Het jy ’n huisie op wiele maar is raadop oor waar om kamp op te slaan? LekkeSlaap het by ’n paar van ons gunsteling-kampeerplekke gaan inloer sodat jy nie verder hoef te soek nie! Of jy nou die seebriesie wil voel, in die bosveld wil skuil, of oor die Karoo-vlaktes wil tuur ─ ons wys jou 20 bestemmings waar jy behóórlik kan uitspan.

By die See

Morgan Bay Caravan Park

Morganbaai is omring deur ’n lang ongerepte strand, asemrowende kranse en hope doendinge vir besoekers. Morgan Bay Caravan Park lê op die Inchara-strandmeer se oewer en hiér kan jy onder ’n skaduboom kamp opslaan met die strand op jou voorstoep. Jy kan selfs jou kano saambring en hom sommer voor jou staanplek vasmeer!

Al die staanplekke het kragpunte, piekniektafels en braaigeriewe, sowel as toegang tot ablusiegeriewe. Daar is ook muntwasmasjiene en -tuimeldroërs. Maak seker jy bespreek een van die 14 staanplekke op die oewer!

Monks Holiday Chalets and Caravan Park

Dié karavaanpark aan die oewer van die Knysna-strandmeer het oorgenoeg koelte en hope doendinge vir oud en jonk. Jy kan lekker in die strandmeer afkoel, visvang, al langs die water stap, of sommer net voor jou karavaan op die gras ontspan. Monks is ook lekker naby die middedorp geleë, so jy hoef nie ver te ry om inkopies te doen nie.

Elke staanplek het ’n kragpunt en braaigeriewe, sowel as toegang tot die ablusiegeriewe. Daar is ook 4 karavane permanente karavane vir diegene wat nie hul eie huisie op wiele het nie.

Rocky Bay Resorts Caravan Park

Lieflike somers, matige winters en ’n perfekte ligging tussen goue strande, inheemse woude en golwende heuwels maak Rocky Bay Resorts regdeur die jaar die ideale vakansiebestemming! Die staanplekke is so te sê óp die strand geleë, so jy is verseker van ’n lieflike seebriesie én ’n uitstekende uitsig.

Die staanplekke het almal kragpunte en toegang tot die ablusiegeriewe. Daar is ook ’n muntwassery, ’n swembad en ’n vermaakkamer met ’n TV en ’n tafeltennisblad vir die kinders.

Yellowwood Forest

Yellowwood Forest is in Morganbaai aan die Wildekus geleë en net 1,5 km van die strand af. Jy kan die staproetes in die woud verken, visvang in die Morganbaai-dam of sommer net die merkwaardige voëllewe dophou. Daar is ook ’n teetuin, restaurant en kroeg op die perseel, sowel as ’n mark elke Saterdag waar vars groente, tuisgemaakte smulhappies en ander lekkernye verkoop word.

Daar is ’n verskeidenheid skaduryke-kampeerplekke om van te kies. As jy op soek is na rus en vrede stel ons voor jy slaan ver van die ingang af kamp op, maar as jy die kleingoed saambring, sal dit wys wees om naby die speelgrond uit te span. Daar is braaigeriewe en ’n paar waterpunte, maar weet net dat daar tog staanplekke is wat nie kragpunte het nie.

In die Bosveld

Umdobi Bush Camp

Umbodi Bush Camp lê in die bosveld in die hartjie van Zoeloeland. Dié boskamp is troeteldiervriendelik, so jy kan lekker saam met Wagter in die skaduwee langs die swembad ontspan. Sodwanabaai is ook net ’n kort entjie agter die stuur ver, so jy kan heeldag visvang, duik, swem of net op die strand ontspan voor jy die vuurtjie by die kamp kom aansteek.

Elke staanplek is eweredig tussen die skadubome versprei en in die bos versteek wat dit lekker privaat maak. ’n Kragopwekker sorg vir elektrisiteit by die staanplekke en daar is ook braai- en ablusiegeriewe.

Peppertree Lodge Caravan and Camping Site

Dié uiters netjiese en groen karavaanpark is net buite Bela-Bela geleë. Daar is ’n swembad, plonspoel, vlugbalbaan, netbalbaan én ’n speelparkie, so die kinders sal nie sommer hiér verveeld raak nie. Indien hulle wel uitgekuier raak, kan hulle ook lekker gaan stap, wildkyk, perdry of Zipline.

Die karavaanpark het staanplek vir 20 karavane, sowel as ablusiegeriewe met baddens en storte, braaigeriewe, kragpunte en waterpunte.

