Pelgrimsrus staan soos ’n toevallige gehuggie halfpad tussen Ohrigstad en Sabie. Hierdie wêreld se natuurskoon is so oorrompelend dat ’n mens soms jou oë moet toemaak om jou brein kans te gee om al die skoonheid te verwerk. Plek-plek lê plantasies soos lappieskomberse oor die golwende, groen heuwels en dit is een van die vele paaie in ons land waarop jy wawyd wakker moet wees sodat jy nie ’n oomblik se natuurskoon mis nie. Maar as die passasiersitplek ‘n bietjie té gemaklik is en jy gee jou grysstof ’n bietjie te veel kans om tot verhaal te kom, sal niemand jou kwalik neem as jy jou oë aanhou vryf as jy in hierdie delwersdorpie wakkerskrik nie. As ’n mens die welige agtergrond vir ‘n oomblik vergeet, lyk dié dorpie kompleet soos die stel van ’n John Wayne-film: huisies met sinkmure, leiklipstoepe met gietystertraliewerk en staalpilare, winkeltjies se name in daardie kenmerkende vet, krulletters op metaalplate, ’n (dié!) Royal Hotel en selfs ‘n lappie gras met outentieke, wit delwerstente en kleims wat afgepen is. Hierdie museumdorpie word so getrou in stand gehou dat ’n mens effens verleë voel as jy nie te perd hier opdaag nie.     

Vinnige feite oor ‘n stadige era

  • Spoelgoud is in 1873 hier ontdek deur Alec Patterson.

  • Prospekteerders met sterre in hulle oë en panne in hulle knapsakke het hierheen begin stroom en teen 1873 het sowat 1500 delwerstente hier in die wind staan en wapper.

  • Goudsoek is nie vir sissies nie en 18 kroeë het oopgemaak om die ongelukkiges van hulle sorge te laat vergeet.

  • Die delwers se aptyt vir goud was skynbaar heelwat groter as hul aptyt vir brood want net 3 bakkerye het hulle mae vol gehou.

  • Gold News het die delwers op hoogte gehou van daaglikse nuusgebeure.

  • Pelgrimsrus was baie goed vir Sir James FitzPatrick: hy het rykdom en sy beste vriend, Jock of the Bushveld, hier gevind.

‘n Lewende museum

  • Pelgrimsrus is in 1986 tot nasionale gedenkwaardighed verklaar.

  • Die gereedskap waarmee die goud ontgin is, word keurig en opvoedkundig ten toon gestel in talle museums en snuisterywinkeltjies.
  • Ou myne is littekens teen die berge en begeleide toere na myne gaan gewoonlik gepaard met demonstrasies van hoe die droomverlore delwers te werk gegaan het.
  • n Besoek aan die Royal Hotel is ’n móét. Hierdie historiese gebou is die spilpunt van die dorp en ’n mens kan nie ’n drankie hier geniet sonder om nostalgies te raak oor die verlede nie.
  • Volg die bordjies na die begraafplaas en soek die “Rower” se graf. Niemand weet vandag meer wat hierdie booswig se naam was nie, maar die feit dat nét sy graf nie oos front nie getuig van die dorpenaars se woede toe hulle hom ter aarde bestel het.

Besienswaardighede in die omgewing

Lekke blyplekke in: