One&Only Cape Town is bekend vir luukse verblyf in die hartjie van die Moederstad, maar buiten die weelderige akkommodasie spog hulle ook met wêreldklas-restaurante. Een van dié restaurante is Reuben’s, met die gewilde sjef Reuben Riffel aan die stuur. Elke maand span Reuben’s en ’n vooraanstaande wynplaas kragte saam om ’n eksklusiewe fynproewersaand by One&Only aan te bied.

Op die 11de Mei was Muratie, ’n wynplaas net buite Stellenbosch, aan die beurt en gaste is bederf met ’n viergangete en ’n keur van Muratie se topwyne. Ons het aan die volgende spogdisse en -wyne gesmul:

Mille-feuille met oondgebraaide vye en bloukaas, en appel- en okkerneutslaai. Voorgesit saam met Muratie Ansela van de Caab 2012.

Mille-feuille met oondgebraaide vye en bloukaas, en appel- en okkerneutslaai. Voorgesit saam met Muratie Ansela van de Caab 2012.

Pangebraaide seebaars in mosselbredie met babaspinasie en geurige kruiebotter. Voorgesit saam met Isabella Chardonnay 2015.

Pangebraaide seebaars in mosselbredie met babaspinasie en geurige kruiebotter. Voorgesit saam met Isabella Chardonnay 2015.

Sous vide koedoe- en wildebeeslende en sampioen-risotto in rooiwyn. Voorgesit saam met George Paul Canitz Pinot Noir 2013.

Sous vide koedoe- en wildebeeslende en sampioen-risotto in rooiwyn. Voorgesit saam met George Paul Canitz Pinot Noir 2013.

Tripelsjokolade-brownie, glühwein-bessies, mascarpone-roomys en aarbei-pavlova. Voorgesit saam met Ben Prins Cape Vintage 2011.

Tripelsjokolade-brownie, glühwein-bessies, mascarpone-roomys en aarbei-pavlova. Voorgesit saam met Ben Prins Cape Vintage 2011.

Na dié fees van heerlike disse en wyne het ons sommer die geleentheid gebruik om ’n paar vrae aan Reuben te rig.

Vrae aan Reuben Riffel

Reuben Riffel

♦ Wat is die vraag wat die heel meeste aan jou gevra word?

   Reuben: Mense vra my altyd of ek regtig Robertsons-speserye gebruik.

♦ Wat is jou gunsteling-gereg?

   Reuben: My ma se hoender-breyani.

♦ Eet jy ooit kitskos?

   Reuben: Ja, ek hou van Nando’s se peri-peri hoender en soms kry ek ’n craving vir KFC!

***

As dié foto’s jou mond laat water het, raai ons aan dat jy op 15 Junie 2016 die volgende fynproewersaand saam met die wynplaas Noble Hill bywoon. Vadersdag is om die draai en dit is die ideale geleentheid om Pa ’n bietjie te bederf. Die volledige program vir die fynproewersaande is hier beskikbaar.

Foto’s: Andrea Krüger