Die Desember-vakansie is om die draai. Hier by LekkeSlaap weet ons dis moeilik om ’n honger gesin se mae vol te hou, veral met die oorvloed doendinge en hope vars lug wat ’n somervakansie vir die jongspan inhou.

Aangesien jy nie altyd beheer het oor die geriewe wat beskikbaar is wanneer jy in selfsorg-eenhede of ’n kampterrein bly nie, het ons vir jou ’n paar lekker vakansie-resepte versamel. En dan gee ons jou ook sommer ’n paar slim planne om jou etenstye ’n bietjie makliker te maak.

Dis ’n goeie idee om voor jou vakansie reeds ’n hele spyskaart uit te werk om seker te maak daar is elke dag iets anders om voor te sit, veral wanneer jy ’n groot gesin met honger tieners moet voer!

2_1

Een van die lekkerste dinge vir ontbyt is natuurlik beskuit. Dis iets wat jy vooruit kan bak en sodoende maak jy seker die kinders het vroegdag reeds iets in die lyf gekry.

Heerlike semelbeskuit:

Foto: Hanna van Heerden

Volg die volgende lekker resep vir bros, krakerige beskuit wat nie verkrummel nie. Dit is vol sade wat dit gesond én vullend maak. Dis genoeg vir sowat 100 stukke en sal jou gesin lank aan die kou hou.

Jy benodig:
500 g margarien
500 ml kookwater
250 ml suiker
4 x 250 ml bruinbroodmeel
4 x 250 ml semels
125 ml sonneblomsaad
125 ml klapper
30 ml bakpoeier
5 ml sout

Metode: Smelt die margarien in 100 ml kookwater. Smelt die suiker in die res van die water. Meng al die droë bestanddele saam en meng dan al die vloeistowwe by. Plaas dit oor in ’n bakplaat. Gebruik ’n eierspaan om dit plat te druk en lyne in die deeg te sny. Bak teen 180 ºC vir 30 minute en dan 160 ºC vir 20 minute. Breek dit in stukkies wanneer dit afgekoel het en droog uit teen 80 ºC  vir sowat 3 ure.

Plaatkoekies:

Dié resep is genoeg vir 4 mense, maar verdubbel dit soveel keer as wat jy nodig het vir jou gesin (aangesien dit so vinnig verdwyn).

Jy benodig:
2 koppies bruismeel
Sout
150 ml strooisuiker
2 geklitste eiers
300 ml melk
Olie (om in te bak)
(Jy kan ook ’n ½ koppie muesli byvoeg vir ’n gesonder opsie.)

Metode: Sif die meel, suiker en sout saam. Voeg melk en eier by. Meng met ’n houtlepel en skep in ’n verhitte pan (of skottelbraai). Keer dit om wanneer daar borrels oor die hele oppervlak begin vorm. Sit warm voor met stroop, piesang, heuning en kaas.

Aartappel-spek-en-sampioen-roerbraai:

Foto: Lise Beyers

’n Lekker aartappeldis kan maklik opgedien word vir ontbyt ─ of as ’n bykos saam met jou braaivleis! Dit is ook ’n lekker manier om die vorige aand se oorblywende gekookte aartappels te gebruik.

Jy benodig:
800 g aartappels, gekook, geskil en rofweg gesny
125 g blokkies spek
250 g sampioene
60 ml pietersielie, fyngekap
15 ml olie
sout en peper na smaak
60 g botter

Metode: Verhit die olie in ’n braaipan (of skottelbraai) en voeg die spek by. Laat dit vir 3 – 4 minute braai. Voeg die sampioene by en braai dit vir 5 minute lank. Roer versigtig die botter en aartappels by en laat dit heeltemal warm word. Voeg sout, peper en pietersielie by en bedien.

 3_1

Maak altyd seker jy pak ’n driebeen- of platboompotjie en gas-skottelbraai in. Sodoende is jy gereed vir enigiets en kan jy heerlike maaltye maak – sommer by die braaiplek of op die stoep. Van potjies en pasta tot potbrood en poeding.

Karoo-lamspotjie:

Foto: Lise Beyers

Jy het waarskynlik jou eie spesiale potjiekosresep, soos meeste Suid-Afrikaners, maar hier is ’n lekker Karoo-resep indien jy dit vir ’n slag wil probeer. Dié resep is  genoeg vir 4 tot 6 mense. Voorbereidingstyd: 40 minute. Kooktyd: 3 ure.

