Kyk, ons reis deesdae baie gemakliker as ons voorsate wat die Drakensberge oor is, maar om langpad te ry gee my soms ‘n kramp. Letterlik. Die motorpedale laat my kuite in knoppe trek. Die heeldag se gesit maak my lae rug net lam en kort voor lank is my skouers vooroor gebuig en my postuur heeltemal by die venster uit.

Al is jou motorsitplek hoe gemaklik, kan ure agter die stuurwiel steeds jou rug laat kraak en soms die begin van jou vakansie alreeds bederf – om nie te praat van hoe dit jou aan die einde van jou rustyd laat voel nie. Die kussinkie wat jy agter jou rug indruk, troos nie altyd nie en om nog ‘n bietjie langs die pad te stop, doen ook nie aldag wat dit moet nie.

Om die waarheid te sê, ons was nooit gemaak vir elke dag, heeldag sit nie. By kantoortafels en agter rekenaarskerms, in die kar op pad huis toe en dan nog so bietjie vir ‘n voor-ek-gaan-slaap-film voor die TV. Voor jy “spasma” kan sê, lê jou skouers vorentoe en voel jy al hoe jou rug en nek stadig maar seker styf word van te veel sit en te min beweeg. Nou hóé dan gemaak wanneer jy ook moet sit om uiteindelik weg te kom van al die gesittery en die rekenaarskerm wat jou antagoniseer? Die antwoord: beweeg!

Om tot vervelens toe te hoor dat jy gereeld moet stop as jy langpad ry om ‘n breek te moet vat, is vir seker goeie raad en nie net vir veiligheidsredes nie. Moet nou nie net die tyd gebruik om jou wiele na te gaan of ‘n koue koeldrank te drink nie, okay? Gebruik ook die vinnige strek-en-rek-stop om jou litte los te maak, strekoefeninge doen wonders vir jou.

Hier is ‘n paar vinnige strekoefeninge wat net die ding sal doen om jou in een stuk en met minder skete by jou bestemming te kry.

 Vir ‘n gemakliker rit:

  • * Skuif jou sitplek nader aan die stuurwiel sodat jy nie ver hoef te strek nie.
  • * As jy vir lank aaneen ry, maak klein veranderinge aan jou sitposisie. As jou ruggraat vir ‘n lang tyd in dieselfde posisie is, kan dit pyn of ongemak veroorsaak.
  • * ‘n Kussinkie tussen die sitplek en jou lae rug of ‘n rugleuning kan sorg vir ekstra gemak.

 Oefeninge vir bloedsirkulasie as jy nie bestuur nie:

  • * Sit ‘n kussing of opgerolde handdoek tussen jou knieë en druk jou knieë na mekaar toe. Hou die posisie vir 2 sekondes en ontspan. Herhaal 15 keer.
  • * Sit jou palms skouerwydte uit mekaar op die dak en druk vir 2 sekondes teen die dak voor jy ontspan. Herhaal 15 keer.
  • * Hou ‘n kussing tussen jou hande (of druk net jou palms teen mekaar) en druk vir 2 sekondes. Herhaal 15 keer.

Strek jou rug terwyl jy bestuur:

  • * Strek sommer jou rug terwyl jy by ‘n rooi verkeerslig wag. Hou die stuurwiel vas met jou linkerhand op die 10-uur posisie en jou regterhand in die 2-uur posisie. Maak jou rug nou hol sodat jou maag vorentoe bult. Deur aan die stuurwiel te trek en jou rug hol te maak, strek jy die area tussen jou skouerblaaie en jou middelrug. Asem diep in en ontspan dan.

 Oefeninge vir buite die kar:

  • * As jou hande op die stuurwiel is, sit dit stremming op jou borsspiere, wat mettertyd pyn of ongemak kan veroorsaak. Gaan staan in ‘n deurkosyn en druk jou hande aan weerskante van die deur. Hou jou bo-arms parallel met die vloer en jou elmboë 90° gebuig (jou arm is dus in ‘n L-vorm). Leun nou stadig vorentoe sodat jou borsspiere strek. Hou die posisie vir 15 sekondes. Herhaal nog 2 keer.
  • * Lig jou arms tot bo jou kop en strek na bo sonder om jou hakke op te lig. Hou die posisie vir 20 sekondes en ontspan. Herhaal soos nodig.
  • * Stap vir 5 min. in die area om jou beenspiere te rek en om bloedsirkulasie te bevorder.
  • * Om jou nek te strek, buig jou kop agtertoe sodat jy op kyk. Stop wanneer jy jou nek voel strek (moet nie te ver strek nie!) en hou die strek vir 20 sekondes. Keer terug na die normale posisie. Herhaal 5 keer.
  • * Nog ‘n goeie strekoefening vir jou nek is om op jou motorsitplek of Wimpy-stoel te gaan sit en met jou regterhand die regterkant van die stoel vas te hou. Reik oor jou kop met jou linkerhand en probeer jou regteroor aanraak. Druk jou kop nou met jou linkerhand liggies na links totdat jy die strek in jou nek voel. Hou die posisie vir 15 sekondes. Wissel nou hande en strek die teenoorgestelde kant van jou nek.
  • * Strek jou skouers deur jou hande agter jou lae rug by mekaar in te haak, maar steeds regop te staan. Lig jou hande op en weg van jou lyf totdat jy ‘n bietjie ongemak begin voel. Hou die posisie vir 15-30 sekondes en ontspan dan.
  • * Pomp jou kuite! Nou nie letterlik nie, maar om bloedsirkulasie te bevorder. Staan regop, voete bietjie minder as skouerwydte uit mekaar uit. Lig jou hakke en staan op jou tone sodat jou kuite strek. Hou die posisie vir 2 sekondes en ontspan. Herhaal 15-30 keer.

Hierdie ligte strekoefeninge sal jou tyd op die langpad soveel gemakliker maak en die reis soveel lekkerder.

Hooffoto: blog.inllinoisbackpain.com