Almal klink ’n glasie ─ ons mag weer wynlandgoedere besoek! Maar hoekom net na die wynstreek ry om wyn te proe? Saal sommer vir ’n paar dae daar af, verken die area en geniet ’n uitsig oor die wingerd, terwyl jy rustig op die stoep aan jou plaaslike gunsteling sit en teug. 

Hier is LekkeSlaap se lys van nege wynplaas-wegbreke waaraan jy kan proe. Laat weet ons hieronder in die kommentaar van watter een jy sommer ’n hele boks wil koop!

Orange Grove Farm

Robertson

Rus en herlaai jou batterye in een van die smaakvol versierde selfsorgkothuise op hierdie wyn- en olyfplaas in die bekoorlike Robertsonvallei. Buiten die swembad, bergfietsroetes, staproetes, pieknieks, spa- en skoonheidsbehandelings wat jy op die perseel kan geniet, bied Robertson ook hope vermaak en talle wynlandgoedere waar gaste kan wynproe. 

Kliek hier vir die tariewe. 

______________________________

Dunstone Country House

Wellington

Die gastehuis en losstaande kothuise op hierdie prentjiemooi Bolandse vrugteplaas is net so ’n uur se ry van Kaapstad af en gaste het toegang tot die plaas se gesinsvriendelike bistro (onthou net om vooraf te bespreek) en wynproeë by Dunstone se bekroonde boetiek-wynkelder. Al die gastekamers het privaat stoepe en deel die gebruik van ’n pragtige randvloeiswembad, terwyl die twee kothuise hul eie kaggels en swembadjies het.

Kliek hier vir die tariewe. 

______________________________

Basse Provence Country House

Franschhoek

Verblyf by Basse Provence word in agt en suite-gastekamers in ’n herehuis en ’n aparte kothuis met ’n privaat terrastuin gebied. Die eenhede is slegs vir gaste oor die ouderdom van agtien en is op die groter Rickety Bridge Wynlandgoed geleë waar gaste bekroonde wyne kan proe, wynervarings kan bespreek en keldertoere kan onderneem. Gaste kan ook ’n spa- of skoonheidsbehandeling versoek. 

Kliek hier vir die tariewe.

______________________________

Saronsberg Vineyard Cottages

Tulbagh

Hierdie wingerdkothuise in die geskiedkundige dorpie, Tulbagh, skuil aan die voorheuwels van die majestueuse Saronsbergreeks en is ’n wegbreek om van te droom! Al sestien selfsorg-eenhede spog met ’n kaggel en braaigeriewe en daar is natuurlik ook ’n wynkelder op die perseel. Buitelugentoesiaste sal die stap- en fietsroetes in die skouspelagtige omgewing waardeer.

Kliek hier vir die tariewe.  

______________________________

Bo La Motte Farming and Tourism

Franschhoek

Hier, aan die voorheuwels van die Middagkransberge in Franschhoek, skuil ses popmooi selfsorgkothuise ─ ’n idilliese wegbreek in ’n idilliese omgewing waar die plaas se ses vriendelike honde jou met aankoms kom groet. ’n Keur van La Petit Ferme se wyne is in die kothuise beskikbaar of gaste kan ’n wynproe by die La Petit Ferme Restaurant bespreek. 

Kliek hier vir die tariewe.

______________________________

Cellar1947

Robertson

Vir iets ’n klein bietjie anders, kies Cellar1947. Hierdie selfsorg-eenheid vir vier volwassenes en twee kinders is ’n ou wynkelder wat opgeknap is om ’n ultra-moderne wynlandervaring te bied. Die huis het ook ’n privaat kelder en proelokaal. ’n Toer van die blommeplaas kan op versoek gereël word, of gaste kan bloot in die Jacuzzi met ’n uitsig op die Langeberge ontspan en ’n tjoppie oor die kole gooi.

Kliek hier vir die tariewe. 

______________________________

Bushmanspad Estate

Ashton

Met die Langeberge agter jou en die Breederiviervallei wat voor jou uitstrek, kan jy mos nie verkeerd gaan nie. Bespreek dus een van Bushmanspad Estate se vyf selfsorgkothuise en kom rus hier tussen Ashton en Swellendam. Elke kothuis het slaapplek vir twee volwassenes en twee kinders (op die slaapbank) en bied ’n ongelooflike uitsig oor die wingerd tot by die dam. Geniet heerlike plaaslike wyne en besoek die tweehonderd jaar oue wynkelder op die perseel om meer oor Bushmanspad se wyn te leer.

Kliek hier vir die tariewe.

______________________________

De Kombuys

Oudtshoorn

Hierdie ekovriendelike plaas is net drie kilometer van die wêreldbekende Kangogrotte af en bied verblyf in vier treffende eenhede met wingerd-uitsigte en toegang tot ’n swembad, braai-area en gratis WiFi. Gaste kan ook die wynkelder op die perseel besoek of ’n maaltyd by die restaurant, The Marbled Wagya wat in wagyu-bief spesialiseer, geniet. 

Kliek hier vir die tariewe. 

______________________________

Strooi Kooi

Calitzdorp

Kom bly in hierdie unieke, eko-vriendelike kothuis buite Calitzdorp ─ en bring vir Vlekkie saam! Dié kothuis is van materiaal gebou wat in die omtrek gevind is, hoofsaaklik toegepleisterde strooibale, en weerspieël innoverende, groen boutegnieke en ’n eklektiese styl. Die kothuis het slaapplek vir twee gaste en daar is braaigeriewe, ’n swembad en wynproe op die perseel. 

Kliek hier vir die tariewe. 

______________________________

So, waar draai jy eerste in? Laat die lekker wynlandwegbreek begin! 

Hooffoto: Orange Grove Farm op LekkeSlaap.co.za