Dis ʼn jammerte, maar ʼn feit: Baie mense kry net tyd vir lees wanneer hulle met vakansie is. En siende dat jy nie meer tyd kry vir lees nie, wil jy nie jou vakansie met ʼn slegte boek deurbring nie. Dit is waarom LekkeSlaap besluit het om jou te help met ʼn lekke vakansie-leeslys vol boeke wat perfek by elke vakansie-bestemming sal pas!

Kobra deur Deon Meyer - Kaapstad

Deon Meyer skryf boeiende boeke en Kobra stel beslis nie teleur nie! Hierdie boek is die ideale keuse vir ʼn vakansie in en om die Kaap. Die boek bevat tonele wat in die Kaapse middestad, Franschhoek en Stellenbosch afspeel, so jy sal jouself net nog meer in die boek kan verdiep deur dáár te wees. Talle Meyer-aanhangers het al Kobra sy beste roman tot dusver genoem. Die enigste beswaar is dat jy nie goeie geselskap gaan wees nie, want dis moeilik om hierdie outjie neer te sit as jy eers begin het.

ʼn Mens hoef nie ʼn tiener te wees om van hierdie boek te hou nie. Spud se dagboek-styl val dalk nie in jou smaak nie, maar die storie waarborg om jou hardop te laat lag! En by tye sal jy selfs ʼn traantjie wil pink, want die boek raak ook temas soos verlies en vriendskap op ʼn wyse aan wat nie cliché is nie. Van de Ruit is ʼn uitstekende verhaler en met Spud sal hy jou laat verlang na jou jare in die koshuis. Die skool in hierdie boek is gebaseer op Michaelhouse in die Balgowan-vallei, so dis ideaal vir ʼn vakansie in die Midlands-kronkeling van KwaZulu-Natal.

fees

Fees van die Ongenooides is nie ligte leesstof nie, maar dis beslis briljant! Dit is waarskynlik een van die beste boeke wat tot op hede oor die Anglo-Boereoorlog geskryf is. Die skrywer, Dr. P.G. du Plessis, se benadering tot hierdie bittere stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis is nie net goed nagevors nie, maar die verhaal en karakters is ook uiters geloofwaardig. Hierdie boek is die ideale leesstof tydens ʼn besoek aan Bloemfontein, en veral die Anglo-Boereoorlog Museum, wat hier geleë is.

zoo

Zoo City is ʼn boek met vele genres. Die verhaal speel af in ʼn verbeelde Johannesburg waar misdadigers elkeen ʼn dier, oftewel spirit animal, kry wat dien as ʼn manifestasie van die misdaad wat hulle gepleeg het. Hierdie dier volg hulle oral rond. Die misdadigers kry ook elkeen ʼn spesiale talent by hul dier en die hoofkarakter, Zinzi December, se talent is om verlore dinge op te spoor. Die verhaal sal jou meesleep en Beukes se skryfstyl is ongelooflik pakkend. Daar is nie ʼn beter plek om hierdie opwindende boek te lees as in die opwindendste stad in Suid-Afrika nie – Johannesburg!

kringe

Die kans is goed dat jy al hierdie ikoniese roman gelees het, maar Kringe in ʼn bos is ʼn verhaal wat jy maar gerus weer kan lees op die Tuinroete. Kringe in ʼn bos vertel die aangrypende storie van een man se verhouding met die woud en natuurlik, Oupoot. Saul Barnard is gebore en getoë in die bos en hy kan nie die woud agterlaat nie, maak nie saak hoe hard hy probeer nie. Maar die verhaal handel ook oor ʼn storie wat veel groter is as Saul se doen en late. Die mens se hebsug word op sinnebeeldige wyse in die woud weergegee en dus word hierdie roman, met vandag se omgewingskwessies, al hoe meer relevant.

weskus

The Old Man and the Sea is ʼn dun boekie, maar hy sal baie groter voel as jy hom eers klaar gelees het. Die boek handel oor ʼn visserman, Santiago, wat nie net ʼn karakter met baie fisiese krag is nie, maar ook ʼn man met ruggraat. Sy karakter is baie wêreldgesind, nogtans bepeins Santiago baie groter kwessies. Hierdie boek is die perfekte leesstof vir ʼn besoek aan die Weskus met sy sonderlinge skoonheid, nie net vir die boeiende verhaal van die visserman nie, maar ook vir die morele perspektief wat die verhaal bied.

heart of redness

Hierdie roman deur Zakes Mda speel in ʼn nedersetting in die Oos-Kaap af, en die verhaal spring voortdurend tussen die verlede en die hede rond ten einde ʼn uitstekende satiriese blik op Suid-Afrika se geskiedenis te werp. Heart of Redness is ʼn kragtige, tragiese, en soms ook snaakse verhaal. Daar is beslis elemente van magiese realisme in hierdie roman te vinde. Mda se boek is die ideale reisgenoot vir ʼn besoek aan die Oos-Kaapse platteland – die tonele in die klein dorpie waarheen Camagu in die roman reis, sal soveel meer om die lyf  kry as jy jouself ook in daardie geweste bevind.

end

Wat is jou gunsteling-boek om te lees as jy met vakansie is? Het jy onlangs iets gelees wat jy by mede-LekkeSlapers wil aanbeveel? Skryf gerus jou kommentaar in die onderstaande blokkie.