Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Cape Peninsula

+9

Beskrywing

“O die luggie hier is vry, waar my hart heeltyd wil bly. O Kaap, o Kaap, o mooiste Kaap ... Die Mayflower het uitgevaar en gaan snoek haal daar by Houtbaai, waar Karbonkelberg die stormsee gewaar” sing Anton Goosen oor die Kaapse Skiereiland. Dít is die suidelikste punt van Afrika, 'n plek waar dutjiesdorpies rustig langs die see lê en die fynbos wild floreer. Kom proe die vis-en-tjips van Vishoek en aanskou die branderplankskouspel van Kommetjie. Kyk hoe pronk die pikkewyne by Bouldersstrand en die vakansiegangers by Kampsbaai. Stap die talle voetslaanpaaie en ontdek versteekte damme en grotte. Die Kaapse Skiereiland is die perfekte plek vir 'n naweekwegbreek of 'n vakansie. Besoek die pragstreek saam met LekkeSlaap en voel die seelug en die Vryheid wat dit simboliseer.

'n Treinspoor loop deur die Kaapse Skiereiland, en mense het die vreugde van luilekker treinry herontdek. Dit is 'n uitstekende manier om die Kaapse Skiereiland te verken, want jy hoef nie bekommerd te wees oor parkering nie. Tussen stasies sal jy 'n keur van eetplekkies en strande vind. Muizenberg is 'n smeltkroes van geskiedenis, argitektuur en kultuur. Hier kan jy die kleurvolle strandhuisies wat op talle poskaarte voorkom van nader besigtig, en jou eie foto daarvan neem. Kalkbaai het 'n permanente vakansie-atmosfeer en 'n kunssinnige voorkoms, 'n plek waar kunstenaars en vissermanne moeiteloos meng. Vishoek bied aan swemmers een van die veiligste swemstrande in die Kaap, alles te danke aan haainette en lewensredders en gevolglik is Vishoek 'n gunsteling-bestemming vir seilplankryers. Om die draai van Vishoek lê Simonstad, 'n skilderagtige vlootdorpie wat spog met die oulikste snuisterywinkeltjies en die interessantste stories. Gaan lees gerus die verhaal van Just Nuisance, 'n hond wat bevriend was met Simonstad se matrose en die dorp se hedendaagse gelukbringer is.

Bouldersstrand lê net duskant Simonstad, en hier woon 'n pikkewynkolonie. Besoekers kan hierdie rotsagtige strand met 'n begeleide toer besigtig, en kinders is veral mal oor die geveerde vriende. Aan die ander kant van Kaappunt sal jy Kommetjie vind. Hierdie pragtige dorpie is gewild as 'n branderplankry- en vlieërbranderry-bestemming. Hier kan besoekers ook een van die hoogste ligtorings in Suid-Afrika sien – klim gerus op en geniet asemrowende uitsigte oor die see en Houtbaai. Neem die jongspan na Imoff-plaas, 'n plek langs die Kommetjie-pad waar slange en kamele bly. As jy die plaas-atmosfeer egter waarlik wil ervaar moet jy Noordhoek besoek. Perde en hasies kom volop voor en die area is bekend vir sy plattelandse gevoel. Noordhoek is geleë aan die begin van die Chapman's Peak-pas, 'n skouspelagtige roete langs die Atlantiese Oseaan. Die pad is bekend as een van die mooistes in die wêreld en talle internasionale advertensies is al hier verfilm.

Aan die ander kant van Chapman's Peak lê Houtbaai. Dié plek is so vernoem omdat dit voorheen só boomryk was dat die Nederlanders dit benut het om Kaapstad te bou. Geniet die pragtige uitsigte van berge en 'n wit strand. Gaan kuier by Houtbaai op 'n Sondag en stap rond by die markie waarna jy 'n skemerkelkie moet drink by Kampsbaai - die speelgrond van internasionale toeriste en rykes. Kampsbaai bied verskeie kuierplekke en restaurante wat uitkyk op die palmbome en wit strand en mens voel skoon asof jy in 'n ander land sit as jy daar met 'n Mojito in die hand ontspan. Vakansiegangers wat liefs wil wegbly van skares en mensekyk, kan gaan lafenis soek by Bakovenstrand. Tussen die massiewe granietrotse wat hier op die strand rus is daar altyd 'n stil plekkie om te sonbaai. As jy nog verder wil aankloop by die dutjies-dorpies anderkant Chapman's Peak, stop by Llandudno - dié plek het nou vir jou 'n pragtige strand.

Die Kaapse Skiereiland spog egter nie net met dutjiesdorpies en see-uitsigte nie. Daar is talle staproetes in die natuurreservate! Dink aan voetslaanpaaie wat tussen fynbos kronkel en jou lei na versteekte damme en grotte. Pak 'n piekniekmandjie en stap vanaf Simonstad na Kleinplaas-dam of besoek die prentjiemooi Silvermine-natuurreservaat. Die Kaappunt-natuurreservaat is wêreldwyd bekend en dit is waarlik 'n spesiale ervaring om op die mees suidelike punt van Afrika te staan. Mens verbeel jou skoon dat jy die Suidpool op die horison kan gewaar en die wêreld agter jou rug lê. Trap 'n bergfiets deur die natuurreservaat of pak een van Chapman's Peak se roetes aan. Ry op 'n perd langs Noordhoekstrand of neem 'n bootrit vanaf Simonstad. As jy gelukkig is sal jy 'n walvis gewaar wat lui en lomp in die water baljaar.

Die Kaapse Skiereiland bied 'n skatkis van juwele. Hier kan mens die geskiedenis aan jou vel voel, en jou indink hoe die eerste matrose die Kaap van Storms moes beleef. Pak jou tas, laai die kinders in die kar en onthou jou tekkies en kamera. Kom ontdek self die dutjiesdorpies se pragstrande en vis-en-tjips of die natuurreservate se staproetes. Luister hoe die Kaapse wind waai terwyl jy salig slaap in LekkeSlaap-akkommodasie. Kom verken die versteekte skatte van die Kaapse Skiereiland.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Cape Peninsula te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Cape Peninsula te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem