die hoek, mik noord op die N1 en kyk hoe die Goudstad in jou truspieëltjie verdwyn. Die wolkekrabbers word vervang met ewe hoë doringbome en skielik sien jy die wonderskone Waterberge voor jou opdoem. Dít klink mos nou hemels!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by David Beretta (@lesserspotted_dave) on

Die Waterberge strek oos vanaf Thabazimbi tot by Mokopane in die noorde van Limpopo. Dié omgewing is sinoniem met stofpaaie en plaasbakkies, graskoppies en doringbome, kamp en kuier, wildkampe, wildplase, versengende hitte én skouspelagtige donderstorms. Maak die bosveld vir ’n naweek jóú kantoor en kom woeker saam met LekkeSlaap in die Waterberge om al die skatte en lekker lêplekkies wat tussen dié berge skuil te ontdek!

Of jy nou Bela-Bela, Thabazimbi, Modimolle, Vaalwater of Mokopane se koers inslaan, daar wag ’n hele paar juweeltjies langs die pad onderweg na jou oorslaapplek!

Net buite Bela-Bela op die R516 nooi die guitige geel bus by Peet se Padstal kuiermense gulhartig binne. Hiér kan jy pap en kaiings, tuisgemaakte pasteie, vetkoek met maalvleis en geroosterde broodjies vir padkos bestel. Terwyl manlief aan ’n koppie kondensmelkkoffie sit en teug, kan vroulief in die winkel rondsnuffel vir oulike ditjies en datjies.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Corné van Wyk (@corne.van.wyk) on

’n Entjie verder op die R516/Thabazimbi-pad kan jy regs draai by Diepdrift om by L’Abri Plaaswinkel af te saal. Dié bekoorlike winkel spog met tuisgekookte konfyt, koekies, beskuit en ander lekkernye. Daar is ook speelplek vir die jongspan en tuine waar jy jou eie groente en kruie kan pluk. Sit salig onder die koeltebome en drink ’n glasie gemmerbier of ’n melkskommel voor jy die Waterberge verder gaan verken!

As jy op soek is na ietsie met ’n bietjie meer skop, kan jy ’n paar bottels boetiekbier by L’Abri Fountain Brewery aanskaf! Dié brouery se biere het tong-in-die-kies-name, soos Beertjie en Wit Hasie. Bespreek ’n bierproe om dié unieke biere op die proef te stel en kom sommer ook meer oor die brouproses te wete!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Riona (@rionaarjoon) on

Halfpad tussen Modimolle en Vaalwater op die R33 lê die prettige Geluksfontein-padstal. By dié padstal kan jy van hul bekende bokmelkkaasprodukte koop of ’n outydse jaffle geniet. Kinders kan die plaasdiere voer terwyl ouers kyk hoe die verskillende kase gemaak word, of jy kan ’n begeleide plaastoer en ’n kaasproe bespreek.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by AnrietteVanWyk (@anriette.indiana.johnson) on

As jy aanry tot op Vaalwater, kan jy gerus inloer by die Seringa-koffiewinkel net buite die dorpie. Dié koffiewinkel is vernoem na die wildeseringboom en hier word vars, plaaslike produkte in smullekker gehalte-disse omtower. Jy kan heerlik onder die bome rondom die wit-en-oranje tafeltjies kuier en daarna aandenkings by die Black Mamba-kunswinkeltjie aanskaf. Hiér word handgemaakte Afrika-kunswerke en -juwele keurig uitgestal en jy sal beslis nie sonder ’n aandenking kan huis toe gaan nie!

Bespreek ’n uitstappie by Waterberg Zipline as jy die adrenalien behoorlik deur jou are wil voel bruis. Hulle het kundige gidse wat jou op ’n onvergeetlike avontuur neem en jy kan tot 230 m tussen hemel en aarde hang. Die skouspelagtige uitsigte sal jou asem behoorlik wegslaan! As jy liewer bang Jan as dooie Jan is, kan jy altyd by die Bushpig Inn-restaurant kom kuier terwyl die adrenalienvrate kerjakker.

