Jou verblyf is bespreek. Jou sakke is gepak …

Die enigste ding wat nou nog tussen jou en jou vakansie staan … is die langpad. Om te sorg dat die trek na jou bestemming nie die oorhand kry nie, het ons hier by LekkeSlaap ’n paar wenke saamgestel wat sal sorg dat dié deel van jou vakansie ook ontspannend is.

1. Onthou om 2 sakke te pak

Een tas vir jou klere (wat jy agter in die kattebak kan laai), en een kleiner sak met langpad-aktiwiteite en benodighede wat jy by jou kan hou. Dit sal die soektog na peuselhappies en blokraaisels baie vereenvoudig.

2. Bring ’n paar boeke saam

Daar is niks soos ’n paar ure op die pad om al die boeke wat jy nog wou/moes/sou lees af te handel nie. Tog moet hierdie stap eerder oorgeslaan word as jy maklik karsiek word.

3. Vermy souterige peuselhappies

Wat padkos aanbetref, moet souterige kos soos aartappelskyfies eerder vermy word. Dit maak dors, en as jy dors is drink jy baie water, en as jy baie water drink moet jy … en ons weet almal hoe skaars die badkamers word as jy die platteland invaar. Onthou om ’n draai by die badkamer te maak voor julle die pad vat. Lees hier vir nog ’n paar padkoswenke vir die langpad.

4. Hou ALTYD ’n pakkie wetwipes in die kar

Elkeen wat al ’n paar uur op die langpad deurgebring het, sal ten minste vyf doele vir hierdie wonderlike lappies kan lys.

5. Sorg dat jy ’n warm baadjie in die kar het

Dit is altyd ’n goeie idee om verskeie lae klere aan te trek, siende dat ons land so ’n diverse klimaat het. Ons het al in ’n dag se ry in Suid-Afrika woestyn én sneeu deurgemaak, dan is dit maar beter om nie onkant betrap te word nie.

6. Maak seker alle elektronika se batterye is gelaai

Dit is veral van toepassing op die tegnofiele wat staatmaak op hul skootrekenaars, selfone en iPods vir vermaak op die langpad. Kyk gerus uit vir laaiers wat in die kar werk – die kar se ingeboude sigaretaansteker skop tussen 9 en 12 V uit wat ideaal is vir klein toestelle. As jy besluit om ’n film te kyk op jou skootrekenaar, onthou tog net jou oorfone, sodat jy nie op jou medepassasiers se senuwees werk nie.

7. Verveeld? Nog nooit nie!

Wat van lekke speletjies om die langpadspan mee besig te hou? Hier is hele ’n paar onfeilbare langpadspeletjies wat vir enigeen sal werk.

8. Jou gemak is uiters belangrik

Dis goed om ’n kussing by jou te hou en ’n uiltjie te knip as die pad te lank begin raak. Maak seker dat jy nie op jou beursie of selfoon sit nie, want dit kan maak dat jou rug swaarkry. Onthou om regop te sit, met jou knieë effens hoër as jou heupe – dit is die ideale posisie om rugpyn te vermy. As jy elke 15-20 minute jou posisie effens verander, sal dit ook baie help vir die ongemak.

9. Vat dit rustig

Die ideaal is om ten minste elke 3 ure te stop vir ’n blaaskans. Dit is lekke om die veranderende landskap vanuit jou venster te bewonder, maar dit is ook belangrik om van tyd tot tyd uit te klim – doen ’n paar basiese strekoefeninge, draf ’n paar keer om die kar. Die vars lug is goed vir die gemoed.

10. Haal asem

Daar is al bewys dat ons dikwels te vlak asemhaal wanneer ons op die pad is. Dit is maklik om dan moeg en iesegrimmig te voel. Deur net ’n paar keer bewustelik diep en stadig deur jou neus asem te haal, kan jy dadelik jou bloeddruk verlaag, jou konsentrasie verbeter en jouself wakkerder laat voel.

Watter lekke wenke het jy vir die langpad? Deel dit gerus hieronder in die kommentaarblokkies!