Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

West Coast

+5

Beskrywing

“Daar is net een plekkie, dis my plekkie daai ... Biscuits en biltong, ja ek is 'n Weskus klong ...” Dis 'n wêreld van vissermanne en gesoute vakansiegangers. As jy die wilde Weskus die eerste keer ontmoet, groet hy jou met 'n onopgesmukte voorkoms van vlaktes, fynbos en 'n yskoue see. 'n Ferm handskud met 'n growwe palm. Jy wonder waarom is daar al soveel liedjies gesing oor hierdie verlate aarde. En dan onverwags, soos 'n souterige rukwind, vang hy jou. Die Weskus se skoonheid van ongerepte strande en sy mense met hulle stories. Die belofte van 'n vangs as jy jou lyn natmaak, sy krewe en snoek en bokkoms. Sy eiesoortige natuurskoon en asemrowende sonsondergange, sy veldblomme wat die landskap oranje kleur. Die witgekalkte huisie wat eensaam langs die Atlantiese Oseaan rus. Iets binne jou vind aanklank by sy ongerepte wildernis. Kom saam met LekkeSlaap na die Weskus, en maak dit jou plekkie.

Die Weskus sluit die Swartland, Saldanhabaai, Bergrivier, Sederberge en Namakwaland in. Dit strek vanaf Malmesbury se koringlande na die ongerepte Tietiesbaai en die Sederberge se lemoenbome. Die hoofdorpe in die Weskus is Vredenburg, Saldanha, Malmesbury en Vredendal, en Langebaan is sonder twyfel 'n gewilde vakansiebestemming. In die lente is die Weskus Nasionale Park 'n skouspel van veldblomme, en Darling hou selfs 'n veldblommeskou. Maar onder die Weskus se oranje-en-blou oppervlak lê daar skeepswrakke, fossiele en stories. Kom luister na die legende van Sue Labuschagne wat dinamiet geskied het na 'n Duitse duikboot, of die diepseeduiker wat munte verruil het vir 'n huisie by die see. Gaan luister na die oeroue ontdekking van 'n voetspoor wat 'n vrou 117 000 jaar terug in die Langebaan Strandmeer gemaak het. Ja hier teen die Weskus is die oudste bewyse van mense wat kaalvoet-stap gevind en jy kan by die Weskus-fossielpark na 'n replieka van dié voetspoor gaan kyk.

Die Swartland is die ingang tot die Weskus. Dit is 'n uitstekende landskap vir fotograwe, veral in Septembermaande wanneer die geel koringlande ver strek tot witgesneeude berge en windpompe. Jaarliks word daar olyffees gehou in Riebeeck-Kasteel, 'n pragtige dorpie wat veral 'n gewilde bestemming is vir troues. Septembermaande vind die Swartland Landbouskou in Moorreesburg plaas, 'n opskop van langarmdans en 'n uitstalling van landbou-masjinerie. In Oktobermaande word daar makietie gehou by die Rocking the Daisies-fees buite Darling. Hierdie dorpie is 'n mengelmoes van aardse eenvoud en unieke kinkels, en sy mees bekende inwoner is ongetwyfeld Pieter Dirk Uys. Drink gerus 'n koppie tee by Evita se perron! Terwyl jy in die omgewing is, kan jy gaan kuier by Yzerfontein en sien hoe die Boggelrug-walvisse in die water baljaar, of binnelands vashaak by 'n wynkelder.

Die Weskus se Saldanha-streek is vir baie die ware hart van die Weskus, 'n plek van dutjies-dorpies, verlate strande en 'n gewilde strandmeer. Langebaan is geleë langs 'n strandmeer en is 'n uitstekende bestemming vir beide avontuurlustiges en laatslapers. Die strandmeer is die speelgrond van vissermanne, skippers en seilplankryers. Natuurliefhebbers kan die aanliggende Weskus Nasionale Park besoek en vir partytjieliefhebbers bied Club Mykonos 'n feestelike atmosfeer. Ervaar die ware Jakob by Jacobsbaai, 'n prentjiemooi dutjiesdorpie met witgekalkte huisies, stofpaaie en blomvelde. Hier kan jy dae lank op jou stoep sit en oor die Atlantiese Oseaan tuur, of uiteet by Steve Hofmeyer se Weskusplek-restaurant. Paternoster is ook 'n visserdorpie van ouds, hier rus kleurvolle bootjies en kliphuise langs die kus. Indien jy niks behalwe die roue Weskus wil sien nie, gaan maak 'n draai by Tietiesbaai.

LekkeSlaap spog ook met prag-akkommodasie in die Sederberge en Namakwaland, die boonste streek van die Weskus wat strek tot in die Noord-Kaap. Die Sederberg bied asemrowende berge en vrugbare valleie, en hier boer die mense met sitrus en rooibos. Trek jou tekkies aan en onderneem 'n staproete deur die Segerberg-wildreservaat, of pak jou sonsonbreel en gaan rus op die ongerepte strande van Elandsbaai en Lambertsbaai. Hierdie kusdorpe is ook uitstekende bestemmings vir hengel en kreefduik. Die Namakwaland distrik bied jaarliks (Augustus en September) 'n skouspel van veldblomme, en mens toer van ver om hierdie pragtige verskynsel te aanskou. Al langs die Weskus migreer daar ook in dié tyd walvisse, waarom kombineer jy nie die vrugbare binneland en die wilde kus tydens jou blomtoer nie?

Pak biltong en biscuits in 'n piekniekmandjie en reis deur die Weskus. Toer die prentjiemooi landskap van die Swartland en vat 'n pitstop in Darling. Gaan baljaar in die strandmeer van Langebaan en vind 'n lafenis vir jou siel in Paternoster. Eet aandete by die Muisbosskerm en slaap in Lambertsbaai. Ervaar die rustigheid van oopgestrekte vlaktes en ongerepte strande, terwyl jy kyk hoe die ontstuimige Atlantiese Oseaan woes teen die rotse breek. Voel hoe kraak die mosseldoppe onder jou skoene en ruik die soutseelug. Vind jou vrede in die vrugbare valleie van die Sederberge en proe die skoon bergwater wat langs die voetslaanpaaie vloei. Hierdie aarde is rou en mooi, ervaar die wille-Weskus deur 'n LekkeSlaap plekkie.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor West Coast te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in West Coast te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.