’n Kuswoud, ’n meer, ’n wildreservaat en legio strande met koraalriwwe ─ nee, dis nie ’n tropiese eiland êrens in die vreemde nie, maar Suid-Afrika se eie paradys, St Lucia! Dié kusdorpie is sowat 240 kilometer noord van Durban aan KwaZulu-Natal se Olifantkus geleë en vorm deel van Suid-Afrika se heel eerste Wêrelderfenisgebied, die iSimangaliso Vleilandpark. Dié pragpark het vyf ekosisteme en is menige seekoei, krokodil en leerskilpad se tuiste. LekkeSlaap het in St Lucia gaan kuier en vertel jou wat jy hier kan doen en waar jy ’n salige nagrus kan geniet!

Wildkyk

Wie’t gesê jy moet al die pad Bosveld toe piekel om wild te kyk? Wildsoorte soos seekoeie, sebras, wildsbokke, kameelperde en flaminke is volop in die iSimangaliso Vleilandpark en jy kan selfs die Groot Vyf in dié geweste gewaar! Skuif sommer self agter die stuur in om die omgewing te verken of bespreek ’n begeleide nagwildrit waartydens jy definitief ’n paar interessante nagdiere sal opmerk. Die Hluhluwe iMfolozi Wildreservaat, wat sowat ’n uur se ry vanaf St Lucia is, bied ook verskeie wildkykpakkette.

☎ 035 590 1555 | 📧 info@stlucia.co.za

Perdry

Min dinge is so opwindend soos om die omgewing op ’n perd se rug te verken en by iSimangaliso Vleilandpark, saam met Bhangazi Horse Safaris, is dit presies wat jy kan doen! Hou jou oë oop vir sebras, wildebeeste, bosbokke, vlakvarke en duikers. Jy kan selfs op die strand gaan galop!

☎ 035 550 4898 | 📧 info@horsesafari.co.za

Krokodilkyk

Buiten die duisende krokodille wat die St Lucia-meer se waters bewoon, is daar ook die St Lucia Krokodilsentrum wat by die iSimangaliso Vleilandpark se ingang geleë is. As ’n reptiel jou nie afskrik nie, moet jy beslis by dié sentrum kom inloer. Hiér is verskeie Amerikaanse, eksotiese en Afrika-krokodilspesies, asook skilpaaie en slange te sien. Jy kan ook in die broodboomtuin rondwandel as jy ’n blaaskans wil vat. Maak gerus op ’n Saterdagmiddag of Sondagoggend hiér ’n draai om die voerdemonstrasies te aanskou.

☎ 035 590 1386 | 📧 croc-centre@kznwildlife.com

Skoenlapperkyk

By die Isiphaphalazi Skoenlapperhuis betree jy ’n wêreld waar die natuur se prag en praal hoogty vier en jy betower word deur fladderende vlerkies in ’n bont paradys! Kyk gerus of jy ’n paar inheemse skoenlappers soos die distelvlinder en melkbosvlinder raaksien. Jy kan ook ’n voetslaanroete aanpak, ’n skoenlapperinligtingsessie bywoon, ’n lafenis in die teetuin geniet of die kwekery se flora bewonder.

☎ 035 550 4445

Bootvaart

As jy mal is oor die wind deur jou hare en sproeireën wat teen jou wang vaswaai, moet ’n bootvaart op die St Lucia-riviermond beslis boaan jou lysie wees! Dié bootrit duur sowat twee uur, strek oor tien kilometer en sal jou met Moeder Natuur se unieke skoonheid beloon!

☎ 035-590-1063 | 📧 info@stluciasafaris.com

Visvang, snorkel en swem

As wateravonture en skilderagtige sonsondergange so reg in jou kraal pas, is St Lucia beslis ’n topkusbestemming. Die Indiese Oseaan se louwarm water en St Lucia se goue strande is ideaal vir swem en sonbaai. Cape Vidal, wat sowat 30 kilometer buite St Lucia geleë is, is die perfekte plekkie om tydens laaggety te snorkel en ’n bietjie lyn nat te maak. Dié beskutte baai is ook ’n lekker piekniekplek, so bring sommer die hele gesin saam!

Kajakvaart

St Lucia se riviermond is ook perfek vir kajakvaart en jy kan ’n begeleide vaart aandurf wat sowat twee en ’n half uur duur. Al wat jy benodig is ’n kajak, roeispaan en staalsenuwees!

☎ 035 590 1233 | 📧 anton@kayaksafaris.co.za

Kaasproe

Chane Cheese Farm & Lodge is ’n lekker plek vir ’n gesinsuitstappie en bied aan die jongspan die geleentheid om bokke te melk en om op ’n opvoedkundige toer te gaan. Maandag tot Saterdag tussen 09:00 en 15:00 kan jy ook tuisgemaakte organiese kaas kom proe. Daar is ’n koffiewinkel op die perseel wat ontbyt en ligte middagete bedien, asook ’n geskenkwinkeltjie waarin jy rustig kan rondsnuffel. As jy daarna nog tyd op dié kaasplaas wil deurbring, kan jy gerus ’n aand of twee by die lodge oorslaap!

Voetslaan

Die Igwala Gwala Forest Trail strek 1,5 kilometer vanaf Eden Park tot in St Lucia en is ideaal as jy net rustig in die natuur wil wandel. Dié staproete bied ook ’n magdom voëlkykgeleenthede en die visarend, visvanger en reier is dikwels hier te sien. Daar is ook baie begeleide staproetes in iSimangaliso Vleilandpark en as jy ’n bietjie meer avontuurlustig is, kan jy die Iphiva Trail by die Iphiva-kampterrein in St Lucia aanpak wat jou sowat drie uur sal besighou.

LekkeSlaap het meer as 90 blyplekke in St Lucia ─ van sakpas-selfsorgwoonstelle, bekoorlike B&B’s tot luukse lodges. Kliek gerus op die foto’s en skakels hieronder en bespreek sommer nóú jou volgende paradyswegbreek!

Selfsorg

Ingwenya Lodge

Little Eden St Lucia | Flomboyant 7 | Gerda’s Place

B&B

Annas Bed and Breakfast

Whalesong Guest House | St Lucia Kingfisher Lodge | Rhino Coast Guest House

Hotel

Elephant Lake Hotel

Elephant Lake Inn

Rugsakreisigerlosies

Monzi Safaris Backpackers

Gastehuis

Lalapanzi Guest House

Lodge Afrique | African Ambience Guest House | Leopard Corner Guest House

Lodge

Shonalanga Lodge

Forest Lodge | Lake St Lucia Lodge | Umlilo Lodge

So, waarvoor wag jy? St Lucia roep!

Hooffoto: BigStock

Wildkyk-collage:
Bo: Makakatana Bay Lodge
Eerste foto onder: Monzi Safaris Backpackers
Tweede foto onder: Leopard Corner Guest House
Derde foto onder: Serene Estate Guesthouse
Vierde foto onder: Makakatana Bay Lodge

Skoenlapperkyk-collage:
Links: Danaus chrysippus on Asclepias (WikiMedia Commons)
Regs: Butterfly August 2008-3 (Wikipedia)

 Voetslaan-collage:
Links: Makakatana Bay Lodge
Regsbo: Ingwenya Lodge
Regsonder: Makakatana Bay Lodge