Dié treffende aanhaling begroet ’n mens wanneer jy by Kanonkop Wynlandgoed se proelokaal instap. Vinnig besef ’n mens dat dit nie sommer net ’n tong-in-die-kies-stelling is nie ─ in Suid-Afrika is die wynmakers doodernstig oor hul pinotage-passie! Dit is immers Suid-Afrika se enigste inheemse variëteit en wyn wat uniek is aan ons pragtige land.

Alles begin by Stellenbosch Wine Routes se kantore in Kerkstraat 47 in die Eikestad. Die Stellenbosch-omgewing is die tuiste van een van die langste wynroetes in die land en daar is gereeld opwindende inisiatiewe, soos die Pinotage Root. Annareth Bolton, die hoofuitvoerende beampte van Stellenbosch se wynroete, sê die Pinotage Root is uiteengesit om ’n unieke ervaring aan wynliefhebbers te bied.

By Stellenbosch Wine Routes sal jy ál die inligting ontvang oor die Pinotage Root.

Die taalnuuskierige binne my het natuurlik gewonder oor die Root van ‘Pinotage Root’. Die antwoord is heel eenvoudig: Dis die kombinasie van terugkeer na jou wortels (roots) en dan natuurlik die verkenning van die pinotage-roete rondom Stellenbosch. Ek het gou besef dat dié roete ’n wenner is, hoe dit nou ook al gespel word!

Ons het 4 wynplase besoek: L’AvenirKanonkop, Simonsig en Beyerskloof. Hierdie plase is relatief naby mekaar, so dit is maklik om almal sommer op een daguitstappie te besoek. Skakel 021 886 4310 of stuur ’n e-pos aan info@wineroute.co.za om jóú uitstappie te reël.

Pretbrokkie: L’Avenir beteken “die toekoms” in Frans, en na ’n besoek aan hierdie pragplaas sal elkeen saamstem dat L’Avenir se toekoms vir seker rooskleurig lyk.

Swierig en statig by L’Avenir.

L’Avenir se Rosé de Pinotage was definitief my gunsteling. Dit bestaan uit 100% pinotage met heerlike aarbei- en waatlemoen-aromas en dit sal jou glad nie baie uit die sak jaag nie!

Links: Tjorts op ’n lieflike uitsig by L’Avenir. Regs: Wyn-uitstalling in L’Avenir se Pinotage Lounge.

As jy jou nie kan wegskeur van die skouspelagtige uitsigte by L’Avenir nie, kan jy sommer hier oornag ook! L’Avenir Country Lodge is ’n boetiek-landgoed op die wynplaas net buite Stellenbosch. Die lodge spog met boomryke lanings en Kaap-Hollandse argitektuur.

L’Avenir Country Lodge. Foto’s: LekkeSlaap.

Pretbrokkie: Die naam Kanonkop is afkomstig van ’n “kopje” (’n bultjie) waar ’n kanon in die 17de eeu afgevuur is om die boere in kennis te stel dat die Europese-skepe Tafelbaai bereik het om in die Kaap te oornag.

Links: Kanonkop Wynlandgoed. Regs: Abrie Beeslaar, Kanonkop se wynmaker.

Dit is by die einste Kanonkop waar die eerste pinotage-wingerde in 1941 geplant is. Met die ryk geskiedenis van pinotage in Suid-Afrika, kan ’n mens nie anders as om jouself te bederf met ’n heerlike uitstappie op Stellenbosch se pinotage-roete nie. Ons het veral die 2014 Kadette Pinotage geniet, ’n wyn wat veral pasta- en rooivleis-disse komplementeer.

Vir verblyf naby aan Kanonkop, kan jy gerus Hawksmoor House besoek! Dit is geleë op Matjieskuil, ’n wynplaas van 220 hektaar, en hierdie noukeurig gerestoureerde Kaap-Hollandse toevlugsoord het 16 en suite-kamers – elkeen pragtig en individueel versier.

Hawksmoor House, 11 km van Kanonkop af. Foto’s: LekkeSlaap.

Pretbrokkie: Simonsig bied ’n dekadente paring van vonkelwyn en kolwyntjies. Die volgende 3 samestellings word voorgesit: Die 2010 Kaapse Vonkel met  ’n roomkaas-versierde wortelkoek, die Kaapse Vonkel Brut Rosé 2012 met ’n madeleine-koekie met bloubessie en suurlemoen en laastens die Simonsig Cuvée Royale 2010 saam met ’n kolwyntjie met suurlemoen-papawersaad.

Daar is verskeie pragtige blyplekke naby aan Simonsig, loer gerus hier vir ’n lekke naweekwegbreekplek!

Simonsig se prentjiemooi uitsig en middagete-bederf by hul Cuvée-restaurant.

Ons het heerlik geëet by Simonsig se Cuvée-restaurant. Kyk gerus na die watertand-disse op hul spyskaart ─ jy kan nie verkeerd gaan met ’n Sondagmiddag-gesinsete by Cuvée nie! Moet ook nie vergeet van Simonsig se versameling pinotage nie! Hulle het al vele pryse hiervoor gewen.

Links: Die eienaar van Simonsig, Francois Malan, en sy vrou. Regs: Beyers Truter van Beyerskloof.

Pretbrokkie: Wynliefhebbers verwys na Beyers Truter as “Mnr. Pinotage”. In 1991 het hy die eerste Suid-Afrikaner geword om die gesogte Internasionale Wynmaker van die Jaar Prys te verower by die Internasionale Wyn & Spiritus Kompetisie (IWSC). En op ’n heel ander noot: Hy het op sy dag selfs ’n gedig geskryf oor sy passie en in 2009 het Koos Kombuis die Pinotage-gedig getoonset en opgeneem. Luister gerus na ’n uittreksel uit die liedjie hier.

Gesellig by Beyerskloof saam met proelokaalassistent, Sakkie “Pinotage” Fredericks.

Beyerskloof se pinotage is Suid-Afrika se gewildste een. Dit het sterk pruim- en swartbessiegeure en kan by enige geleentheid geniet word. Dit is glad nie verbasend dat Beyerskloof sinoniem is met pinotage nie. Met iemand soos Beyers Truter aan die stuur, kan dit eenvoudig net nie anders nie.

Maak seker jy beplan jóú volgende wegbreek om Stellenbosch se pinotage-roete te verken! Kliek hier vir meer inligting.

 
Foto’s verskaf deur Stellenbosch Wine Routes en waar niks gemeld word nie is dit die blogger se eie foto’s. 
Hooffoto: Stellenbosch Wine Routes