In Port Nolloth is daar onstuimige waters waar rus is. 

Port Nolloth is ʼn dorpie sonder verkeersligte en -knope, veiliger as enige stad. Dis ʼn plek waar mense mekaar nog op die naam groet en saam krieket op die soutpan speel. Die koue Benguela-seestroom sorg dat ʼn digte misbank ─ wat onder locals as die Malmokkie bekend staan ─ soggens soos ʼn kombers oor Port Nolloth lê. Maar buiten die digte mis, is die dorp se uiters matige klimaat óók ʼn seëning uit die see.

Foto: Gerald de Beer, Flickr.
 

Hierdie mistige baaitjie het sy eerste naam, Aukwatowa, by die Namas gekry. Dit beteken “waar die water die ou man weggeneem het”. Bartolomeus Dias het al in 1487 hierdie natuurlike, klein hawe aangeteken voordat ʼn woeste storm hom vir 13 dae van koers af gedryf het. Tog is dit eers in 1852, toe die Europese setlaars koper in Okiep begin delf het, dat Port Nolloth werklik tot stand gekom het om as uitvoerhawe vir die koper te dien. ʼn Smal treinspoor is na Port Nolloth aangelê om die koper na die kus te vervoer en vir die eerste 23 jaar is muile gebruik om die trein te trek ─ stel jou dit voor! Ten spyte van die hawe se tekortkominge is dit vanaf 1876 tot en met 1942 gebruik as uitvoerhawe. Maar na die ontwikkeling van die treinspoornetwerk is die koper later elders uitgevoer.

Daarna is Port Nolloth se hawe nie meer vir die uitvoer van koper gebruik nie, maar die ontdekking van diamante het gesorg dat die dorpie bly voortbestaan. By dié hawe kry ʼn mens werklik begrip vir die sukkelbestaan van dapper diamantduikers … rykdom en armoede, vooruitsig en verwoesting, mynbase en smokkelaars, en natuurlik die nukkerige Atlantiese Oseaan. Die see is so ongenadig dat diamantduikers nie meer as 6 dae ʼn maand kan duik nie. “Goeie seedae is maar redelik min,” vertel een van die inwoners. Gaan maak ʼn draai by George Moyses wanneer jy klaar is by die hawe. Hy het duskant die skeepshelling ʼn soort museum en uitstalling geskep wat sy persoonlike ervarings as diamantduiker en seeliefhebber vergestalt. 

Foto: Koos Jooste, Flickr. 

Hoewel die dorp se lewensbron uit die see kom, moet die inwoners maar hul stryd met die oseaan voortsit. Daar is amper altyd ʼn paar skeepswrakke op die strand ─ verder is die strand is ongerep en skoon, maar die water is snerpend koud. Net buite Port Nolloth sal jy McDougallsbaai aantref. Hierdie strand geniet Blouvlagstatus gedurende die somervakansie met lewensredders aan diens en skoon geriewe. Maar soos ek alreeds genoem het, noop die Atlantiese Oseaan se temperature nou nie juis toeriste om te swem nie.

Foto: Winfried Bruenken (Amrum), Wikimedia Commons.
 

Die naam van die strand in Port Nolloth self, Grazia de Beer-strandfront, het ook ʼn interessante storie. Grazia is in Italië gebore, maar later het sy ʼn diamantduiker genaamd Coen de Beer in Kaapstad ontmoet. In die tagtigerjare het hulle getrou en na Port Nolloth getrek. Grazia was ʼn vrou van formaat: Sy was amper soos die dorpie se eie, grasieuse Lady Di. Sy het die kollig op Port Nolloth gewerp en werklik geveg vir mens en natuur hier aan die kus. Ongelukkig is Grazia de Beer aan die einde van 2007 oorlede, maar sy sal voortleef in die gastehuis en museum wat sy gestig het en die strandfront wat na haar vernoem is.

As jy verder belangstel in hierdie sonderlinge plek se geskiedenis, is Port Nolloth se museum beslis ʼn besoek werd. Verder kan jy die Willem Koegelenberg Park besoek waar jy na die enigste oorblywende deel van die oorspronklike treinspoor kan kyk ─ die res van die treinspoor is in 1944 as afvalmetaal verkoop.

Foto: Sebastien Lafont, Flickr
 

Kom ervaar die Atlantiese Oseaan in al sy ongerepte glorie en raak saans aan die slaap met die veraf geluid van die klokboei wat “klang-klang” in die branders. Kom kuier saam met LekkeSlaap in Port Nolloth.

 

Hooffoto: Sebastien Lafont, Flickr.