Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Natal Midlands

+8

Beskrywing

'n Plek waar golwende heuwels en plattelandse rus mense inspireer om kunswerke te skep. Dit is 'n unieke bestemming, wat besoekers dikwels vaagweg herinner aan die Engelse platteland, of 'n Hobbits se fiksionele blyplek. Maar die Natalse Middellande is eie aan Suid-Afrika. Die Midlands Meander word as ons land se enigste handwerk- en kunsroete beskou en hier wag meer as 150 kunstenaars om jou te verwelkom met hulle handgemaakte goedere en lekkernye. Behalwe vir die talle kunswinkeltjies, eetplekkies en padstalle, is daar ook pragtige natuurtonele en kostelike dorpies. 'n Vakansie in die Natalse Middellande het genoeg aktiwiteite vir die kinders, opwinding vir die tieners en rus vir die ouers. Onthou net dié wêreld is platteland, so kom wandel kronkelend in die binneland teen 'n rustige pas. Behalwe as jy aan die Comrades Marathon deelneem ....

Avontuurlustiges stroom (hardloop of roei) na die Natalse Middellande, want hier word die grootste sportbyeenkomste gehou. Die Meneer van alle padwedlope, die Comrades, skop af in die kontrei en dit is die wêreld se oudste en grootste ultra-marathon. Dapper drawwers pak 'n stewige 90 km aan, en jy kan ook een van hulle wees. Die Comrades is egter nie die enigste kroonjuweel van sportgeleenthede nie, die wêreld se grootste oopwatergala, die Midmar Mile, vind ook jaarliks naby Pietermaritzburg plaas. Die oudste kanowedvaart in Afrika en een van die moeilikstes op die internasionale kalender is die Dusi-kanovaart, en deelnemers roei tussen Pietermaritsburg en Durban. Span jou kragte, stel jou langtermyn-doelwit, en strek jou spiere in die Natalse Middellande. Indien jy eerder rus en vrede verlang, kan jy altyd lyn natmaak in een van die talle waterbronne.

Die Natalse Middellande strek van ongeveer Pietermaritzburg na Mooirivier, met oulike dorpies en pragtige natuurtonele tussen-in. Howick is die hart van die Natalse Middeland en dié omgewing het eindelose aktiwiteite in elke kleur en geur. Besoek die Howick-watervalle wat in Zulu bekend staan as KwaNgquza of “plek van die lang een.” Die Howick-watervalle is geleë in die Umgeni-natuurreservaat wat ook die huis is van kamele, seebras en verskillende bokke. Voëlkykers sal behoorlik in hulle noppies wees met die diverse verskeidenheid voëlspesies wat in hierdie omgewing voorkom. Vir 'n smakie kuns en geskiedenis, kan jy na die plek gaan waar Mandela inhegtenis geneem is (buite Howick op die R301). Vandag is daar 'n unieke kunswerk deur Marco Cianfanelli van Mandela se gesig wat gevorm word deur 50 staalpype en perspektief – 'n aansluiting by die kunssinnigheid van die Midlands Meander! In die Ooste van Howick (oorkant die N3) lê Dargle, waar 'n stop by die Piggly Wiggly Country Village 'n absolute moet-doen is. Jy kan put-put speel, jou eie keramiek bakkies maak of 'n kers versier. Nadat jy inkopies gedoen het by die talle winkeltjies en jou maag begin grom sal 'n piekniekmandjie dadelik 'n lafenis bied. Tussen Howick en Notthingham Road is die Balgowan-vallei. Alhoewel die dorpie self nie veel meer as 'n handelspos is nie, het die omliggende omgewing steeds die winkeltjies en gallerye waarvoor die Middelland so bekend is. Gaan maak gerus 'n draai by Fran Isaac se Swissland Cheese-winkel, waar vet bokke luilekker op die gras heuwels wei, en mense van heinde en verre kom om die bekende kaas te proe. Die gesogte Michaelhouse is ook in die kontrei. Die pragtige skoolgeboue is gebou in 'n Engelse gotiese styl en die kapel is oop vir die publiek.

Noordwaarts sal jy die Nottingham Road aantref – 'n ware plattelandse wegbreek wat pragtige groen plase, damme en spogakkommodasie bied. Jy kan 'n potjie gholf speel, die landskap vanaf 'n perd se rug waardeer en hengelaars kan lynmaak in een van talle forelplase. Wanneer jou keel droog is kan jy dit natmaak met een van die biere wat in hierdie omgewing gestook word. Daar is 'n bierbrouwery by Rawdon's Hotel en die Notthingham Road Brewing Company produseer vier heerlike biertipes. Drink 'n drankie by die legendariese Notthingham Road Hotel, of Notties, 'n plek wat volgens gerugte spook! Nottingham Road is 'n plek wat dikwels vergelyk word met die Engelse platteland vanweë die landskap, maar dit is ook 'n kontrei waar die mense trots is op hulle Suid-Afrikaanse gasvryheid en rustige lewensuitkyk.

Die beste manier op die Natalse Middellande te leer ken is om op die Midlands Meander webtuiste 'n kaart van die omgewing af te laai. Die verskillende roetes en al die winkeltjies word op 'n uiters gebruikersvriendelike manier uitgebeeld, en die kaart word ook jaarliks opgedateer. Bespreek langs die pad 'n rusplekkie by LekkeSlaap, ons het die beste akkommodasie in die area alles op een plek! Kom kuier luilekker in die Middellande saam met LekkeSlaap en beleef 'n plattelandse wegbreek.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Natal Midlands te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Natal Midlands te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.