1. Vuur en vlam

Die eerste keuse waarvoor jy te staan kom, is: Om te hout of om te houtskool?

Gebruik houtskool vir langer braaie, hout skep ‘n heerlike atmosfeer en gee ‘n weergalose smaak aan die vleis, maar dit brand vinniger uit. Houtskool neem omtrent 40 minute voor dit braaigereed is, en dan sal jy vir omtrent 45 minute daarop kan braai. As jy vir baie mense moet braai, is dit ‘n goeie idee om 25 minute nadat jy die vuur aansteek, nog ‘n bietjie houtskool op te gooi.

Maja Dumat (flickr)

Indien jy hout kies, is dit goed om indringerhout soos bloekom- of swartwattelhout te gebruik. Sodoende kan jy ons inheemse flora help terwyl jy lekke braai! Die hout moet droog wees, anders gaan dit baie moeite verg om die vuur aan die gang te hou. As jy waterdamp sien in die plastieksak waarin jy die hout koop, is dit ‘n teken dat die hout nog te nat is.

Wenk 1: Gebruik gel-brandstof as vuuraansteker. Dis veilig, omgewingsvriendelik, goedkoper en kan meer as eenkeer gebruik word!

Wenk 2: As jy in die hitte van die oomblik besluit jy wil NOU braai, en daar is nie vuuraanstekers in die huis nie, het ons vir jou ‘n onfeilbare metode om jou vuurtjie aan die gang te kry. Neem ‘n eierdosie en vul die holtes met kookolie (kanola werk die beste) en gebruik dit dan as vuuraansteker.

2. Só soek jy jou pond vleis

Deesdae gryp meeste mense net die eerste beste pakkie vleis van die rak af, maar in die goeie ou dae het mense nog ‘n persoonlike verhouding met hul slagter gehad. Dit maak nie saak hoe goed jy braai nie, ‘n slegte stuk vleis gaan nooit smullekker proe nie, so die eerste stap vir ‘n lekker braai is om die regte vleis te koop.

Beesvleis: Die beste snitte vir braai is Rump (kruisskyf), Prime Rib (prima rib), Rib Eye en Fillet. Vleis soos biefstuk moet nooit te gaar gemaak word nie, dit moet vinnig, maar op vuurwarm kole gebraai word.

Skaapvleis: Ag, wat kan ek sê. Die skaaptjop: Elke Suid-Afrikaner het hopelik al die voorreg gehad om so ‘n stukkie karoobossie-hemel te proe. En as jy nog nie het nie, beter jy vinnig ‘n plan maak.

Hoender: Ons wenk vir hoenderbraai is om ‘n paar klein gleufies in die vleis te sny, sodat die hoender regdeur gaar word. Hoender se ideale braai-temperatuur is oor warm/medium kole.

Varkvleis: Die lekkerste varksnitte om oor die kole te gooi is loin chops (lendetjoppies) en ribbetjies. Heerlik.

3. Hoe gaar is té gaar?

So nou dat almal weet ‘n goeie veearts behoort nog jou steak te kan red, hoe weet ‘n mens wanneer jou vleis reg is om genuttig te word? Die antwoord lê in die palm van jou hand.

As jy die vleis met jou voorvinger druk, kan jy die gaarheid daarvan bepaal deur dit met die area op jou handpalm wat deur die rooi kring aangedui word, te vergelyk. Die verskillende posisies van die vingers dui elk ‘n ander gaarheid aan.

4. Piesang na die maal

Hierdie nagereg is te heerlik om nie te deel nie. En boonop is dit kinderspeletjies, nee regtig, dis ‘n maklike manier om die jongspan by die braaiproses te betrek.

Jy neem doodeenvoudig ‘n piesang (sommige mense verkies dit met die skil nog aan, ander mense skil weer die piesang) en sny ‘n gleufie daarin, amper soos ‘n broodrolletjie. Dan plaas jy stukkies sjokolade binne-in en draai die hele besigheid met foelie toe. Plaas dit onder naby die kole en omtrent 15 minute later het jy ‘n heerlike nagereg wat saam met roomys geniet kan word. ‘n Mens kan lekke met hierdie resep eksperimenteer – probeer gerus om malvalekkers, neute, karamel, kondensmelk en ander lekkernye in die piesang te plaas.

5. Kant en klaar

‘n Fantastiese manier, buiten koerantpapier, om jou rooster skoon te maak, is om ‘n halwe rou ui of ‘n halwe suurlemoen te neem en die rooster daarmee skoon te skrop. Dit maak nie net die rooster silwerskoon nie – dit gee ‘n wonderlike smaak aan jou volgende braaivleisie.

Watter bobaas braai-wenke het jy om met ons te deel?