Moriti Bush Camp

Verbeel jou jy maak jou karavaan staan tussen hoë bosbome met groot vuurmaakplekke en net die rustige water van die Limpopo-rivier wat die stilte versteur … Maak jou dan gereed vir ’n egte bos-ervaring, want dís presies wat Moriti Bush Camp bied! Dié privaat boskamp is ideaal vir diegene wat die stadsgedruis wil vergeet en op soek is na ’n magiese avontuur in die bos. Moenie jou visstok by die huis vergeet nie!

Daar is 2 staanplekke ─ een met ’n kragpunt en een sonder ’n kragpunt, sowel as braaigeriewe en ablusiegeriewe.

Rossouwspoort Camping & 4×4 Trails

Rossouwspoort is net 10 km vanaf Thabazimbi in Limpopo geleë en dis perfek vir karavaankampeerders wat op soek is na ’n wegbreek met sommer ’n hele rits doendinge op die perseel. Hiér kan julle grotte verken, plaasdiere met die hand voer, 4×4-roetes aandurf, in die swembad baljaar, en nog baie meer.

Geriewe op die kampeerterrein sluit braaigeriewe, sentrale waterpunte en piekniektafels in. Elektrisiteit kan op versoek voorsien word, tensy jy aan die berg se kant kamp opslaan.

Langs die Rivier

Gourits River Eco-Camping

Dié eko-kampeerplek is aan die oewer van die Gouritsrivier geleë, net sowat 16 km van Albertinia af. Met die rivier só op jou voorstoep is daar ’n hele rits doendinge om van te kies — gaan stap al langs die rivier, vang vis, vaar op die rivier met jou kano, hou die voëls dop, swem, of verken die omgewing op ’n vierwielmotorfiets.

Daar is 3 kampeerplekke en gemeenskaplike ablusiegeriewe met storte, wasbakke en toilette. Nadat jy heeldag in die rivier baljaar het, kan jy ’n vleisie oor die kole gooi by die gemeenskaplike braaigeriewe. Let wel: Net ’n paar van die kampeerplekke het kragpunte.

Karnmelkspruit River Resort

Dié oord aan die oewer van die pragtige Karnmelkspruitrivier is ’n fantastiese vakansiebestemming vir natuurliefhebbers. Gaste kan lekker in die rivier swem en al die wandelpaadjies verken. Daar is ook ’n asemrowende kloof, ’n aasvoëlreservaat en ’n historiese treintonnel wat beslis die besoek werd is.

Dié kampeerplek het 25 staanplekke tussen die bome en struike op die randjie van die rivier. Die staanplekke het nie elektrisiteit nie, maar daar is wel ablusiegeriewe met warm water en ’n lapa met braaigeriewe.

The Growcery Camp

Kom kamp aan die oewer van die Oranjerivier, kuier om die kampvuur, en hou piekniek terwyl die son oor die rivier sak. The Growcery Camp is in Vioolsdrif in die Nababeep Bewarea geleë ─ ’n rustige omgewing met ’n uitsig op die omliggende kranse en oor die langste rivier in Suid-Afrika.

Daar is 3 staanplekke met plek vir 6 kampeerders en 7 staanplekke met plek vir 16 kampeerders. Gemeenskaplike ablusiegeriewe is beskikbaar. Elke staanplek het ’n onderdak-area met ’n toonbank, wasbak, kragpunt, asblik en braaigeriewe.

Middelvlei Camping

As jy jouself as ’n bobaas-hengelaar beskou, moet jy beslis by Middelvlei Camping kom afsaal. By dié kampeerterrein aan die oewer van die pragtige Asrivier kan jy baars- en forelhengel, sowel as bergfietsry, voetslaan en voëlkyk. Verder is dit ook net 38 km van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park af wat beslis die besoek werd is!

Daar is 30 kampeerplekke met kragpunte en gemeenskaplike ablusiegeriewe met storte en toilette.

In die Karoo

Gemsbokfontein 4X4 en Kampterrein

Gemsbokfontein is omring deur berge en in ’n diep kloof tussen die Roggeveldberge geleë. Dis die ideale wegbreek vir ’n groep 4×4-entoesiaste wat mal is oor die unieke natuurskoon van die Karoo. Dié kampeerterrein is in die Moordenaarskaroo geleë, maar moenie dat dit jou afskrik nie ─ dis die ideale plek om te kom voetslaan, bergklim of om een van die 4×4-roetes aan te durf voordat jy saans onder die sterre om die kampvuur kuier.

Daar is 10 staanplekke, 2 spoeltoilette en braaigeriewe. Let asseblief daarop dat die kamp slegs met ’n 4×4-voertuig en -karavaan bereik kan word.

