Vrystaat se naamgenote: dié provinsie lê die hele wêreld vol met naamgenote in die VSA, Engeland en selfs in Noorweë!

Die meeste van ons ken die hoofstad van Frankryk se naamgenoot langs die Vaalrivier … Parys, natuurlik! Maar daar is min van ons wat weet hoeveel ander dorpe in die Vrystaat ook naamgenote oorsee het.

Aberfeldy

Hierdie dorpie naby Harrismith het begin op ‘n plaas met die naam Aberfeldy. Toe die spoorlyn eindelik in 1902 die vesting bereik, het die administrasie van die Oranjerivier Kolonie die plaas se naam gekies as die naam van die dorp. Aberfeldy se naamgenoot is in Skotland langs die Tayrivier geleë.

Arlington

Hierdie klein dorpie in die Vrystaat is veral belangrik vir sy posisie op die spoorlyn, want dis hier waar die spoor tussen Lindley en Senekal met mekaar skakel. Die Arlington wat jy in Texas sal aantref, is heelwat groter met ‘n bevolking van byna 400 000 mense!

Bethlehem

Bethlehem in die Vrystaat is vernoem na die Bethlehem in Israel, die geboorteplek van Jesus. In Hebreeus beteken Bethlehem “huis van brood”, ‘n naam wat heel gepas is vir dié Vrystaatse dorpie siende dat die omgewing ideaal is vir koringboere.

Links: Bethlehem, Vrystaat (Africa Imagery, flickr). Regs: Bethelhem in Israel (Fazia_, flickr)

Clarens

Hierdie dorp in die Vrystaat is in 1912 gestig aan die voorheuwels van die Rooiberge. Die dorp is vernoem na sy naamgenoot in Switserland waar President Paul Kruger oorlede is toe hy gaan stemming maak het vir die boere in Europa.

Edenville

Dié dorpie in die Noord-Vrystaat is in 1912 geproklameer. Die naam van die dorp is blykbaar ‘n verwysing na die Tuin van Eden in die Bybel. Net so is die dorp se Amerikaanse naamgenoot ook na dié Bybelse tuin vernoem. Die ander Edenville is ‘n klein gemeenskap aan die oewer van die Tittabawasseerivier in Michigan in die VSA.

Excelsior

Die naam Excelsior is Latyns vir “hoër op”, en die plaas Excelsior is juis gekies as die plek waar die dorp gestig sou word vanweë sy verhewe ligging. Die dorp is in 1910 deur boere gestig om ‘n kerk te hê wat nader aan hulle is as Winburg en Ladybrand. Hierdie dorp het ook ‘n naamgenoot in Minnesota in Amerika wat in 1853 deur George Bertram en die Excelsior Pioneer Association gestig is.

Frankfort

Dié dorp in die Oos-Vrystaat is vernoem na Frankfurt in Duitsland en is in 1869 op die plaas Roodepoort uitgelê. Frankfort se naamgenoot is in Kentucky in die VSA. In die 1780’s is die Amerikaanse pioniers hier deur Amerikaanse Indiane oorval en die pionier Stephen Frank het gesneuwel in die geveg. Daarna het hulle na die plek verwys as Frank’s Ford en dit het mettertyd Frankfort geword.

Harrismith

Hierdie groot dorp in die Vrystaat is in 1849 gestig en is vernoem na die Britse Goewerneur Sir Harry Smith wat die boere probeer oortuig het om nie Natal te verlaat nie. Harrismith se naamgenoot in Australië is ook vernoem na ‘n man met die naam Harry Smith wat die eerste setlaar in die area was.

Heilbron

Heilbron in die Vrystaat is in 1873 gestig by ‘n standhoudende fontein wat die bron is van ‘n stroompie wat vandag nog deur die dorpie vloei – vandaar die naam Heilbron. Die dorp se naamgenoot is die stad Heilbronn in Duitsland wat bekend is vir sy wynbedryf.

Lindley

Lindley is ‘n klein dorpie aan die oewer van die Valsrivier in die Oos-Vrystaat. Die dorp is vernoem na die Amerikaanse sendeling, Daniel Lindley, wat die eerste predikant was vir die Voortrekkers in Natal. Dié dorp se naamgenoot is ‘n voorstad van Huddersfield in Wes-Yorkshire in Engeland. Die voorstad se naam kom van die Saksiese woord vir wildevlas (flax in Engels, die plant waarvan flaxseed afkomstig is) en is waarskynlik al so vroeg soos 600 n.C. deur die Angels bewoon.

Memel

Memel is ‘n Oud-Pruisiese woord wat beteken “om deur water omring te word”. Die naam is baie gepas, want die 5000 hektaar Seekoeivlei Natuurreservaat is by die dorpie geleë en die dorp is dus uiteraard deur water omring. Hierdie dorpie in die Vrystaat is juis vernoem na sy naamgenoot in Litaue. Die dorp se naamgenoot is steeds noemenswaardig, hoewel die Memel in die voormalige Oos-Pruise se naam sedertdien verander het na Klaipėda.

Parys

Hierdie dorp aan die oewer van die Vaalrivier het in 1887 munisipale status verwerf. Een van die Duitse landmeters betrokke by die stigting van die dorp, het deelgeneem aan die beleg van Parys in Frankryk tydens die Frans-Pruisiese Oorlog, en dié Vrystaatse dorp se ligging aan die Vaalrivier het hom herinner aan Parys langs die Seine.

Rosendal

Hierdie klein dorpie in die Oos-Vrystaat is in 1914 as ‘n munisipaliteit verklaar en word omring deur die Witteberge. Die dorpie is ‘n gewilde toeriste-bestemming vanweë sy dramatiese landskap. Die dorpie het ‘n naamgenoot in Noorweë wat in 1661 gestig is op Ludwig Rosenkrantz se plaas, Rosendal. Hier kan jy vandag nog 2000 rose in volle bloei aanskou!

Smithfield

Smithfield is die derde oudste dorp in die Vrystaat. Die dorp is, net soos Harrismith, vernoem na die Britse Goewerneur, Sir Harry Smith. Dié dorpie het ‘n naamgenoot in Rhode Island in Amerika. Smithfield in Amerika is al in 1636 deur talle Britse setlaars bewoon en is vernoem na ‘n deel van Londen.

Wil jy weet watter naamgenote daar in jóú provinsie is? Volgende week kyk ons na naamgenote in Gauteng!

Hiér is Mpumalanga en die Noord-Kaap se naamgenote!