Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Karoo

+12

Beskrywing

Daar is dele in die Karoo wat so verlate is dat net 'n windpomp langs die pad verklap dat hier al mense was. Wanneer jy wel verby iemand op 'n donkiekar, fiets of bakkie ry, word daar vriendelik vir jou gewaai. Net soos die plante is hierdie mense endemies aan die area, jy gaan hulle nêrens anders raakloop nie. Tussen die niksheid en ongerepte landskap lê daar 'n menslikheid. In die Karoo se stilte is dit net jou gedagtes wat jou kan pla, en tussen die nimmereindigende vlaktes en dorpies wat op genade oorleef, besef jy dat skoonheid en sielsrus in die eensame landskap opgesluit is. Kom beleef die Karoo se gasvryheid en Vryheid saam met LekkeSlaap, jy gaan gereeld wil stop – vir 'n nagrus in 'n kliphuis, 'n hartlike lamsgereg of om maar net stomgeslaan voor 'n sonsondergang te staan.

Die langpad tussen Johannesburg en Kaapstad strek vir honderde kilometers deur die Karoo-landskap, maar mens is dikwels so haastig dat jy net platgedrukte koppies sien verby flits. Draai af en klim uit die kar – jy sal te voet die ware skatte van die Karoo leer ken. Hier is meer as 6000 plantspesies in die Karoo, waarvan die helfde nêrens elders gevind sal word nie. Die bossies dra krone van piepklein blommetjies, fossiele is versteen in klip en rots en hier en daar word jy verras met 'n groen boom wat hardekwas in die droogte oorleef. Hierdie wêreld lyk van ver af dor en vaal, maar tel 'n klippie op en sien die verskillende kleure wat daarop pryk. Die Karoo het veelsoortige natuurtonele – van die oopgestrekte vlaktes in die noorde tot die bergagtige dele in die suide. Verken die diverse natuurskoon met 'n vakansie in een van die sewe nasionale parke – Mountain Zebra, Camdeboo, Karoo, Tankwa Karoo, Namakwa, Mokala en die Richtersveld Nasionale Park.

Wanneer jy jouself in die hartjie van die Groot Karoo bevind, voel jy nie verniet asof jy baie ver verwyder is van die stad se rumoer nie. Min mense besef dat die Karoo selfs groter is as Duitsland of Noorweë. Die streek strek oor meer as 40% van Suid-Afrika se oppervlak en lê in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat en Noord-Kaap. Die Karoo is opgedeel in klomp verskillende dele of streke. Elke Karoo-inwoner het 'n unieke naam vir 'n ander streek, maar die hoofstroom-verdeling is dat die Karoo in die Klein Karoo, die Groot Karoo (ook bekend as die Nama Karoo) en die Oos-Kaapse Karoo opgedeel kan word. Die Klein Karoo en die Groot Karoo word van mekaar geskei deur die Swartberge. Verder kan die Groot Karoo ook vaagweg verdeel word tussen die Tankwa Karoo in die suide, en die Hardemans-, Moordenaars- of Hantamkaroo in die noorde. Laasgenoemde name is al klaar 'n aanduiding van die aard van dié wêreld.

Ry vanaf die reënerige George, oor die Outeniekwapas na die Klein Karoo en word verras deur die kontrasterende landskap wat aan die ander kant wag. Die bome van die Tuinroete word vervang deur volstruise wat op die vlaktes loop, en jy moet mooi kyk om 'n waterspruit raak te sien. Reis op Roete 62 en verken rustig die Klein Karoo. Die eerste stop is Oudtshoorn – 'n plek van eerstes en avontuur. Na 'n avontuurtoer in die Kango-grotte kan jy vir eens en vir altyd jou manhaftigheid bewys deur op 'n volstruis se rug te ry. Hierna kort mens iets vir die senuwees en wat dan anders as Calitzdorp se bekroonde port en Barrydale se rustige atmosfeer. Roete 62 loop ook deur die Tradouwpas en hier moet jy stop om asem te skep tussen die rooi kranse. Nog 'n pitstop word vereis by die legendariese Ronnie's Sex Shop.

Weg van die vrugbare Tradouwvallei en anderkant die Swartberge, lê die uitgestrekte vlaktes van die Groot Karoo. Hier is daar nie noodwendig meer sprake van Outdshoorn se toerismebestemmings of Barrydale se versierde hoofstraat nie, maar jy gaan wel dikwels alleen op die pad wees – die beste medisyne ná 'n jaar van kantoorkoors en verkeersknope. Prins Albert is 'n pragtige dorpie wat veral belangstelling gelok het met KykNET se Kokkedoor-program wat hier verfilm is. Wanneer mens in Prins Albert rondloop, sien jy orals oulike Victoriaanse huisies. Na 'n warm bord kos in Prins Albert, wink die sterrebeeld van Sutherland. Pak maar 'n baadjie in want dié plek is in die wintermaande snerpend koud. Nog 'n dorpie wat een van die dae homself tot die buiteruim gaan toespits is Carnavon, waar 'n MeerKAT-teleskoop gebou word. Terug op die aarde kan jy gaan aanklop by die Blikkieskroeg en daarna aanbeweeg na die Doppieskroeg in Williston.

Die Oos-Kaapse Karoo het karakter en stories. Nieu-Bethesdae het nie 'n bank of 'n petrolstasie nie, maar wel 'n Uilhuis. Dié handewerk van Helen Martins en Koos Malgas is 'n werf vol sementbeelde. Hier is 'n misterieuse en onheilspellende atmosfeer wat oor die werf hang en na 'n besoek aan die vreemde plek kórt mens hartlike gasvryheid. Maak gerus 'n bespreking by Auntie Evelyn se eetplek, waar sy egte Karoo-disse by haar huisie kook, of gaan drink 'n drankie by die Ramstal. In Nieu-Bethesda word daar jaarliks oor die Kersgety 'n liggiefees gehou, waartydens kinders met lanterns deur die strate beweeg. In Cradock word daar ook vier jaarlikse feeste aangebied, insluitend die Visrivier-kanovaart. Vir 'n tikkie geskiedenis met 'n skop, moet jy gaan aanklop by die Graaff-Reinetklub, waar koeëlskote vanuit die Anglo-Boereoorlog nou nog in die mure gesien kan word. In Aberdeen kan jy dieselfde sien by die NG Kerk!

Die Karoo is droog, maar dit is deurweek met spookstories, gasvryheid en geskiedenis. 'n Karakter wat soos 'n vetplant hardkoppig op die vlaktes oorleef. Gaan op 'n vertoefreis deur die Karoo. Ontdek die pragtige klein dorpies wat onverwags agter 'n koppie verskyn en beleef die eensame paaie wat deur die landskap strek. Leer ken die plaaslike mense in 'n klein kroeg en lek jou lippe af vir egte Karoo-lam. Draai jou rug op die stad se gewoel en rus in die skoon lug – hier kry jy jou menslikheid terug.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Karoo te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Karoo te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.