“My nooi is in ’n nartjie, my ouma in kaneel … daar’s ’n vrou in elke geur” dig Opperman soet-soet voort.

Ons vier vandag Melktertdag! Suid-Afrikaners is mal oor ’n snytjie melktert saam met ’n koppie tee, of hulle dit nou wil erken of nie. Dié delikate, romerige vla-tert het eg-Afrikaanse wortels en vandag is daar ’n hele paar variasies van hierdie Suid-Afrikaanse staatmaker. Al is ons oumagrootjies se melktert-resepte al verbleik, gevlek, geskeur, oor en oor neergeskryf en as present gegee, kan jy maar verseker wees dat dié resep, met sy krom oortjies, keer op keer uit die kas gehaal word wanneer Tant Marie kom kuier.

Die meeste van Suid-Afrika se erfstukke kom al ‘n redelike lang pad saam en daar word net klein variasies ontwikkel, maar die melktert is al van die Middeleeue af bekend. Omtrent 2000 jaar gelede was die Romeine alreeds versot op eiervla, soet of sout. Die metamorfose van eenvoudige eiervla tot die melktert wat ons vandag ken, het begin toe die monnike en nonne van die Katolieke Kerke ’n smaaklike plaasvervanger vir vleis, vis, melk en eiers gesoek het wanneer hulle moes vas. Hulle het ’n amandelpap-mengsel (amandelmelk met kaneel en gemmer gegeur) agter die kloostermure vervolmaak en toe die vasdagreëls verslap is, kon hulle weer die eiervla in ’n broskorsdeeg maak.

’n Tradisionele melktert bevat hoofsaaklik melk, eiers, suiker en ’n klein bietjie meel; die hele tert word na die tyd besprinkel met kaneel. Dit is oorspronklik met ’n skilferkors gemaak, maar deesdae word broskors of selfs gemaalde Marie-beskuitjies gebruik. Ons voortreflike voormoeders het heel moontlik alles met die hand gemaak, en kom ons wees nou maar eerlik – ’n tuisgemaakte melktert met ’n tuisgemaakte kors is nét die beste, maar ek sal by niemand gaan klik as jy die kors by Checkers gaan koop nie! Amandel, nartjieskil, kaneel en perskeblare is oorspronklik gebruik as geurmiddels in die vlamengsel. Vandag kan ons kies tussen hierdie tradisionele geurmiddels en sintetiese geurmiddels om ’n bietjie lewe in die melktert te blaas.

Die melktert is so ’n groot kos-ikoon dat daar al verskeie variasies verskyn het, en dit het selfs as inspirasie vir ’n hele paar ander lekkernye gedien. Melktertjies (die drankie) is natuurlik ook geïnspireer deur die tradisionele melktert-vulsel: ’n stoute knertsie vodka word bygevoeg en kaneel word oorgestrooi om basies ’n melktert in ’n glas te vorm. Dié lekke drankie word gemaak met ’n blikkie kondensmelk, ’n blikkie Ideal-melk, ’n koppie vodka en kaneel. ’n Heerlike nagereg-drankie!

Die Jodetert is dalk nie ’n melktert in volle reg nie, maar dit bevat basies dieselfde eiervla-mengsel. ’n Koekie-agtige deeg word uitgerol en ’n paar lae hiervan word individueel gebak. Dan moet jy die tert aanmekaarslaan: eers ’n koekielaag, dan ’n laag van die eiervla-mengsel en so hou jy aan tot jou bestanddele op is. Die hele ding kan dan met kaneelsuiker of versiersuiker besprinkel word en moet verkieslik oornag gelaat word sodat die geure kan saamsmelt. Dit is ’n pragtige vertolking van dié eenvoudige nagereg.

Dalk die interessantste melktert-variasie wat ek opgespoor het is melktert-fudge! Om dié soethappie te maak benodig jy 800 g suiker, 250 g botter, 250 ml melk, 250 ml kondensmelk, 10 ml vanielje en 10 ml fyn kaneel. Plaas al die bestanddele in ’n pot en bring dit tot by kookpunt terwyl jy dit oor ’n lae hitte roer. Hou aan roer totdat die mengsel goudbruin is (sowat 25 – 30 min). Verwyder dit van die plaat af en klits dit teen ’n lae spoed met ’n elektriese klitser tot die mengsel romerig is. Spuit ’n pan (30 x 20 cm) met kleefwerende kossproei en giet die mengsel daarin. Laat dit afkoel en keer dit uit op ’n houtbord. Sny dit in blokkies, skywe of wat ook al jou denke toelaat en geniet dit saam met ’n koppie koffie.

’n Korslose melktert word in die oond gebak nadat al die bestanddele bymekaar gevoeg is. Die tert vorm self sy eie korsie in die oond. Dit is ’n baie maklike weergawe omdat dit die moeite van die kors uitsny. Hieronder is ’n tradisionele melktert-resep wat ek by my Ouma Anna gekry het, dit hoef net te stol nadat alles in die pot klaar gekook het. Dit is die smaaklikste melktert-resep wat ek nóg teëgekom het. 

So, daar het jy dit! Hoe verkies jy jou melktert? Skilferkors, broskors, met kaneel of daarsonder? Koop of bak en deel vandag ’n melktert wat jou nostalgiese hartsnare roer, of wees avontuurlustig en probeer iets nuuts. Deel dit met ’n vriend of vreemdeling of gaan kikker ’n mensie by die ouetehuis se dag op met een van dié tertjies.