By die Grootfontein Privaat Natuurreservaat kan jy en jou makkers bergfietsroetes aanpak, in ’n kajak op die Krokodilrivier vaar, of jul staal op die 4×4-roete wys. Die bergfietsroetes strek 50 km oor berge en dale, en daar is talle tegniese hindernisse wat selfs die mees bedrewe fietsryers sal uitdaag. Vir dié wat die Krokodilrivier se waters aandurf, wag daar ’n opwindende dag van voëlkyk, wildkyk en visvang! Grootfontein se 16 km lange 4×4-roete sal jou 2 tot 3 uur besig hou en jy kan die dag afsluit met ’n lekker skemerkelkie bo-op een van die berge. Miskien is jy selfs gelukkig genoeg om een van die Waterberge se skouspelagtige weerligstorms hier vanaf die hoogtes te beleef!

Hou bene hou! | Foto: LekkeSlaap Vaar in 'n kajak op die rivier | Foto: LekkeSlaap.

 

Of jy nou die doen-dit-self-tipe is wat graag kampeer, of iemand is wat nié besonders graag sélf met tentpenne wil sukkel nie, LekkeSlaap het verskeie verblyfopsies in die Waterberge wat jou smaak en sak sal pas!

Kampplek saam met jou kroos:

Sondela Camping and Caravan Park:

Kom kamp onder die doringbome by Sondela | Foto: LekkeSlaap. Die jongspan sal dié pragtige swembad sommer baie geniet | Foto: LekkeSlaap.

By Sondela Camping and Caravan Park net buite Bela-Bela word gaste hartlik met pannekoek en ’n koue drankie verwelkom. Gaste word bederf met ’n gratis pak ys, hout en ’n wildrit vir 4 op ’n trekker. Die kampterrein spog met immergroen bome en grasperke, luukse ablusiegeriewe en daar is oorgenoeg doendinge vir die kleinspan, soos ’n tafeltennisblad, tennisbane en ’n swembad.

Hardebaarde kan die Tambuki-kampplek bespreek. Dié afgeleë kamp het nie elektrisiteit nie en kan net met ’n 4×4 bereik word. 

Rossouwspoort Camping & 4×4 Trails:

Kamp en kuier by Rossouwspoort | Foto: LekkeSlaap. Dié swembad spog met asemrowende uitsigte op die berge | Foto: LekkeSlaap.

Rossouwspoort Camping & 4×4 Trails naby Thabazimbi het 20 karavaan- of tentstaanplekke wat elkeen braaigeriewe en toegang tot ’n sentrale waterpunt het. Dié bobaas-bosveldervaring sal jou sommer gou van Gauteng se verkeer laat vergeet en jy kan tot laataand rondom die braaivleisvuur sit en kuier.  

Matamba Bush Campsite:

Hier by Matamba is daar talle wild te sien | Foto: LekkeSlaap. Hierdie uitkykdek bied pragtige uitsigte oor die bosveld | Foto: LekkeSlaap.

Matamba Bush Campsite anderkant Vaalwater is ’n lushof vir natuurliefhebbers en het afsonderlike kampterreine vir privaat bosveldverblyf. Die kampplekke spog elkeen met uitsonderlike uitsigte op die omliggende berge en daar is tientalle staproetes wat jy saam met die kinders kan verken. Die Ndege-skuiling is ’n pragtige grasdakgebou wat op stelte staan en dis die perfekte plek om die omgewing te bespied vir wild en voëls.

Nóg kampplekke in die Waterberge:

Syringa Sands Bush Camp Site | Silver Rocks Caravan Park | Oppi Riviere | Andante Game Farm

Sakpas-verblyf vir ’n groot groep:

Feeskraal Lodge

Die perfekte plek vir kampvuurstories | Foto: LekkeSlaap. Hiér sal jy salig kan slaap | Foto: LekkeSlaap.

