Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

East London

+12

Beskrywing

Daar waar die Sonskynkus en die Wildekus ontmoet, tussen die Nahoon- en Buffelsrivier, word reisigers deur die lekke Oos-Londen begroet. Dié polsende stad is geleë in die Oos-Kaap, 'n provinsie waar besoekers so tuis voel soos olifante in die Addo. Die lang sonskyndae, warm Indiese Oseaan en pragtige strande maak die omgewing 'n gewilde vakansiebestemming. Die aktiwiteite is volop: ontspan luilekker op die strand, trek jou tekkies aan vir 'n maraton of verken die museums! Of jy nou 'n inwoner is of slegs 'n reisiger wat deur ry – daar is iets vir almal in die kontrei. Kom ervaar die gasvryheid van die Oos-Kaap; ons sal seker maak dat jy lekke slaap!

Oos-Londen is die enigste rivierhawestad in Suid-Afrika en hier is die in- en uitvoer en vervaardiging van motorvoertuie 'n gróót storie. Die motorbedryf is Oos-Londen se grootste bron van inkomste, maar die stad raak ook al hoe meer gewild onder vakansiegangers. Buiten die lekker strande en ligging is hier ook 'n verskeidenheid winkelsentrums en museums. Die Oos-Londen Museum is nie net die trots van die stad nie, maar ook een van die merkwaardigste museums in ons land. Waar elders sal jy 'n Dodo-eier, 'n fossiel van 'n voetspoor en 'n verstopte dinosourus-vis onder een dak vind! Marjorie Courtenay-Latimer was 'n voormalige opsigter by die museum en baie van die fondse is te danke aan haar. Sy was die eerste persoon wat 'n dooie coelancanth herken het, nadat daar vermoed is dat die vis al duisende jare gelede uitgesterf het. Van haar ouma se kant af het sy ook die enigste Dodo-eier in die wêreld geërf, alhoewel die egtheid van die eier gereeld betwis word.

Oos-Londen is geleë tussen die Sonskyn- en Wildekus, wat dit 'n uitstekende basis maak om die Oos-Kaap se natuurskoon te verken. Aan die een kant kry jy lewendige stranddorpies en aan die ander kant kry jy ongerepte strande. Oos-Londen se drie spogstrande is uitstekende plekke vir swem, branderplankry, kanovaart en hengel. Nahoonstrand is die gewildste strand en is een van die beste swem- en branderplankstrande in die land. Oosstrand is lekker sentraal en beskik oor goeie strandgeriewe, terwyl Orient Beach 'n glybaan en kindervriendelike swembad het. Die Oos-Londen-natuurreservaat is net om die draai en hier kan besoekers blouduikers, dassies, arende en selfs luiperds sien. By die Nahoonpunt-natuurreservaat kan jy na Bat's Cave kyk waar die oudste fossielvoetspore gevind is, of 'n lekker maaltyd geniet by die Footprints Café.

As jy vergeet het om jou tekkies in te pak, kan jy steeds opwinding en avontuur in Oos-Londen vind. Gaan kyk 'n krieketwedstryd by die bekende Buffalo Park, wat deesdae ook grappig in die volksmond bekend staan as die 'motorpark' vanweë Mercedes Benz se borgskap. Neem die kinders na die Oos-Londen Akwarium, wat 'n aktiewe rol speel in die bewaring van die Ooskus. Die akwarium se grootste aantrekkingspunt is 'n hoë dek vanwaar besoekers na walvisse kan kyk. As daar 'n walvis in die see gewaar word, wapper die akwarium se blou vlaggies wat mense uitnooi om te kom kyk. Wanneer die walvisse skaam is, kan jy steeds na die haaitenk of 'n robvertoning kyk.

Die bekende Standard Bank Ironman 70.3-kompetisie word jaarliks in Oos-Londen gehou, en lok atlete en toeskouers van regoor die land. Die 3000 deelnemers moet ál hulle spierkrag en uithouvermoë inspan om dié driekamp te voltooi. Tydens die kompetisie moet hulle 1,9 km by Orient Beach swem, 90,1 km oor die heuwels van Oos-Londen met 'n fiets trap en 21,1 km hardloop. Buiten hierdie bielie van 'n driekamp, vind daar jaarliks ook die Old Mutual Buffalo-maraton en die Washie-ultramaraton plaas. Vanweë die lekker strande en see is daar verskillende branderplankkampioenskappe wat op die Ooskus plaasvind – insluitend die wêreldbekende Billabong Pro Junior. Die aantal wedstryde en wedlope en die massas toeskouers wat dit bywoon is 'n duidelike aanduiding van die Oos-Londenaars se liefde vir sports en sport.

LekkeSlaap sorg vir al jou akkommodasie-behoeftes in Buffalo City. Ons het spog slaapplekke in al die voorstede – van selfsorg-eenhede tot gastehuise. Wanneer jy met 'n sakereis Oos-Londen besoek of vakansie hou aan die Ooskus sal ons seker maak dat jy lekke slaap!

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor East London te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in East London te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.