Die winter is hier en die dae van op die strand lê moet ons ongelukkig eers uitstel. So, wat kan ’n mens in die Kaap doen wanneer die broodnodige reën op ons neersak? Al is boetiekbier en gin nou lekker gewild, stel ons ’n ou gunsteling voor ─ wynproe in die Stellenboschvallei! Wat dié ervaring besonders maak is dat die wynproe ook met ’n spesifieke peuselhappie gepaard gaan ─ van nougat en makrolletjies, tot biltong en pizza! 

LekkeSlaap wys jou watter Stellenbosch-wynplase jou smaakkliere saam met wyn kan aanwakker én waar jy jou kop kan neerlê as jy langer wil vertoef:

Kolwyntjies – Delheim

Delheim-wynlandgoed lê teen die prentjiemooi hange van die Simonsberge. Hiér kan jy varsgebakte, lipleklekker kolwyntjies saam met wyn geniet ─ die ideale bederf vir ’n verfynde palet. ’n Klompie geure wat jy kan verwag is ’n Chenin Blanc saam met ’n lemoengeurige rooibos-kolwyntjie met ’n roomkaas- en heuningversiersel of die Pinotage Rosé saam met ’n eksotiese granaat-kolwyntjie. Dis belangrik om vooraf te bespreek as jy nie teleurgesteld wil wees nie!

Koste: R100 per persoon
Tye: Daagliks van 10:00 tot 16:30
Wat sluit dit in? 4 kolwyntjies en 4 wyne
Tel: 021 888 4600
E-pos: info@delheim.com
Kindervriendelik: Die wynproe word binne gedoen, maar daar is ’n grasperk voor die restaurant waar kinders rustig kan speel.

Pretfeit

Dié wynlandgoed is een van die stigters van die Stellenbosch-wynroete in 1971. Hulle Pinotage Rosé, wat by die wynproe ingesluit is, was in 1976 die eerste van sy soort in Suid-Afrika.

Akkommodasie

As jy ná die heerlike proe-ervaring nog nie wil huiswaarts keer nie, loer gerus na dié oornagplekke in die omgewing:

Dirt Trail Lodge | Knorhoek Guest House and Wines | Angala Boutique Hotel and Guest House


Nougat – J.C. Le Roux

Vonkelwyn het nog altyd ’n luukse konnotasie gehad! J.C. Le Roux se bekoorlike proelokaal bied ’n unieke ervaring waartydens jy vonkelwyn en MCC saam met handgemaakte nougat kan proe. Al het J.C. Le Roux ’n groot internasionale mark, bly hulle steeds eg Suid-Afrikaans en produseer soeter vonkelwyn vir die plaaslike mark. As jy graag hiér ’n draai wil kom maak kan jy uitsien na die nuwe Vibrazio-reeks wat deel van die proe-ervaring is. ’n Gewilde kombinasie is die Vibrazio Sauvingnon Blanc saam met die donkersjokolade-nougat, maar die La Fleurette en witsjokolade-nougat met ’n bessie-geur is definitief die algehele gunsteling. Jy sal beslis uitmis as jy dié smaaklike ondervinding misloop!

Koste: R105 per persoon
Tye: Maandae tot Vrydae 09:00 tot 17:00, Saterdae 10:00 tot 15:00 en Sondae 10:00 tot 14:00
Wat sluit dit in? 5 handgemaakte nougats saam met 5 vonkelwyne
Tel: 021 865 8200
E-pos: info@jcleroux.co.za
Kindervriendelik: Kinders is welkom, maar daar is nie ’n toegewyde speelarea nie. Tydens spitsseisoen reël hulle wel vermaak vir die kinders.

Pretfeit

Dié instansie is die eerste wynkelder wat slegs vonkelwyn produseer en aanhou daarmee. J.C Le Roux wou eers sjokolade saam met die vonkelwyn bied, maar het toe nougat gekies vir ’n meer unieke en geurige ondervinding. Hulle het ook in 1985 die eerste Pinot Noir MCC geproduseer.

Akkommodasie

Kan jy jouself nie uit die Stellenbosch-omgewing wegskeur nie? Kyk gerus na dié plekke waar jy jou kop kan gaan neerlê:

Domaine Coutelier | Devon Valley Hotel | Sugarbird Manor 


Biltong – Stellenbosch Hills

Stellenbosch Hills is die eerste wynkelder wat die biltong- en droëwors-avontuur aanpak. Dié spesifieke wynproe verseker ’n eg Suid-Afrikaanse ondervinding vir die palet. Die wynproe sluit 6 Stellenbosch Hills-premiumwyne in met spesifieke gedroogte vleis wat ’n wenresep verseker.

 

Koste: R65 per persoon
Tye: Maandae tot Vrydae 09:00 tot 17:00, Saterdae 10:00 tot 15:00, Sondae en openbare vakansiedae is gesluit.
Wat sluit dit in? ’n Verskeidenheid biltong en droëwors saam met 6 wyne.
Tel: 021 881 3828
E-pos: info@stellenbosch-hills.co.za
Kindervriendelik: Nee, die wynproe word binnenshuis gedoen. Daar is wel ’n grasperk by die deli.

Pretfeit

Die wynmaker, James Ochse, is gaande oor die gerookte beesbiltong saam met die Stellenbosch Hills Shiraz. Hy geniet die rokerige note wat in die wyn voorkom sowel as die biltong wat mekaar komplementeer. Die speserygeure wat jou smaakkliere net so effens byt, maak dit ’n wenkombinasie.

