Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Limpopo

+37

Beskrywing

“Ver van die stad, wil ek graag ry ... Daar doer in die Bosveld, daar wil ek bly. Daar doer in die Bosveld, daar's rus vir my. Deur heimwee gedrewe, daar wil ek lewe. In vreedsaamheid en stilte, gaan die tyd verby...” Siek en sat vir die stad? Limpopo se buitelewe en vars lug is die beste medisyne vir kantoor-koors. Hier kan jy groot wild en voëls kyk, 'n braaivuurtjie aansteek en luilekker die bosveldsonsondergang waardeer. Van die uitgestrekte vlaktes, die manjifieke Waterberge tot die noordelike Soutpansberge - die provinsie se natuurskoon maak dit die ideale wegbreekplek. Limpopo is ons land se poort na Botswana, Zimbabwe en die Krugerwildtuin, en jy kan jou paspoort saambring as 'n behoorlike avontuur in Afrika jou roep. Maar raak vir eers rustig in die skadu van 'n mopanie, en kom bly saam met LekkeSlaap in die Bosveld.

Die Waterberge, geleë in die suidweste van Limpopo, was een van Eugene Marais se geliefdste plekke. Hier het hy jare lank termiete en bobbejane bestudeer, en wetenskaplikes en lesers is deur sy werk aan die pragtige omgewing en natuurlewe blootgestel. Dit is daarom geen toeval dat Marais as die seun van die Waterberge beskryf word nie. Hier kan besoekers tot vandag die natuur verken en bewonder. Die Waterberge spog met indrukwekkende rotsformasies, die Groot 5 en San-rotstekeninge, en dit is Suid-Afrika se enigste UNESCO-grasvlakte-biosfeer. Buiten die asemrowende natuurbeelde, is daar ook uitstekende bergfiets- en staproetes. LekkeSlaap bied ook akkommodasie in die Mapalingwe-, Mabula- en Marakele-natuurreservate. Laasgenoemde het die grootste Cape Griffons-aasvoëlkolonie in die wêreld! Kom vind jou saligheid in 'n selfsorg-klipkothuis, boskamp of 'n luukse vyfster-lodge, alles in die mooiste omgewing.

Mapungubwe Wêrelderfenisgebied is Suid-Afrika se verlore stad van goud. Dit was 'n duisend jaar gelede die grootste koninkryk in die subkontinent, en hier is handel gedryf met ware van so ver as China en Indië. Buiten die ryk geskiedenis van hierdie streek is daar ook 'n indrukwekkende verskeidenheid plante en dierspesies. Nuuskieriges kan die Mapungubwe-natuurreservaat in die noorde van Limpopo besoek. In die ooste van Limpopo lê die Mopani-distrik, wat ongeveer strek vanaf die Soutpansberg tot by die Blyderiviercanyon. In dié streek lê die Vallei van Olifante, Phalaborwa, Tzaneen en Hoedspruit. Die omgewing het 'n asemrowende natuurskoon van natuurreservate, riviere en dramatiese bergreekse en bied aan reisigers 'n ongerepte blik op Afrika se skoonheid. In die Mopani-distrik kan jy die oudste kremetartboom in die land sien, en die bekende Amarula-likeur proe.

Limpopo spog met pragtige en prettige dorpies. Bela-Bela (voormalig Warmbad) is geleë in die suide en vanweë sy ligging langs die N1, is dit 'n gewilde dorpie om te oornag of vir 'n naweek te bly. Bela-Bela beteken “kook kook” in Tswana, wat verwys na die dorpie se warmwaterbronne. Die warmbaddens was eeue gelede deur die plaaslike mense as 'n geneesmiddel gebruik, maar deesdae is dit 'n bron van vermaak en ontspanning. In Bela-Bela is talle oorde en reservate waar kinders hulle in die waterkaskenades kan verlekker. 'n Ander skattige Laeveld dorpie in die ooste van die provinsie is Hoedspruit. Stop gerus in Hoedspruit as jy op pad is na die Krugerwildtuin. Hier is klomp oulike eetplekkies soos The Hat and Creek-restaurant, en 'n egte Italiaanse restaurant genaamd Cala La Pasta. Gaan ondersteun gerus die Hoedspruit Endangerd Species Centre, waar wilde diere en veral jagluiperds gerehabiliteer word, of die Kamai-reptielsentrum waar bewaringsbewustheid gekweek word.

Polokwane is die hoofstad van Limpopo en bied aan besoekers verskeie restaurante, galerye en museums. Reisigers wat belangstel in geskiedenis en kultuur kan gerus die Irish House besoek, 'n winkel in Victoriaanse-styl wat die verskillende kulture van die omgewing uitbeeld. Kry 'n blik op die lewe van 'n Voortrekker by die Arend Dieparink-museum in Mokopane (suid van Polokwane) en waardeer plaaslike kunswerk by die Polokwane-kunsmuseum in die bibiolioteek se tuine. Die Britte het gedurende die Anglo-Boere Oorlog 'n konsentrasiekamp in Polokwane gestig, en besoekers kan by dié konsentrasiekamp se begraafplaas die vrouens en kinders wat gesterf het gedenk. Avontuurlustiges kan 'n potjie gholf gaan speel by die Polokwane Gholfklub: die fooitjie is nie net begrotingsvriendelik nie, maar jy speel ook op 'n unieke 18 putjie-gholfbaan wat al vir 150 jaar bestaan. Wanneer Polokwane se stadsgevoel te veel raak, kan jy by die Ranch Hotel saam met leeus gaan stap en die Arend Dieparink-museum besoek.

Trap in die spore van die Voortrekkers en Eugene Marais, en ontdek die skoonheid van die bosveld in Limpopo. Dit is die ideale naweek-bestemming vir Gautengers, en Kapenaars kan vir hulle volgende vakansie 'n reis beplan om Suid-Afrika se noordelike natuurskoon te ervaar. “Ver van die stad, wil ek graag ry. My hart verlang na rustigheid, laat my dwaal oor velde wyd ...” Kom vind jou rusplekkie in Limpopo saam met LekkeSlaap.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Limpopo te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Limpopo te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.