Jy benodig:
4 groot uie, geskil en gekap
4 eetlepels sonneblom- of olyfolie
4 teelepels medium kerriepoeier
1 teelepel gekneusde, droë naartjieskil
1 eetlepel gemaalde komyn
2 rooi brandrissies, fyn gekap
1 eetlepel gemaalde koljander
4 kerrieblare
4 lourierblare
600 g lamsnek of -skenkel, in blokkies of net gesny
1 suurlemoen se sap
4 groot aartappels, geskil en gekap
4 wortels, geskil en gekap
250 g botterskorsie, geskil en gekap
5 knoffelhuisies, fyn gekap
200 g spinasie
1 eetlepel sout

Metode: Verbruin die uie in ’n potjie oor medium hitte. Voeg die kerriepoeier, naartjieskil, komyn, brandrissie, koljander, kerrie- en lourierblare by. Braai dit vir sowat 1 minuut. Voeg die vleis by en verbruin dit saam met die uie en speserye. Gooi genoeg kookwater by sodat die vleis net bedek is en voeg die suurlemoensap by. Verlaag die hitte en laat dit prut. Voeg dan ’n laag aartappels, wortels, botterskorsies, die knoffel en laastens die spinasie bo-op. Geur met sout en plaas die deksel terug – sonder om dit te roer. Laat dit prut vir omtrent 3 ure totdat die vleis sag en die groente gaar is. Gebruik ’n groot lepel om dit op te skep en sit dit voor saam met rys, stampmielies en bone, potbrood en blatjang-atjar.

Shangai Steak-roerbraai:

Dié maklike resep is heerlik, hetsy jy koedoe of beesvleis gebruik en dit kan maklik op ’n skottelbraai gemaak word.

Jy benodig:
1 kg steak (bees of koedoe), dun gesny – repies van sowat ½ cm
25 ml Worcestersous
25 ml sojasous
25 ml olie
25 ml meelblom (Maizena)

Metode: Voeg al die bestanddele bymekaar en meng goed. Laat die biefrepies vir 24 uur marineer. (Jy kan dit ook sommer reeds by die huis in repies sny en laat marineer vir ’n maklike ete na ’n lang dag op die pad.) Roerbraai dit in ’n bietjie olie en margarien. Bedien saam met noedels of rys.

 4_1

Bykosse hoef nie ’n beslommernis te wees nie. Ons maak dit vir jou maklik met dié lekker stokbroodresep of ’n lekker slaai of twee wat genoeg is vir ’n groot gesin.

Stokbrood:

Foto: Piet van Wyk

Jy benodig:
500 g bruismeel
1 bier (van jou keuse)
2 teelepels sout
2 teelepels suiker

Metode: Meng al die bestanddele saam en knie dit vir ’n paar minute. Verdeel dit in balletjies en draai dit dan om die punt van ’n stok. (Maak altyd seker die hout is nie giftig nie!) Maak dit gaar oor die kole. Bedien met botter en konfyt, stroop of heuning.

Rooi noedelslaai:

Hierdie lekker noedelslaai kan jy lank in die yskas hou en dit gaan ver om honger kinders te voer. Dis veral ’n goeie pasmaat vir braaivleis.

Jy benodig:
1 pak gekookte noedels
1 groen, gekapte soetrissie
1 gekapte ui

Vir die sous:
250 ml tamatiesous
225 ml asyn
225 ml olie
200 ml bruin suiker
25 ml medium kerriepoeier
Swart peper na smaak

Metode: Meng die sous se bestanddele bymekaar en gooi oor die noedels, ui en soetrissie.

Koolslaai met ’n kinkel:

Hierdie heerlike slaai kan tot ’n week lank in die yskas vars bly. Maak seker jy seël dit in ’n lugdigte houer.

Vir elke 2 koppies koolslaai benodig jy:
2 koppies gekapte koolslaai
1 eetlepel suiker
½ eetlepel sout
4 eetlepels mayonnaise
3 eetlepels gekapte uie
1 teelepel tamatiesous
½ eetlepel peper
3 eetlepels asyn
4 eetlepels room
1 gerasperde wortel

Metode: Meng alles saam en hou dit in die yskas tot jy dit wil bedien.

Potbrood:

Foto: Lise Beyers

Hierdie outjie vat ’n bietjie langer om voor te berei as stokbrood, maar wie kan nou nee sê vir varsgebakte brood? Dit is ook die perfekte pasmaat vir ’n potjie of braaivleis.

Jy benodig:
10 g kitsgis
1 kg witbroodmeel
10 ml suiker
20 ml sout
65 g margarien
650 ml louwarm water

Metode: Meng die witbroodmeel, sout en suiker saam en voeg die gis by. Vryf die margarien in die droë bestanddele in. Voeg die vloeistowwe stadig by en meng tot ’n sagte deeg vorm. Knie goed vir 10 minute. Plaas dit op ’n oppervlak wat liggies met meel besprinkel is. Maak dit toe met plastiek en laat vir 50 minute rus. Slaan dit plat. Vorm ’n bal en plaas dit in ’n goed gesmeerde platboompot en laat dit vir 20 – 15 minute rys. Verf dit met ’n geklitste eier. Plaas die pot op ’n driepootstaander oor ’n paar kole en sit ’n hopie kole bo-op die deksel. Voeg nuwe kole by soos dit afkoel. Laat dit vir sowat 45 minute bak of tot dit bruin is en hol klink as jy dit klop. (Jy kan dit ook in die oond bak teen 190 ºC vir 45 minute, sonder die deksel.)

5_1

Hoe gemaak as Boetie verjaar terwyl julle met vakansie is? Dié maklike mikrogolf-sjokoladekoek is heerlik en binne enkele minute gereed.

