Jy sien al maande lank uit na die wintervakansie, maar hoe nader julle aan die bestemming kom, hoe harder reën dit. Jy voel hoe jou moed in die skoene sak wat jy nie gaan kan uitskop nie. In dié reën gaan jou kleingoed heeldag in die huis sit en tande tel (en op jou senuwees werk).

Te danke aan LekkeSlaap is dit beslis ʼn probleem van die verlede, want ons het 10 doendinge gaan opspoor wat sal sorg vir ure se pret, al reën dit katte en honde buite.

Daar is net 1 stap betrokke by die maak van hierdie lieflike, fluweelsagte klei wat die kleingoed vir ure sal besig hou. Dis baie maklik: Gooi enige hoeveelheid mielieblom in ʼn mengbak en spuit dan ongeveer dieselfde hoeveelheid skeerroom op dit. Meng dit lekker saam ─ die jongspan geniet hierdie deel vreeslik! Jy kan ook ʼn bietjie koekkleursel byvoeg as jy die klei kleurvol wil maak. En dis dit. Baie maklik en baie pret!

Ons almal weet hoe mal kinders daaroor is om borrels te blaas en te bars! Net omdat dit reën buite, beteken dit nie dat jou kleuters stil hoef te sit nie. Om jou ook kans te gee om jou skoene uit te skop, kan jy eenvoudig die waaier aanskakel en die borrelblaasstokkie voor die waaier hou. Dit sal tonne borrels blaas wat sal sorg vir baie vermaak.

Wenk #1 Ons het bevind dat die stokkies met meer as een gaatjie (soos in die foto hierbo) baie beter werk.

Wenk #2 As jy nie borrels gekoop het nie, kan jy maklik jou eie maak deur ʼn bietjie skottelgoedseep met water te meng.

Ons kan jou verseker dat hierdie spel nie jou vensters gaan breek nie. Neem eenvoudig twee papierborde en plak ʼn plastieklepel of roomysstokkie aan die agterkant van die bord vas om “tennisrakette” te maak. Dan blaas jy ʼn ballon op en daar is jou bal! Hierdie weergawe van tennis is baie veilig en geskik vir jonk en oud.

Gee jou kinders ʼn paar toiletrolle, ʼn skêr, kleeflint en bonsballetjies of albasters. Hulle kan nou die toiletrolle teen die muur rangskik om ʼn baan te skep waardeur die balletjie kan rol. Die toiletrolle word met kleeflint aan die muur vasgeplak, so dit kan voortdurend verander word om nuwe roetes te vorm. Hierdie spel is meer geskik vir ouer kinders wat reeds begin skoolgaan het.

Kry ʼn emmertjie vir elkeen van jou kinders en stuur hulle op ʼn kleur-skattejag. Vra byvoorbeeld vir hulle om soveel as moontlik geel voorwerpe in die huis te versamel. Dit sal hulle vermaak en jou die tyd gun om ʼn glasie wyn te geniet.


Vir hierdie spel sal jy die volgende benodig: 6 plastiekbottels, gekleurde kleeflint en ʼn balletjie. Eerstens moet jy 2 lang stroke kleeflint op die vloer plak om die baan te vorm. Neem nou die 6 plastiekbottels en pak hulle in ʼn driehoek aan die einde van die baan. Nou kan jou kinders die balletjie neem en kyk wie die meeste plastiekbottels met 1 balletjie kan omkry.

Wenk Gooi ʼn klein bietjie sand in die bottels om die spel ʼn bietjie moeiliker te maak!

Hierdie tuisgemaakte sand is maklik om te stofsuig en heerlik om mee te bou. Jy benodig: skoon sand (by troeteldierwinkels vir reptiele te koop, of gebruik seesand as jy nie anders kan nie), 3 koppies meel en 1 koppie olie. Meng al jou bestanddele saam dan het jy in ʼn japtrap lekker speelsand waarmee jou kinders vir ure lank kan woeker, sonder dat hulle buite in die koue hoef te speel.

Plak lang stroke gekleurde kleeflint in die deurkosyn om ʼn enorme “spinnerak” te vorm. Neem nou stukke koerantpapier en wys jou kinders hoe om dit in balle te frommel. Hulle moet nou probeer om die “balle” in die spinnerak vas te gooi sodat dit daar vasplak.

Neem ʼn groot A3- of A2-stuk papier en knip verskillende groottes gate uit om ʼn teiken vir papiervliegtuigies te maak. Plak nou die teiken in die deurkosyn sodat jou kinders kan kyk hoeveel keer hulle hul vliegtuigies deur die teikens kan gooi. Hoe kleiner die gat, hoe meer punte kan hulle daarvoor kry!

Maak ʼn lekker bak springmielies vir die jongspan. Nou kan jy die wenstreep met ʼn stuk gekleurde kleeflint op die vloer aandui. Gee vir elkeen ʼn strootjie en ʼn springmielie en vra hulle om te kyk wie dit eerste oor die lyn kan blaas (hulle mag glad nie met hulle hande aan die springmielie raak nie).

Met al hierdie idees om die kroos besig te hou, het jy nie nou meer ʼn verskoning nie. Reën of mooiweer, bespreek jou wegbreek sommer NOU!