Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Northern Cape

+9

Beskrywing

As jy moeg is vir die lewe in die stad, reis deur nimmereindigende vlaktes op 'n Noord-Kaapse grondpad. Wanneer jy 'n sug van verligting in die skoon lug uitblaas, gaan jy jou dorpshuis permanent wil verruil vir 'n skaapplaas. Jy gaan in die stille aand na die sterre kyk en sien dat die hemelbeeld soos die ingangspoort tot die heelal lyk. Jou siel sal rus vind in die Noord-Kaap se stofpaaie, aardse mense en unieke natuurskoon. Dit is Suid-Afrika se grootste provinsie met die kleinste bevolking, wat beteken dat daar dikwels geen mens in sig is op die langpad nie - tussen die Namakwaland en die Kalahari lê daar 'n ongerepte landskap wat skoonheid in eenvoud en Vryheid in eensaamheid bied. LekkeSlaap vat jou hand en lei jou oor die Karoo se rand en as jy terugkom sal jy vir ons kan sê waar die Boesmanland lê.

Die meeste Suid-Afrikaners se ervaring van die Noord-Kaap is beperk tot 'n paar verbygaande flitse op die N1, maar hierdie lang pad loop net deur 'n klein hoekie van dié enorme provinsie.Kimberley se Groot Gat is een van die Noord-Kaap se grootste besienswaardighede. Plaaslike inwoners bespiegel dat hierdie afgetrede myn die grootste mensgemaakte gat ter wêreld is, maar internasionale kenners stem nie saam nie. Titel of nie, dit is 'n besoek werd. As jy die Noord-Kaap se vreedsame verlatenheid werklik wil beleef, moet jy die gebaande weë verlaat en wes van Colesberg en Kimberley reis. Maak jou keel nat by 'n bar op De Aar en gaan kyk of Elvis in Niekerkshoop bly, want Zinkplaat sien hom saans in die strate dwaal. Toer na die hart van die Hardemanskaroo en gaan maak 'n draai by Williston. Die volgende dag kan jy mik vir Sutherland, maar hier moet jy wag tot sononder om die helder sterrehemel te aanskou. Maar onthou jou warmjas in die winter - Sutherland is die koudste plek in die land.

Nadat jy jouself en saligheid in die Groot Karoo se eindelose vlaktes gevind het, moet jy noord reis na die Groen Karoo langs die Oranjerivier. Na kilometer op kilometer op die penreguit R27, verskyn die groen strook langs die Oranjerivier soos 'n oase op die horison. Ontdek die kokerbome wat hier groei en al jare lank geduldig pose vir foto's en kampeer by een van die talle kampeerterrein langs hierdie rivier wat die natuurlike grens tussen Suid-Afrika en Namibië vorm. Om op die Oranjerivier te roei is 'n onvergeetlike ervaring waartydens avontuurlustiges begroet word met pragtige uitsigte oor die vreemde, dorre berge wat langs die waters waak. Die Noord-Kaap is bekend vir sy droogtes, maar in die Augrabies-nasionale park is daar 'n waterval wat soms só raas dat dit klink asof hy vir die waterskaarste in die res van die streek wil vergoed. Die Khoisan het die waterval oorspronklik “Aukoerebis” gedoop, wat beteken “plek van groot geraas.” In dié park kan jy ook 'n springbok, klipspringer en dwergvalk tussen die klowe gewaar.

Moenie te haastig wees as jy die klowe en natuurskoon van Augrabies groet om Wes-Kaap se kant toe te ry nie. Wees geduldig en vertoef in die omgewing tot Septembermaand, wanneer die Namakwaland se droë vlaktes omskep word in 'n wêreldbekende veldblomtuin. Gaan wag vir die blommeprag in Port Nolloth, 'n dorpie sonder verkeersligte en -knope. Port Nolloth is aan Suid-Afrika se Weskus geleë en alhoewel dit 'n lekker visvangplek is, is dit die teenpool van 'n tropiese bestemming. Skeepswrakke bibber in die Atlantiese Oseaan se yskoue water, die Strand bestaan uit klippies en soggens hang daar 'n digte miswolk oor die dorpie. Nadat die vissersdorpie in jou hart gekruip het en jy kennis gemaak het met die Namakwaland, kan jy suidwaarts mik. Maak vir oulaas 'n draai in Loeriesfontein, al is dit net om in die hotel se kroeg te sit en luister na 'n Namakwalandse oom wat 'n storie vertel – hierdie kontrei se storievertellers is net so legendaries soos die veldblomme. En moenie vergeet om 'n draai te maak by die Windpompmuseum nie, die kleinspan/jongspan sal mal wees daaroor.

Breek weg van die stad se gejaag en geraas en reis na die Noord-Kaap. Gaan kyk waar begin Boesmanland en die ou Kalahari. Daar is min plekke in die wêreld wat nog só ongerep is en sulke asemrowende eenvoud bied. Ontdek die dorpies en die vlaktes saam met LekkeSlaap!

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Northern Cape te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Northern Cape te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.