Akkommodasie

Het jy vergeet om jou glasies te tel? Kyk bietjie hier vir verblyf in die omliggende area:

Stellenbosch Self-catering Cottage | Apple Tree Guest House | Vredenheim Guesthouse


Sjokolade – Lanzerac

Lanzerac skuil in die Stellenboschvallei waar die Pinotage sy oorsprong gehad het. Op koue winterdae kan jy Lanzerac se premium-wyne saam met gekose sjokolade voor die kaggel in hulle indrukwekkende proelokaal geniet. Die sjokolade is handgemaak deur een van die voorstaande sjokolade- en wyn-paringspesialiste. Elke sjokolade word gemaak om by ’n spesifieke wyn te pas volgens die wyn se aromas, geurprofiel en die spesifieke oesjaar.

Koste: R120 per persoon
Tye: Maandae tot Sondae 09:00 tot 16:30
Wat sluit dit in? 5 handgemaakte sjokolades saam met 5 wyne.
Tel: 021 886 5641
E-pos: winetasting@lanzerac.co.za
Kindervriendelik: Nie op die oomblik nie, maar daar is ’n grasperk by die deli.

Pretfeit

Die sjokolades word so gemaak dat dit vinnig in jou mond sal smelt ─ dit komplementeer nie net die wyn nie, maar beklemtoon ook sekere komponente in die wyn. Sekere geure fokus op die aromas, terwyl ander langer op die palet bly.

Akkommodasie

Wil jy eerder bly as ry? Loer bietjie na dié verblyf wat stapafstand vanaf Lanzerac is:

Studio Apartment | At Home in MostertsdriftJonkershoekweg Tuinwoonstel


Pizza – Brenaissance

Brenaissance bied ’n onverstoorde uitsig oor die skilderagtige Devonvallei terwyl jy ’n unieke pizza- en wynproe-geleentheid geniet. Hulle heerlike dundeeg-pizza word in ’n houtoond gebak en dra by tot ’n geurige ondervinding. ’n Paar ligte geurkombinasies wat jy kan verwag sluit ’n Sauvignon Blanc saam met ’n gekarameliseerde uie-pizza of ’n Chardonnay saam met ’n parmaham-pizza in. Vir die rooiwyn-liefhebbers is daar Merlot saam met ’n biltong-pizza en die Shiraz saam met ’n Cajun-hoenderpizza wat ’n heerlike speserygeur deur jou mond laat spoel.

A post shared by Lutie Van Den Berg (@luttti) on

Koste: R200 per persoon
Tye: Maandae en Dinsdae gesluit, Woensdae en Donderdae 11:00 tot 21:00, Vrydae en Saterdae 11:00 tot 22:00 en Sondae 11:00 tot 17:00. In die winter en in die somer verskil die tye. Hou asb. hul webtuiste dop.
Wat sluit dit in? 4 stukkies pizza saam met 4 wyne
Tel: 021 200 2644
E-pos: eat@brenaissance.co.za
Kindervriendelik: Ja, daar is ’n toegewyde speelarea vir die kinders. Daar is ook peuselhappies op die spyskaart vir die kinders en genoeg plek vir hulle om te baljaar.

Pretfeit

Twee van die wyne in die pizza- en wynproe is vernoem na die twee eienaars, Tom en Haley Breytenbach. Brenaissance en J.C Le Roux is naby mekaar geleë as jy nie net hier wil stop nie.

Akkommodasie

Het jy nog nie genoeg gekry van Brenaissance nie? Jy kan ook oornag op dié bekoorlike landgoed:

Brenaissance Wine and Stud Estate

Of oorweeg ’n oornagplekkie in die omliggende area:

Bokmakierie’s Rest | Andria’s Guest Flat


Makrolletjie – Blaauwklippen

Jy sal Blaauwklippen langs die R44 teen die pragtige Stellenboschberghange kry. Hiér kan soettande die heerlike kombinasie van geurige makrolletjies saam met wyn geniet. Die wynmaker en sjef het koppe bymekaar gesit om te kyk watter smake die beste geure in mekaar uitbring.

A post shared by Marlene van As (@marlene88) on

Koste: R135 per persoon
Tye: Maandae tot Sondae en openbare vakansiedae 10:00 tot 17:00
Wat sluit dit in? 5 handgemaakte makrolletjies saam met 5 wyne
Tel: 021 880 0133
E-pos: tasting@blaauwklippen.com
Kindervriendelik: Ja, daar is ’n klimraam vir kinders. Jy kan ’n informele wynproe buite geniet vanwaar jy die klimraam kan sien.

Pretfeit

Een van die plaas se legendes, Dirk Wouter Hoffman, het klaarblyklik die herehuis vir sy 22 kinders gebou. Cecil John Rhodes het die plaas in 1899 gekoop, maar dit bly steeds ’n raaisel waarom hy die plaas binne een dag weer verkoop het.

Akkommodasie

Wil jy langer in die wynlande vertoef? Loer dan na dié oornagopsies:

Aan De Vliet Guest House | Rest @ Chabivin Vineyard Studio | Viettz Suite


Klink dié geurige wynproe-kombinasies vir jou na ’n wenresep? Maak dan dié winter ’n draai op ’n Stellenbosch-wynplaas en verdryf die koue met topwyn en peuselhappies uit die boonste rakke! Jy kan ook snoesig in die omgewing oornag as jy die Stellenboschvallei verder wil verken. Nou toe, waarvoor wag jy!

Hooffoto: Webersburg Estate (LekkeSlaap)