Die Feeskraal Lodge is perfek ’n groot groep vriende of familie, en sal jou ook nie ’n plaas se prys kos nie. Daar is slaapplek vir 7 gaste en ook ’n lekker kuier-kombuis, ’n houtdek en ’n braai-area. Dis in die Mabalingwe Natuurreservaat geleë en gaste kan ook die tennisbane, muurbalbane en swembaddens daar benut.

Rietvally Game Lodge

Dié kuierplek is ideaal vir 'n groep | Foto: LekkeSlaap. Daar's 'n lekke plaasdam om in te swem | Foto: LekkeSlaap.

Die Rietvally Game Lodge word as ’n eenheid bespreek en bied slaapplek aan 20 gaste, so dis perfek vir ’n groot familiesaamtrek. Daar is 3 grasdak-chalets wat elkeen in ’n bosveld-tema versier is en gaste kan na hartelus in die swembad baljaar, voël- en wildkyk, en die omgewing op ’n bergfiets verken.

Zebula Lodge 69

'n Regte bosveldhuis | Foto: LekkeSlaap. Die bosveld-uitsigte vanaf die kamervensters sal jou bekoor | Foto: LekkeSlaap.

Zebula Lodge 69 is ’n pragtige grasdakhuis met 4 en suite-slaapkamers, so dis ideaal vir 2 gesinne met kinders. Die pooltafel sal sorg vir ure se pret en die binnebraai is die ideale plek vir ’n gesellige kuier as ’n storm buite woed. Maak gerus by die Zebula-klubhuis ’n draai of speel ’n potjie gholf terwyl sebras en koedoes jou op die baan geselskap hou!

Nóg sakpas-opsies vir ’n groot groep:

Kolobe Lodge | Elements Bush Villa 216 | Idwala 27 | Kwanyathi Lodge

Luukse verblyf saam met jou liefie:

Letlapa Pula Game Farm Letlapa Lodge:

Dié uitsigte sal jou asem behoorlik wegslaan | Foto: LekkeSlaap. Letlapa se kristalhelder swembad | Foto: LekkeSlaap.

As jy jouself met asemrowende uitsigte wil beloon, móét jy by die Letlapa Pula Game Farm Letlapa Lodge naby Thabazimbi kom slaap, want daar is golwende groen heuwels so ver as wat jy kyk! Die kristalhelder swembad bied lafenis op snikhete somersdae en saans kan jy op die dek sit en na die sterre staar. Drie watertandlekker maaltye word per dag bedien en die personeel sal jou en jou liefie op die hande dra.

Fifty Seven Waterberg:

'n Weelderige wegbreek wag hier in die Waterberge op jou | Foto: LekkeSlaap. Hiér word jou wildste drome waar | Foto: LekkeSlaap.

Fifty Seven Waterberg is in die hartjie van die Welgevonden Natuurreservaat geleë en spog met ’n pragtige randvloeiswembad, ’n lieflike uitkykdek en wittebrood-suites wat elkeen ’n Jacuzzi het! Dis die perfekte plek vir ’n romantiese wegbreek saam met jou geliefde en ook die ideale basis as jy die Waterberg-omgewing wil verken.

Clifftop Exclusive Safari Hideaway:

'n Grasdakhuis so rég uit jou drome | Foto: LekkeSlaap. By dié lodge slaap jy luuks in die hartjie van die Afrikabos | Foto: LekkeSlaap.

Clifftop Exclusive Safari Hideaway lê weggesteek op die kruin van ’n pragtige vallei naby Vaalwater. Dié luukse safari-oord het byderwetse meubels vir ’n moderne gevoel en daar is ’n lieflike dek, ’n buitestort en ’n privaat plonspoel waar jy en jou wederhelf kan ontspan.

Nóg luukse verblyf in die Waterberge:

The Mabula Villa | Mhondoro Lodge | KwaMadala | Zebula 139

So, as jy binnekort koers kies na die Waterberge, weet jy nou presies waar om stil te hou, watter doendinge om aan te pak en waar om salig te slaap. Begin sommer nou jou roetereis beplan, bespreek jou slaapplek deur LekkeSlaap en kom woeker in die Waterberge!

Hooffoto: Bigstock.