Sterland Kampering

Sterland Kampering is ’n lieflike kampeerterrein wat deur populierbome omring word en net 1 km buite Sutherland geleë is. Saans tussen 20:00 en 22:00 vertel jou gasheer, Jurg, jou van die sterre, voordat hy julle na sy teleskope neem. Doen jouself ’n guns en maak ’n draai by die die NP van Wyk Louw-museum, verken Oubergpas se skilderagtige roete en besoek natuurlik die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond.

Elke staanplek beskik oor ’n elektriese kragpunt en braaigeriewe. Daar is drie gemeenskaplike waterpunte, sowel as ablusiegriewe met elektriese geisers, opwasgeriewe en ’n wasgoedlyn. As die wind ’n bietjie lastig is, kan julle in die gemeenskaplike boma, Muisbos, om die vuur gaan kuier.

Taaiboskraal Boskampe

Taaiboskraal Boskampe lê op ’n stil plaas in die hartjie van die Kamiesberge in Namakwaland. Hiér is verskeie doendinge wat die hele gesin sal besig hou, soos voetslaan, bergfietsry en voëlkyk op die plaas, of ’n verkenningstog deur die Goegap Natuurreservaat, die Namakwa 4×4-roete, of die blomroete.

Daar is 4 aparte kampeerterreine wat onderskeidelik 2, 4, 6 en 10 staanplekke het. Elke staanplek het ’n spoeltoilet en sy eie boma. Die gemeenskaplike ablusiegeriewe het storte en is by die plaashuis geleë, sowat 1 km van die kampeerterrein af.

Spitskop Veldkamp

Dié basiese kampeerterrein is op ’n plaas langs die R62 net buite Oudtshoorn geleë. As jy lief is vir die veld, op soek is na rustigheid en jouself as ’n geharde kampeerder beskou, is dié kampeerplek ideaal vir jou! Wild loop vrylik op dié 230 hektaar-plaas rond, so hou saans jou ore oop vir ’n jakkals se geroep.

Hier is slegs ’n spoeltoilet en braaiplek. Jy moet jou eie kooktoebehore, kamptoerusting en water saambring want daar is nie lopende water by die kampeerplek nie. Wenk: Hou die Karoo se temperature in gedagte en maak voorsiening vir warm en koel weer.

Tussen die Berge

Mount Ceder

Mount Ceder in die Sederberge is omring deur ru en dramatiese berge. Die rivier is net ’n  entjie se stap ver, so bedags kan jy die rivier in ’n kano verken, stap, voëlkyk en swem, en saans kan jy die sonsondergang vanuit jou kampstoel bewonder.

Die drie kampplekke is lekker ver van mekaar af om jou privaatheid te verseker. Elke kampplek het sy eie ablusiegeriewe, ’n kombuisarea en braaigeriewe. Daar is nie elektrisiteit nie, maar wel gas en sonkrag.

Nature’s View

Dié kampeerterrein aan die voet van die Sederberge lê op die Olifantsrivier se oewer en bied tientalle doendinge soos voetslaan, swem, kajakvaart, visvang, boogskiet, verfbal en voëlkyk.

Daar is 20 staanplekke met kragpunte, braaigeriewe en ruim ablusiegeriewe, sowel as ’n swembad, kroeg en ’n speelparkie vir die kleinspan.

Bosrivier Campsite

Bosrivier is ook aan die voet van die Sederberge 7 km buite Citrusdal geleë en bied lekker rustige kampplek met net die geritsel van die blare en gekabbel van die water wat die stilte versteur. Die kampterrein het gemeenskaplike braaigeriewe langs die bergstroom waar julle in die swemgate kan baljaar en op die gras in die skadu kan uitspan.

Daar is 5 kampplekke wat elkeen plek vir 6 kampeerders bied. Elke staanplek het sy eie ablusiegeriewe, braaigeriewe en afdakkie met ’n wasbak, asblik en kragpunt.

Towerkraaltjie

Towerkraaltjie skuil aan die voorheuwels van Towerkop in die Dwarsriviervallei en bied ’n ontspanne atmosfeer en pragtige uitsigte op die Klein Swartberg vanaf jou kampstoel. Van hiér af kan julle die pragtige Hoekovallei, die Seweweekspoort, die Anysberg Natuurreservaat, verskeie voetslaanroetes en die 2 plaaslike kaasfabrieke besoek.

Die staanplekke beskik elkeen oor kragpunte, waterpunte, skadubome en draagbare braaigeriewe. Die gemeenskaplike ablusiegeriewe is volledig toegerus, en daar is ’n wasgoedlyn en ’n opwaskamer vir skottelgoed en wasgoed.

Daar het jy dit! Met dié rits karvaankampeerplekke het jy nie meer ’n verskoning nie ─ begin sommer vandag aan julle volgende vakansie op wiele beplan.

Hooffoto: Bigstock

Alle ander foto’s: LekkeSlaap-instansieprofiele