Kyk, ons erken daar is beslis ’n tipe romanse en nostalgie aan reis met ’n oudtydse padkaart en ’n stapel reisgidse waarin jy alles van doendinge en besienswaardighede tot wild- en voëlspesies kan opsoek. Maar die Suid-Afrikaanse reisindustrie groei en moderniseer nou só vinnig dat jy byna glad nie meer effektief sonder ’n slimfoon aan jou sy kan rondrits nie. Daarom het ons besluit om amptelik die splinternuwe LekkeSlaap-app bekend te stel en jou sommer van ons ander gunsteling-reisapps in Suid-Afrika te vertel ─ kom reis slim saam met LekkeSlaap!

LekkeSlaap

Dis reg ─ LekkeSlaap het nou sy eie app sodat jy in ’n japtrap jou volgende wegbreek kan bespreek, of jy nou by die kantoor sit en dagdroom, of reeds die langpad aangepak het. Dink net hoe gerieflik dit gaan wees as jy gou vinnig ’n oornagplek langs die pad moet bespreek! Te danke aan ons meer as 20 000 blyplekke sal jy nie sommer sonder ’n dak oor jou kop wees nie.

Topfunksies: Verblyf regoor Suid-Afrika en Namibië bespreek, resensies lees, deur die spesiale aanbiedings blaai en jou gunsteling-blyplekke stoor.
Koste: Gratis
Laai dit af: Android | Apple


Africa: Live Safari Sightings

Dié app maak dit vir jou maklik om wild en foto’s van wild op te spoor en te deel wanneer jy in Afrika reis. Die aflynkaarte, wat deur parkdeskundiges ontwikkel is, wys jou presies waar die wild gewaar is, en werk selfs in parke waar daar geen netwerksein is nie. Die nuwe Phone Ranger-veldgids op die app bevat meer as 90 minute se oudio-kommentaar deur ’n ervare veldwagter.

Topfunksies: Wild opspoor en deel, aflynkaarte, Phone Ranger-veldgids met meer as 90 minute se oudio-kommentaar deur ’n ervare veldwagter.
Koste: Gratis
Laai dit af: Android | Apple


MyCiti

Besoek jy binnekort die Moederstad sonder jou eie vervoer? Of sien jy net nie kans vir parallel parkeer in die middestad nie? Dan is dié Kaapse vervoer-app jou antwoord! Die MyCiti-bus is die Moederstad se betroubare en bekostigbare busdiens wat nou sy eie app het sodat pendelaars en toeriste sonder moeite van een kant van die stad na die ander kan rondrits.

Topfunksies: ’n Roetebeplanner wat jou kortste roete outomaties op grond van jou huidige ligging bereken, ’n tariefsakrekenaar, punt-vir-punt-aanwysings, ’n funksie om jou MyCiti-kaart op die app te laai, ’n kaart van al die bushaltes en hoe om daar te kom, besonderhede oor busoorplasings, die aantal bushaltes op jou roete, bustye en opgedateerde kennisgewings indien enige veranderinge of versteurings plaasvind.
Koste: Gratis
Laai dit af: Android | Apple


Gautrain

Alhoewel die Gautrein self nie nuus is nie, het jy dalk nie geweet hy het nou óók sy eie app nie. Dié app help jou om jou Gautrein-profiel en -kaart te bestuur en jou reis te beplan sonder om eers die stasie te besoek. Daarom is dit ook gerieflik vir iemand wat nog nie heeltemal touwys is met die Gautrein se stasies en roetes nie. Dit kom natuurlik veral handig te pas as jy ’n sakereisiger is wat ’n vergadering in die Goudstad moet bywoon en nie tyd het om rustig te stop vir aanwysings nie!

