Gauteng is ‘n Sotho woord wat beteken “plek van goud” en die provinsie is sowaar vir ons land goud werd. Maar buiten hierdie rykdom, is Gauteng ook ryk aan naamgenote regoor die wêreld.

Chantelle

Chantelle is ‘n voorstad van Pretoria in Gauteng. Dit is noordwes van Pretoria geleë. Hierdie plek se naamgenoot is ‘n kommune in die middel van Frankryk.

Devon

Devon is ‘n klein myndorpie in Gauteng 40 km suidoos van Springs. Dié dorp is blykbaar vernoem na die graafskap, Devon, in Engeland. Die dorp het ook ‘n naamgenoot in Pennsilvanië wat veral bekend is vir die Devon-perdeskou, die oudste en grootste een in Amerika!

Edenvale

Edenvale is aan die Oos-Rand van Gauteng geleë. Die dorp het ontstaan rondom die Rietfontein-myn en is waarskynlik na John Eden, een van die eienaars van die plaas, vernoem. Die dorp se naamgenoot is ‘n residensiële gebied in San Jose, Kalifornië in die VSA.

Heidelberg

Hierdie dorp in Gauteng is aan die voet van die Suikerbosrand geleë. Dis in 1862 as ‘n handelstasie gestig deur ‘n Duitser met die naam Heinrich Julius Ueckermann wat die dorp na sy geboorteplek vernoem het. Sy geboorteplek is Heidelberg in Duitsland wat natuurlik tot vandag toe nog die naamgenoot van hierdie Gautengse dorp is. Heidelberg het selfs nog ‘n naamgenoot in die Wes-Kaap ook!

Linden

Linden is ‘n voorstad van Johannesburg en dit grens aan Randburg. Die voorstad se naamgenoot is ‘n stad in New Jersey in die VSA. Verder is daar ook ‘n hele paar voorstede en dorpe met die naam Linden in Duitsland.

Lyttelton

Lyttelton is ‘n voorstad van Centurion in Gauteng. Die voorstad is vernoem na Alfred Lyttelton en het ook ‘n naamgenoot in Nieu-Seeland. Lyttelton in Nieu-Seeland is ‘n hawedorp wat voor die Europese setlaars se aankoms in 1770 deur die Maori’s bewoon is.

Pretoria

Pretoria is die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika. Die stad self is in 1855 gestig deur Marthinus Pretorius, die leier van die Voortrekkers. Glo dit of nie, hierdie stad het ‘n naamgenoot op ‘n Karibiese Eiland met die naam St. Vincent en die Grenadines naby aan Barbados.

Wil jy weet watter naamgenote daar in jou provinsie is? Ons het vir jou die Noord-Kaap, Mpumalanga en die Vrystaat se naamgenote versamel. Of hou ons blog dop vir die volgende inskrywing!