Sjokoladekoek in die mikrogolfoond:

Jy benodig:
1 koppie koekmeelblom
1 koppie suiker
3 teelepels bakpoeier
1 koppie warm water
4 eetlepels kakao
2 eiers
62,5 ml olie
1 teelepel vanieljegeursel

Metode: Spuit ’n mikrogolfbestande-koekbak (met ’n kleefweermiddel of smeer met botter of margarien) en voer die onderkant met waspapier uit. Meng die meel, suiker en bakpoeier saam. Meng die warm water, kakao, 2 eiers en vanielje saam en voeg dit by die meelmengsel. Bak dit vir 8 minute op die hoogste verstelling in ’n groot mikrogolfoond. Laat dit vir 12 minute op hoog bak vir ’n kleiner mikrogolfoond. Laat dit in die mikrogolfoond staan vir 3 minute voor jy dit verwyder. Haal dit uit en laat dit afkoel.

Versier dit met:
3 eetlepels kakao
2 koppies versiersuiker
1 teelepel vanieljegeursel
1 teelepel koffiepoeier (los dit op in ’n bietjie water)
80 g margarien, gesmelt

Metode: Sif die kakao en versiersuiker saam. Voeg die koffie, margarien en vanielje by en meng goed. Versier die koek.

Lekker sjokoladesnye:

Hierdie heerlike, dekadente sjokoladesnye is ideaal vir ’n vakansiehappie aangesien jy nie ’n oond of stoof nodig het nie en sommer die botter op die vuur kan smelt as dit moet! Dis uiters dekadent en die brandewyn gee dit ekstra woema. Dit verdubbel ook maklik. (Jy kan die brandewyn en die koffie weglaat, maar dan is dit nie so uniek nie!)

Jy benodig:
1 – 2 pakkies Marie-beskuitjies
250 g botter, gesmelt
2 eetlepels kakao
500 g versiersuiker
1 teelepel kitskoffie, gemeng met 2 teelepels kookwater
1 eier, geklits
1 eetlepel brandewyn
2 hande vol klapper

Metode: Smelt die botter. Meng dit, die kakao en versiersuiker saam. Meng die eier, brandewyn en koffie en voeg dit by die bottermengsel. Laastens, roer die beskuitjies (wat in stukke gebreek is) by en skep dit in ’n broodpan wat met waspapier uitgevoer is. Laat dit oornag in die yskas. Sny dit in dik snye en bedien met geklitste room.

S’Mores (gebraaide malvalekkers):

Foto: Elbé van Heerden

Die maklikste is natuurlik om malvalekkers oor die kole te braai. Of maak soos die Amerikaners en braai s’mores. Al wat jy nodig het is koekies (Graham Crackers in die VSA, maar tennisbeskuitjies sal hier werk) en sjokolade. Plaas ’n stukkie sjokolade op een van die koekies, braai jou malvalekker en plaas dit op die sjokolade. Druk dit plat met ’n tweede koekie. Die malvalekker sal die sjokolade laat smelt en alles laat ineenvloei tot ’n heerlike, warm, dekadente nagereg.

1_1

1. Daar is verskeie disse wat baie maklik aangepas kan word en op die vuur gemaak word eerder as in die oond. (Een van ons gunstelinge is nog altyd lasagne in ’n platboompot op die vuur.)

2. Meng die droë bestanddele vir resepte soos pannekoek en plaatkoekies vooraf by die huis en verpak dit in plastieksakkies. Sodoende kan jy net die eiers en melk byvoeg wanneer jy gereed is om dit gaar te maak.

3. Met ’n skottelbraai kan jy heerlike spek en roereiers of selfs plaatkoekies maak.

4. As jy nie bruismeel in jou koskas het nie, kan jy 1 ½ teelepels bakpoeier by elke koppie koekmeelblom gooi vir dieselfde resultaat.

5. Witsous is ’n maklike, praktiese en vinnige bykomstigheid vir verskeie resepte, veral vir pasta. Jy kan selfs vooraf witsous maak met dié resep. Hou dit in die yskas tot jy dit nodig het. Meng net water by die droë mengsel en roer oor lae hitte tot die sous dik word.

Jy benodig:
1 teelepel sout
1 koppie koekmeelblom
2 koppies poeiermelk
230 g margarien

Metode: Meng dit met ’n elektriese klitser en hou in die yskas tot wanneer jy dit wil gebruik. Vir ’n medium sous, meng ’n halwe koppie (125 ml) van die mengsel met 1 koppie water. Verhit oor ’n lae hitte tot die sous verdik.

Bron: Al dié lekker resepte kom uit die Karoo Family Favourites-kookboek (5de uitgawe) wat deur Union Preparatory School in Graaff-Reinet gedruk en uitgegee word. Die resepte is ’n samestelling van die gemeenskap se gunsteling Karoo-resepte. Die boek is beskikbaar teen R150 by Union Preparatory School, Graaff-Reinet of bel 049 892 3843.

Hooffoto: Lise Beyers. 
Foto’s: Elbé van Heerden, Hanna van Heerden, Lise Beyers en Piet van Wyk.