Topfunksies: Registreer en bestuur jou Gautrein-profiel en -kaart waar jy geld kan oplaai, kaartjies aanlyn koop, jou kaarte bestuur en na vorige ritte kyk, asook ’n roetebeplanner wat jou die naaste stasie, treinskedule en totale koste van jou beraamde rit sal wys.
Koste: Gratis
Laai dit af: Android | Apple


Trail Guide South Africa

Dié roetegids is gemáák vir avontuurlustige bergfietsryers en voetslaners wat meer oor Suid-Afrika se beste roetes wil uitvind voor hulle in die pad val. Die idee daaragter is dat professionele berg- en avontuurgidse jou wys hoe om by ons land se mees skouspelagtige uitkykpunte en roetes uit te kom en wat jy langs die pad gaan nodig kry ─ is dít nou nie gerieflik nie!?

Topfunksies: Beskrywings oor roetes (moeilikheidsgraad, terrein, afstand, tydsduur en hoogtepunte), GPS-spore, foto’s, besienswaardighede, geriewe, tariewe, noodkontakbesonderhede, toerustinglyste, weervoorspelling, gunstelinge en selfs meer.
Koste: Gratis
Laai dit af: Android | Apple


VoiceMap

VoiceMap is soos ’n virtuele toergids wat jy oral saam met jou kan dra ─ dit tel jou ligging outomaties op wanneer jy die app oopmaak, en speel dan oudio-opnames deur skrywers, kundiges, uitsaaiers en plaaslike inwoners wat jou meer oor die omgewing of stad vertel. Al wat jy moet doen is jou app oopmaak, oorfone insit en luister soos jy rondwandel! Só kan jy teen jou eie pas rondtoer sonder om van ’n toergroep afhanklik te wees.

Topfunksies: Aflynkaarte, oudio-staptoere en ’n platform om jou eie oudiotoer saam te stel.
Koste: Gratis
Laai dit af: Android | Apple


Kids Aid

Dié noodhulpprogram vir kinders stel jou as ouer in staat om noodhulpinligting altyd byderhand te hê, waar jy ook al reis! Die app het stap-vir-stap-instruksies wat jou in ’n noodgeval sal help om jou kind of baba dadelik die nodige behandeling te gee om die mees doeltreffende resultate te kry, veral as jy ver van die huis en jou gewone hospitaal of huisdokter af is.

Topfunksies: ’n Interaktiewe platform wat die gebruiker begelei afhangend van die noodgeval, stembegeleiding vir KPR-gevalle (CPR), GPS-funksie wat die naaste hospitale uitwys, Suid-Afrika se relevante noodnommers wat jy direk van die app af kan bel, inligting oor opleidingskursusse wat deur EMT Suid-Afrika aangebied word, gedetailleerde videos van hoe om KPR toe te pas as ’n kind of baba verstik en raad vir hoe om legio ander noodgevalle te hanteer.
Koste: Gratis
Laai dit af: Android


Newman’s Birds of Southern Africa

As jy ’n kranige voëlkyker is of sommer net altyd nuuskierig is oor die tipe voëls wat jy gewaar wanneer jy reis, sal jy dié app waardeer. Dit is basies ’n nuttige voëlkykgids wat jou alles van elke voëlspesie in Suidelike Afrika vertel en selfs ’n klankopname van die geluid wat elkeen maak bevat. Só kan jy maklik ’n vreemde of nuwe voëlspesie opsoek met behulp van die identifiseringsfunksies wat die app bied. Ons gunsteling-deel van die app is dat dit selfs vir jou die algemene Afrikaanse voëlnaam bygee!

Topfunksies: ’n Lys van al 975 Suid-Afrikaanse voëlspesies met meer as 1300 illustrasies, meer as 1000 hoëgehalte-foto’s en meer as 800 voëlgeluide, ’n filterfunksie wat voëlspesies volgens huidige ligging, streek, grootte en kleur kategoriseer, ’n soekfunksie vir wetenskaplike en algemene voëlname in Engels en Afrikaans, ’n vergelykingsfunksie met kruisverwysings in spesiebeskrywings, verspreidingskaarte vir alle spesies en ’n stoorfunksie sodat jy ’n lys kan maak van voëls wat jy al gewaar het.
Koste: R239,99
Laai dit af: Android | Apple


Watter app gaan jy eerste aflaai?