Outeniekwa/Harkerville-staptoer: die Tuinroete te voet
Ankia Wolf, 11 February 2015
Reading time: 6 minutes
Vir my is daar niks wat naby die betowerende Tuinroete kom nie. Kan mens werklik die Tuinroete in ‘n blog-inskrywing opsom? Beslis nie! Daarom deel ek eerder my mees onlangse ontmoeting met dié hartsplek deur foto’s. Vir my is die Tuinroete sinoniem met vakansie: kampeer in die Tsitsikamma-woud naby die oulike stranddorpie Nature’s Valley of aan die oewer van die Touwrivier in Wilderness; bly in ‘n vakansiewoonstel of -rondawel in Hartenbos vir ‘n sporttoer; besoek Mosselbaai en oornag in ‘n luukse woonstel in Diaz-strand of gaan swem in Sedgefield se gewilde strandmeer. Dit is eers onlangs dat ek ‘n meer avontuurlustige manier ontdek het om die Tuinroete te verken: die Outeniekwa/Harkerville-staproete!
Dié asemrowende staproete is ‘n kombinasie van die meer bekende 7 dae lange Outeniekwa-staproete vanaf Beervlei Forestry Station tot by die Harkerville-hut deur die Knysna-woud en die 2 dae lange Harkerville-roete wat langs die kus en oor klipstrande strek. Herbeleef saam met my dié buitengewone en asemrowende reis vanaf die Diepwalle-hut tot by die Harkerville-hut!

Dag 1 se roete is (indien jy ‘n behoorlike kaart het) 13 km (±5 uur) lank. Daar is verskeie wandelpaaie wat jy kan volg as jy ‘n bietjie meer van die woud wil sien, byvoorbeeld die Terblans Nature Walk. Ek sou jou wel eerder aanraai om aan te stap, want ‘n stewige bultjie wag op jou ‘n paar kilometer verder. Gelukkig maak die uitsig bo-op die bult jou sweet en trane die moeite werd, so hou jou kamera gereed!


Bo: Bo-op ‘n bielie van ‘n bult, maar die uitsig is die moeite werd.




‘n Paar ander roetes oorkruis dié een van 16 km (±6 uur), so pasop dat jy nie per ongeluk op die verkeerde roete beland nie. Die hoogtepunt van die roete is die twee lekker rusplekke langs die rivier waar jy middagete kan eet of selfs kan swem!







Dag 3 se roete is die kortste – 12 km (±4,5 uur). Dit is ‘n lekker maklike roete wat eenvoudig deur die woud strek en jou die geleentheid bied om eers rustig by die Tuin van Eden (op die N2) te stop vir middagete, sou jy wou. Daarna steek jy die N2 oor op pad na die Harkerville-hut, die eindpunt van die Outeniekwa-roete en die begin van die Harkerville-kusroete!





Dag 4 se 14,6 km (±6 uur) hou vir jou ‘n verrassing in. Na ‘n ent se stap deur die welige, inheemse woud tussen die fassinerende varings en ander flora sien jy skielik die woud agter jou en dan slaan ‘n asemrowende kuslyn jou asem weg! Hier en daar klouter jy met behulp van kettings steil leertjies die rotse uit en stap oor houtbruggies. Dag 4 se hoogtepunt is ongetwyfeld die pragtige klipstrande waar jy vir jou seer lyf en blaasvoete in die seewater kan lawe. Kies ‘n lekker skadukol vir ‘n piekniekplek en gaan baljaar in die blou-blou water!




Bo: Ons eerste blik op die see!




Bo: Uiteindelik bereik ons die salige seewater!



Bo: As jy wou weet hoe dit onder die blou-blou water lyk …





Die laaste dag se roete strek 12,4 km (±6 uur) ver, eers tussen, bo-oor en onderdeur indrukwekkende rotsformasies op die klipstrande en dan tot bo-op ‘n hemelhoë krans waar jy weer jou kragte lekker kan herwin met jou laaste rugsakmiddagete. Dit is eenvoudig onmoontlik om die absolute skoonheid van Dag 5 se uitsigte en natuurtonele te beskryf … Kyk net bietjie hieronder!




Bo: Laat ek eers bietjie rus man!






Vanaf die middagete-rusplek stap jy verby ‘n pragtige waterval voor jy weer die woud en ‘n paar laaste bultjies aandurf. Voor jy jou oë kan uitvee is jy weer terug by die Harkerville-hut. As jy ‘n kranige bergfietsryer is, kan jy ook oorweeg om een van die verskeie bergfietsroetes langs die kuslyn uit te toets – pasop net dat die uitsig jou nie so betower dat jy van jou fiets af foeter nie!

Kos
Lekkers en peuselgoed
Twee waterbottels (een met energiedrankie)
Wetwipes
Reënbaadjie
Sonskerm
Sonhoed
Muskietafweerder
Klere vir elke dag (minstens ‘n skoon hemp), swemklere en slaapklere
Sjampoe, seep, tandeborsel en -pasta
Basiese medisyne: pynstillers, anti-inflammatoriese room, oogdruppels, antiseptiese room
Baie pleisters
Slaapsak
Opblaaskussing
Batterye
Kopflits
Tou
Spaarveters
Gasstofie met vuuraansteker
Potjie en pannetjie
Plastiekkoffiebeker en -bord
Knipmes
3-in-1-eetgerei
Blikoopmaker
Wasgoedpennetjies
Opwasmiddel
Vullissak
Braaitang
Ziploc-sakkies
Naald en gare
‘n Jammerlappie
‘n Waterdigte bedekking vir my rugsak
Selfoon in waterdigte sakkie
Kamera
Speelkaarte


Kies ‘n oorslaapplek vir die aand voor die groot stap begin! Ons was ‘n groep studente en jong werkendes so ons het besluit om in rugsakreisigerlosies oor te bly en dit was baie aangenaam. Hier is ‘n paar lekke lêplekkies vir jou en jou stapgroep:
Elephants Rest Backpackers Lodge
Forest Edge
Guadeloupe Selfsorg
Hillview
Paradise Found
Phantom View Lodges
Sun Valley Place
Syringa Tree Kothuis
Under Milkwood Chalets








