Verbeel jou, ʼn wittebrood in die suide van Frankryk! Jy en jou liefie loop hand aan hand in die keisteenstraatjies rond ─ verby ʼn man met ʼn beret wat trekklavier speel ─ en loer in by ʼn café vir espresso en croissants. Dit klink ongelooflik, maar visums en verbindingsvlugte is ʼn droewe vooruitsig. Dis hoekom LekkeSlaap.co.za vir jou ʼn stukkie Frankryk gevind het, net ʼn uur se ry van Johannesburg af! By La Provence d’ Afrique kan jy die Franse wittebrood ervaar waarvan jy nog altyd gedroom het.

La Provence d’ Afrique is ʼn romantiese wegbreekplek in die Magaliesbergvallei. Die 7 unieke, Franse suites is in Charles Gotthard, die welbekende beeldhouer, se karaktervolle klip-ateljee geleë en die kunstige aard van die gebou dra nog verder by tot die romantiese, Franse atmosfeer. Elke suite is ʼn absolute lushof vir verliefde paartjies met ʼn Franse hemelbed, ʼn romantiese badkamer met ‘n Victoriaanse pootjiesbad, pragtige antiekmeubels en linne wat met die hand geborduur is.

Al die suites loop uit in die klein, Franse straatkafeetjie wat so outentiek is dat jy vir ʼn oomblik sal vergeet jy is in Afrika. Dis hier waar La Provence paartjies bederf met die knus warmte van twee kaggels en ʼn unieke feesmaal wat in mandjies voorgesit word, sodat gaste teen hul eie pas aan die disse kan smul. Drankies word uit die ou trokkie, wat omskep is in ʼn kroeg, bedien. Onder in die keisteenstraatjie waar die kaggelvure knetter, is daar drie groot leerbanke waar gaste lekker kan kuier en ontspan met ʼn glasie goeie wyn. Verder is daar ʼn klein binnehof met ʼn fonteintjie vir ekstra karakter ─ perfek vir intieme troues.

By La Provence d’ Afrique kyk hulle baie mooi na wittebroodpaartjies. Die wittebrood-suites is onderskeidelik genaamd La Passion, ʼn kamer met ʼn dieprooi-kleurskema, en La Petite Boudoir wat in ligblou en wit versier is. Die romantiese atmosfeer in die suites word afgerond met kerse, Franse musiek in die agtergrond en vars rose … La Provence is die ideale plek vir enigeen wat ʼn intieme troue of ʼn wittebrood met Franse flair wil vier.

As jy jou wittebrood in ʼn meer rustieke ruimte wil deurbring, is die Out of Africa-kothuise net vir jou. Dié 5 grasdak-kothuise is in die luisterryke tuin van meer as 2 hektaar weggesteek. Die kothuise is aan die oewer van die Bergrivier geleë, so paartjies kan lekker langs die kabbelende stroom gaan piekniek hou. Op sekere oggende sal gaste bederf word met ʼn ontbytmandjie wat langs die rivier geniet kan word.

Vir diegene wat uitsien na ʼn lekker pamperlangsessie het ons ʼn Zen-spa in die woud met ‘n uitsig oor die rivier. Daar is 2 terapeute wat spesialiseer in lyfmasserings, “hot stone”-masserings en Indiese hand- en voetmasserings.

Met al die bederfies wat jy op die perseel kan beleef, is La Provence d’ Afrique ʼn bestemming in eie reg. Tog is daar ook verskeie doendinge in die omgewing vir avontuurlustige paartjies. Gaste kan hulself verlekker in perdry-safari’s met opgeleide wildbewaarders, boomtoptoere, abseil- en rotsklimsessies, olifant-interaksies by die olifantpark en nog baie meer.

So, is jy reg om jou wittebrood te verruil vir ʼn Franse brood? La Provence d’ Afrique bied 2 pakkette aan wat pasgemaak is vir wittebroodpaartjies, doen asb. navraag daaroor met bespreking. Die wittebrood-suites sal jou beursie R3400 per naweek ligter maak (ontbyt ingesluit), die standaard-suites R3000 (ontbyt ingesluit) en die ongekunstelde Out of Africa-kothuise is beskikbaar teen R2498 (ontbyt ingesluit) per naweek.

As jy graag só ʼn wittebroodpakket wil bespreek, stuur asb. ʼn e-pos aan info@lekkeslaap.co.za en skryf “Mooi Troues: La Provence d’ Afrique” in jou onderwerpgleuf ─ ons sal jou enige tyd help! Of volg net dié skakel om aanlyn te bespreek.