Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Free State

+28

Beskrywing

Grondpaaie kronkel deur die geel velde tot by die helderblou horison en bonkige cumuluswolke. Plek-plek word die landskap onderbreek deur 'n windpomp of kerk. 'n Sandstorm en sandsteenkrans verskyn onverwags. Wanneer die son sak, bloei die hart van Suid-Afrika, en 'n rooi skakering vlek die berge en grond. In die aand is die sterrehemel stil, maar biljoene jare gelede het 'n meteoriet, so groot soos Tafelberg, hiér neergestort. Oorlogsvelde en grafte getuig geluidloos van die klap van Mausers, en die klein dorpies fluister oor 'n diamant-verlede in die koue nag. Met sonsopkoms staan die boer al in die mielieveld of koringland, moerkoffie in die hand. Hy groet die Vrystaat met 'n vriendelike “môre, môre.” Hier glo die mense in genade. Kom ervaar die provinsie se menslikheid, geskiedenis en natuurskoon saam met LekkeSlaap.

Ses van Suid-Afrika se nege provinsies grens aan die Vrystaat, en dié provinsie word dikwels “Die Hartland” genoem. Bloemfontein is die hoofstad van die Vrystaat en die geregtelike hoofstad van Suid-Afrika. Hierdie stad staan ook bekend as die Rosestad te danke aan die duisende rose wat hier geplant is. By die Vrystaatse Botaniese Tuine in Bloemfontein kan besoekers tussen die blommeprag piekniek hou of een van die staproetes aanpak. Die meeste mense weet van Bloemfontein, maar die Vrystaat het talle ander dorpies wat 'n besoek werd is. Clarens is geleë in die ooste, en dié kunstenaarsdorpie bied 'n skilderagtige omgewing en eindelose aktiwiteite. In dié kontrei is daar nie 'n tekort aan avontuur nie, jy kan met jou roeiboot op die rivier stroomaf vaar of die landskap platry met 'n vierwielmotorfiets. Baie mense kuier by Clarens vir 'n naweek, en verleng die besoek sommer vir 'n onbepaalde tyd. In die noorde kan jy gerus gaan kuier in Parys - speel 'n potjie gholf en verken die skattige winkels in die hoofstraat.

Die Vrystaat spog met unieke en asemrowende natuurwonders wat in die vorm van rotsformasies en sandsteenkranse gestalte kry. Biljoene jare gelede het 'n meteoriet, so groot soos Tafelberg, in die noorde van die Vrystaat neergestort. Die groot slag het plooiberge uit die aarde gewring wat vandag as die Vredefortkoepel bekend staan. Dit is die grootste en tweede oudste impakkrater en as 'n soortgelyke meteoriet vandag die wêreld sou tref, sou meeste van die lewe op aarde tot 'n einde kom – die impak is gelykstaande aan meer as 'n miljoen atoombomme. Wanneer jy aan die een kant van die koppies staan, kan jy jou byna verbeel hoe die res van die heuwels soos golwe na die horison spoel. Hierdie wêrelderfenisgebied is nie net mooi om te aanskou nie, avontuurlustiges en bergklimmers sal al die staproetes en riviere ook waardeer.

Golden Gate is in die bergagtige Oos-Vrystaat geleë. Hier kan besoekers die skouspelagtige sandsteenkranse bewonder. Die park kry sy naam by die goue kleur wat die kranse kry wanneer die son ondergaan. Die bekendste van dié sandsteenrotste is die Brandwagrots wat trots oor die park uittroon en die begin van die Drakensberge aankondig. In die park is daar ook al fossiele van dinosourus-eiers ontdek, wat 'n nuwe betekenis gee aan die “Drakensberge.” Golden Gate is Suid-Afrika se enigste graslandpark, en daar word dikwels na die reservaat verwys as die “mini Serengeti.” Blouwildebeeste, elande, blesbokke, springbokke en sebras wei op dié grasvlaktes onder die wakende oë van arende en aasvoëls. Daar is ook verskeie staproetes wat na versteekte grotte, soos die Katedraalgrot lei. Drosters van die Anglo-Boereoorlog het lank terug in hierdie grot weggekruip.

Verken die Vrystaat se natuurskoon en sluit aan by 'n toer om meer van sy geskiedenis te leer. Mense wat noord van die Vrystaat bly kan die Riemland-roete aanpak wat Sasolburg, Heilbron, Petrus Steyn, Lindley, Arlington en Rosendal deurkruis. Hierdie pad loop verby oorlogsmonumente, wingerde en die pragtige Malotiberge. Die bergreeks kan ook bewonder word deur 'n toer vanaf Rouxville na Fouriesburg. Kapenaars kan die Vrystaat van die suide af verken en van Philippolis (net noord van Colesberg), deur Bethulie na Smithfield toer. Wanneer jy terug ry na Philippolis, kan jy altyd Springfontein om ry. Op hierdie suidelike roete kan jy die Konsentrasiekamp-monument besoek, die natuurskoon bewonder en betower word deur die bekoorlike, plattelandse dorpies. LekkeSlaap het prag-akkommodasie in die Vrystaat, van 'n gastehuis naby die Gariepdam tot 'n lodge in die Malotiberge. Beplan jou volgende vakansie in die Vrystaat, ons sal sorg dat jy lekker slaap terwyl jy jou batterye in hierdie provinsie se pragtige natuurskoon herlaai.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Free State te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Free State te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem