“Klein-Karoo, verre land van verlatenheid … Klein-Karoo, waar die Swartberge troon …” ─ Groep Twee (Sias Reinecke en Gert van Tonder)

Lank, lank gelede, voor vinnige plat voertuie en internet-modes, was ’n volstruisveer in jou hoed hoogmode! Dié spoggerige vere is destyds wêreldwyd versprei en het selfs koninklikes se hoofde getooi. ’n Volstruis is egter soveel meer as net ’n bondel vere en beslis nie die enigste rede om ’n draai in Oudtshoorn te maak nie. Daarom gee LekkeSlaap jou sewe redes waarom jy die pad na die Klein-Karoo moet aanpak om tussen die Outeniekwa- en Swartberge by dié volstruisparadys in te loer!

1. Die volstruisplaas, Chandelier Game Lodge & Ostrich Show Farm

Omdat Oudtshoorn die wêreld se volstruishoofstad is, is ’n besoek aan ’n volstruisplaas natuurlik boaan ons lys! Chandelier Game Lodge & Ostrich Show Farm is net sewe kilometer buite Oudtshoorn en bied ’n volstruistoer op ’n oop Land Rover. Dié toer begin by Chandelier se begraafplaas omdat die plaas ’n groot bydra tot die Klein-Karoo en die volstruisbedryf se ontwikkeling gelewer het.

Tydens die volstruistoer kan jy:

* Kyk hoe volstruise se vere geknip word
* Op groot, sterk volstruiseiers staan
* ’n Volstruiskuiken vashou
* ’n Volstruisskou en -resies deur professionele jokkies kyk
* Op ’n volstruis ry
* Die gemeenskapskunsvlytsentrum vol handgemaakte produkte besoek

Dié plaas bied ook ander doendinge:

* Wildritte
* Bergfietsry
* Voëlkyk
* ’n Begeleide Khoi-San kultuurroete
* Skemerkelkies en braai by die lapa hoog teen die Swartberge

As jy na al die opwinding nie dié pragplaas wil verlaat nie, kan jy gerus in die luukse tent-chalets oornag om ’n egte plattelandse nagrus te beleef!

2. Die Kango-grotte se natuurskatte

Naas ’n volstruisplaas is die Kango-grotte waarskynlik dié velskoendorpie se bekendste trekpleister. Dié beroemde grotte skuil sowat 30 kilometer buite Oudtshoorn in die Swartberge se voorheuwels waar ’n geheimsinnige wêreld vol rotsformasies, kelderagtige kamers en nou gangetjies op jou wag!

As jy nie ’n groot avonturier is nie kan jy die standaardtoer aanpak wat sowat ’n uur duur. Tydens dié toer verken jy die voorste grotkamers wat met asemrowende, antieke stalagmiete en stalagtiete versier is. Dié rotsformasies spog met name soos Cleopatra se Naald, die Skewe Toring van Pisa en die Wenende Wilger.

As jy egter waaghalsig is en nie aan engtevrees ly nie, moet jy definitief die gevorderde avontuurtoer aandurf. Dié toer duur sowat twee uur en jy kan solank gereed maak om te koes, kruip en deur nou skeure te seil! Tydens die avontuurtoer sal jy buitengewone rotsformasies, ongelooflike kristalle, asook grotpoele en spelonke teëkom. Die toer neem jou op teen 200 trappe, oftewel Jakob se Leër, tot in ’n groot saal. Die roete sluit ook Lot se Kamer, die Kristalpaleis, Koning Salomo se Myne en die Duiwel se Skoorsteen in. Dan, om dit alles te kroon, moet jy jouself deur die Luiperdkruip wikkel wat net sowat 30 sentimeter breed is en die enigste manier is om weer in die vars buitelug uit te kom!

Sjoe, dié gewilde grotte bied beslis hope opwinding en is ideaal vir die hele gesin. Daar is ook ’n restaurant op die perseel waar jy ’n blaaskansie na al die avontuur kan vat.

3. ’n Kuns- en kultuurmekka

Oudtshoorn se ryk kuns- en kultuurgeskiedenis het al in die 1800’s wortelgeskiet tydens die volstruisveermode en die Victoriaanse sandsteengeboue wat in die dorp opgerig is. Een van Suid-Afrika se bekendste Afrikaanse digters, CJ Langenhoven, het ook dié dorpie sy tuiste gemaak. Die afgelope twee dekades bied Oudtshoorn boonop jaarliks die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees aan ─ ons land se grootste Afrikaanse kunstefees. Vanjaar se fees duur van 8 tot 15 April en beloof skreeusnaakse komedies, boeiende toneelstukke, legio stalletjies en musiekvertonings wat jou voete sal laat jeuk! En as jy nog meer kuns wil ervaar, kan jy ’n draai by die ArtKaroo Galery en die CP Nel Museum maak.

Kuns en kultuur gaan hand aan hand met smullekker kos en Oudtshoorn stel ook nie teleur nie! Hier is ’n paar restaurante en plekke wat jy móét besoek:

* Drink ’n koppie koffie by Beans About Coffee
* Eet volstruis-steak by Jemima’s
* Bederf jouself met handgemaakte Belgiese sjokolade by La Chocolaterie Rococo
* Koop ’n volstruis-aandenking by Klein-Karoo Volstruisboetiek

4. Die prentjiemooi Meiringspoort-waterval

Die Meiringspoort-waterval is voorwaar ’n oase in die hartjie van die Klein-Karoo! Dié poort is al meer as 150 jaar oud en verbind die Klein- en Groot-Karoo net 35 kilometer buite Oudtshoorn naby De Rust. Dis net ’n klein entjie se klim tot by die 60 meter hoë waterval en op ’n warm dag kan jy heerlik in die waterval se poel rondplas.

As jy daarvan hou om verborge skatte te ontdek, kan jy gerus jou oë oophou vir die klip waarop CJ Langenhoven byna 90 jaar terug sy verbeeldingsolifant, Herrie, se naam uitgekerf het.

’n Besoek aan dié pragplek is beslis ’n blink plan vir jonk en oud!

5. Buffelsdrift Game Lodge op die R62

Oudtshoorn is op Roete 62, een van die langste wynroetes ter wêreld. Dié skilderagtige roete loop deur die Boland en die Klein-Karoo. Laasgenoemde se droër klimaat is ideaal vir wingerdbou so die droë wyn, port, rooiwyn, muskadel, potketelbrandewyn en witblits wat in dié streek geproduseer word, is wêreldklas.

As jy só ’n diverse wynproesessie wil ervaar, maak gerus ’n draai by Buffelsdrift Game Lodge sowat ses kilometer buite Oudtshoorn. Dié spoglodge se restaurant het ’n wynlys met bekroonde wyne uit die kontrei en die á la carte-spyskaart sluit verskeie volstruisvleisdisse in.

Buffelsdrift Game Lodge se doendinge sal jou en jou gesin heeldag besig hou:

* Wildkyk
* Swem
* Spa-behandelings
* Safari’s
* Sterrekyk

Na al die pret en plesier sal jy beslis nie huiswaarts wil keer nie, so slaap dan sommer oor in ’n luukse tent of gesinseenheid en laat die voëltjies jou wakker sing!

6. Die skouspelagtige Swartbergpas

Dié pas is ’n steil grondpad wat bo-oor die Swartberge slinger en Oudtshoorn en Prins Albert verbind. Die Swartbergpas is ’n aanloklike roete vol geheime en is ook al tot Nasionale Monument verklaar. Jy kan dié pragbergpas op verskeie maniere aanpak en verken:

* ’n Klassieke Swartbergpastoer
* ’n Gamkasklooftoer
* ’n Seweweekspoort- en Boschluyskloof-toer
* ’n Fietstoer
* Voetslaanroetes in die Swartberg Natuurreservaat, soos die Ou Tol-, Platberg- en De Hoek-roete

Hoewel die Swartbergpas onvoorspelbaar kan wees nadat dit gereën het, sal jy met die ongelooflikste uitsigte oor die Klein-Karoo beloon word!

7. ’n Magdom blyplekke

Oudtshoorn is definitief nie net ’n deurry-dorpie nie en as jy die omgewing behoorlik wil verken, sal jy solank jou oornagtassie moet pak! LekkeSlaap bied verskeie verblyfopsies in die volstruisparadys en het ’n paar gekies wat in almal se smaak sal val ─ kliek gerus op die foto’s hieronder om meer oor elke blyplek uit te vind en bespreek nóú jou volgende volstruis-wegbreek!

Old Mill Lodge and Restaurant

De Zeekoe Guest Farm

Karoo Retreat

De Cango

Mooiplaas Guesthouse

Rietfontein Ostrich Palace

Dié sewe redes is stellig nie ál waarom jy Oudtshoorn moet besoek nie, so deel gerus jou gunsteling-ervaring in die volstruisparadys met ons!

Hooffoto: Volstruise in Oudtshoorn (South African Tourism, Flickr)