Niemand is seker oor April-gekkedag se oorsprong nie, maar hierdie dag vir lekker lag word elke jaar regoor die wêreld gevier. Daar word bespiegel dat die dag sy oorsprong in die Middeleeue vind, toe die viering van Nuwejaar na 1 Januarie verskuif is. Diegene wat na dié verskuiwing nogsteeds Nuwejaar op 1 April gevier het, is gesien as “gekke” ─ vandaar Gekkedag!

Ons het besluit om ʼn paar idees te deel oor hoe om julle geliefdes ʼn poets te bak op Gekkedag. Loer hieronder vir groot pret!

Word wakker, word wakker!

Stap 1: Koop ʼn hele klomp wekkers.

Stap 2: Stel elke wekker 5 minute uit mekaar uit ─ lekker vroeg in die oggend!

Stap 3: Steek die wekkers in jou poetsteiken se kamer weg …

Hierdie poets is seepglad!

Stap 1: Gaps jou teiken se seep uit hulle badkamer uit.

Stap 2: Verf die seep toe met kleurlose naellak.

Stap 3: Sit die seep terug waar jy dit gekry het.

Stap 4: Kyk hoe gefrustreerd die persoon raak as die seep nie wil skuim nie!

Foto: B.G. Oodwin, Flickr.

ʼn Rekkie vir elke plekkie!

Stap 1: Neem jou teiken se telefoon of selfoon as hulle nie kyk nie.

Stap 2: Bind ʼn magdom rekkies om die foon.

Stap 3: Sit die foon terug waar jy dit gekry het.

Stap 4: Bel die persoon en kyk hoe snaaks dit is wanneer hulle dit nie kan antwoord nie!

Foto: Matt Reinbold, Flickr.

ʼn Stywe drankie!

Stap 1: Maak jellie in glase met strooitjies aan sodat dit soos koeldrank lyk.

Stap 2: Bied vir jou vriende ʼn glas koeldrank aan.

Stap 3: Kyk hoe hulle sukkel om dit te drink!

Foto: ivillage.com
 

Skrik jou melk weg!

Stap 1: Kry vir jou ʼn gladde oppervlak en besmeer dit met iets soos seep, wat sal maak dat jou “spatsel” maklik afkom.

Stap 2: Gebruik houtlym om ʼn plas te vorm wat soos melk lyk wat gemors het. Gebruik redelik baie gom, sodat dit nie breek wanneer dit droog word nie.

Stap 3: Wag tot jou “melkspatsel” heeltemal droog is en verwyder dit versigtig.

Stap 4: Plaas die spatsel op jou poetsteiken se rekenaar of belangrike dokumente …

Foto: Instructables

Praat tot jy blou in die gesig raak!

Stap 1: Druk ʼn paar van die onderstaande kennisgewings uit en plak dit op een van die toebehore by die werk.

Stap 2: Jou poetsteiken sal onder die indruk wees dat die broodrooster (of welke toebehoor jy ook al gekies het) nou met sy/haar stem geaktiveer kan word.

Stap 3: Lag jouself in ʼn papie as jy hoor hoe jou teiken met die gekose voorwerp(e) praat.

Vat ʼn blaaskans

Stap 1: Koop ʼn pakkie ballonne.

Stap 2: Gaan in jou poetsteiken se kamer of kantoor in en sit al hulle klein besittings in die ballonne.

Stap 3: Blaas die ballonne op.

Stap 4: Die persoon gaan baie gefrustreerd wees as hulle besef al hulle besittings sit in die ballonne vas.

Foto: ErzeWinanto, Flickr.
 

Onthou om dit prettig te hou! Die gedagte met Gekkedag is nie om mense seer te maak of in die gesig te vat nie …