Hierdie artikel is aanvanklik in JUIG! Tydskrif se April-uitgawe gepubliseer.

Springbokke bokspring oor die grasvlakte en ou Skillie suiker oor die grondpad om onder ’n kokerboom te gaan dut. Dis herfs in Namakwaland en die landskap het ’n bruin-en-kakie baadjie aan. Ná die winterreën sal dié vaal wêreld in ’n helderkleurige blomtapyt omskep word wat besoekers van heinde en verre lok – maar blommekyk is nie ál wat jy in hierdie omgewing kan doen nie.

Verruil die snelweg vir ’n 4×4-roete

As jy die gejaag op stadspaaie vir stofpaaie sonder selfoonsein wil verruil, is ’n 4×4-roete in die Namakwa Nasionale Park nét wat jy nodig het. Die Caracal 4×4-ekoroete is enige natuurliefhebber se droom en strek oor sowat 200 kilometer. Die roete neem ongeveer agt uur en jy word aangeraai om dit oor twee dae te voltooi aangesien dit nie ’n sirkelroete is nie. Omdat die roete hoofsaaklik uit grondpaaie en sandbanke bestaan, word ’n 4×4 aanbeveel.

Kyk oor die veld en klipkoppies uit

Die roete begin by die Namakwa Nasionale Park se Skilpad-kantoor waar jy ’n permit en roetekaart sal kry. Dis  wys om die vorige aand by SANParks Skilpad Rest Camp te oornag sodat jy douvoordag in die pad kan val. Vanaf dié ruskamp volg jy die steil pad af teen Kamiesberg via die Soebatsfonteinpas wat verby ’n uitkykpunt kronkel vanwaar jy ver oor die veld en klip-koppies kan uitkyk.

’n Wildkykparadys

Dié area is ’n wildkykparadys en talle springbokke, gemsbokke, steenbokke, klipspringers en rooihartbeeste word dikwels gewaar. Die roete slinger verby Kookfontein – ’n verlate nedersetting met ’n swemgat wat deur skaduryke palmbome omring word. Hierná moet jy die Swartlintjiesrivier oorsteek. Dié tyd van die jaar is dit maklik omdat die rivier hoofsaaklik ’n sandbank is, maar in die nat wintermaandekan jy jou rieme lelik styfloop.

Die roete draai noordwaarts tot in die Kamiesberg-heuwels waar jy om elke draai  vetplante, vulkaanrotse en massiewe klippe te siene sal kry. Die Wildeperdepas is volgende aan die beurt. Dié pas is in die laat 1800’s gebou om kopererts vanaf Springbok na Hondeklipbaai te vervoer. Ná die pas ry jy deur ’n grasvlakte, verby Riethuis en skaars fynbos.

Slaan kamp op by die kus

Teen dié tyd trek die son al water en aangesien die afdraaipad na Hondeklipbaai net om die draai is, kan jy in dié kusdorpie kamp opslaan. As jy egter nie die park wil verlaat nie en ’n voorsprong op die tweede skof wil kry, kan jy by SANParks Kwass Se Baai Coastal Camp Site, SANParks Koringkorrelbaai Coastal Camp Site, SANParks Skuinsklip Coastal Camp Site, SANParks Varswater Coastal Camp Site, SANParks Boulderbaai Coastal Camp Site, SANParks Bamboeskamp Coastal Camp Site of SANParks Delwerskamp Coastal Camp Site oornag.

Verken Groen-Spoeg-kusdeel

Jy sal selde só na aan die Skepping wees soos langs ’n knetterende kampvuur onder die Namakwalandse sterrehemel. Die volgende oggend mik jy suid om die Groen-Spoeg-kusdeel te verken. Buiten een fontein kom hier geen vars water voor nie en mis, wat deur die Benguelastroom veroorsaak word, voed die vygies en unieke plantegroei. Jy ry verder suid en bereik die Spoegriviermond waar waadvoëls en die bedreigde swarttobie voorkom. Die Spoegrivier-grot is ’n historiese landmerk en beslis ’n besoek werd. Argeologiese opgrawings van klipgereedskap, pottebakkery en skaapfossiele toon tekens van skaapboerdery meer as 2 000 jaar gelede.

Ongerepte duinveld en fossiele

Tussen die Spoegrivier en Bitterriviermond tref jy die ongerepte duinveld aan. Dié duine bestaan uit fyn, wit sand wat maklik deur die wind rondgewaai word. Dit skuif jaarliks vyf tot tien meter en ontbloot plante en fossiele uit die Steentydperk. Hierdie ekoroete eindig by die Groenriviermond – die soutste riviermond in Suid-Afrika en pelikane, flaminke en die Groenrivier-vuurtoring se tuiste.

Huiswaarts

As jy ’n gesoute kampeerder is, kan jy by SANParks Groen River Coastal Camp Site of SANParks Biesjiesfontein Campsite oornag voor jy huiswaarts keer, of die N7 tot by Skilpad Ruskamp terugneem.

Hooffoto: SANParke Varswater Coastal Camp Site (Foto: LekkeSlaap)

Al die foto’s is LekkeSlaap-instansies.