Die kar is propvol gelaai. Julle het skaars ‘n halfuur gery en die klagtes van verveeldheid begin. Gelukkig het julle nog net ‘n paar hónderd kilometer om te gaan …

Daar is talle toestelle wat deesdae vermaak in die kar kan verskaf, maar niks is so lekke soos ‘n paar karspeletjies om die langpad sommer baie korter te laat voel nie. LekkeSlaap het ‘n paar oulike speletjies wat enigeen, jonk of oud, sal laat lag van plesier.

1. Die Inkopielys

Hierdie speletjie is ‘n geheue-spel wat met die alfabet werk. Om te begin moet die eerste speler ‘n item noem wat op ‘n inkopielys sal verskyn, wat met die letter ‘A’ begin. As die eerste item dan byvoorbeeld, ‘appels’ is, sal die tweede speler ‘appels’ herhaal, en byvoorbeeld ‘botter’ byvoeg. Hoe langer die spel aanhou, hoe moeiliker raak dit om al die items te onthou, en sodra jy ‘n item vergeet, is jy uit, totdat die persoon wat die langste uithou, uiteindelik wen. Dit is ‘n baie aanpasbare speletjie, so as julle nie van inkopies hou nie kan dieselfde spel met diere of plekke gespeel word.

2. 30 Seconds

Nog ‘n oulike idee, is om ‘n onmededingende rondte 30 Seconds in die kar te speel, waar slegs die kaartjies gebruik word.

3. Die Windpomp-speletjie

Dié spel is so eenvoudig soos die naam, maar dit sal ure se genot in die platteland verskaf. Die doel van die spel is bloot om soveel as moontlik windpompe langs die pad raak te sien. Die speler wat die meeste windpompe raakgesien het teen die tyd dat julle die bestemming bereik, wen natuurlik.

4. Die Tonnel

In hierdie spel moet elkeen in die kar (behalwe die bestuurder!) hul asem ophou wanneer julle by ‘n tonnel ingaan, en kyk wie die langste kan uithou. Die bestuurder kan sommer die jongspan op die agtersitplek in die truspieëltjie dophou, om seker te maak niemand kroek nie.

5. Storietyd

Een passasier begin die storie deur een volsin uit te dink. Die volgende persoon las dan nog ‘n sin by en so gaan julle aan totdat ‘n volledige storie ontstaan. Julle sal mekaar verbaas met julle kreatiwiteit!

6. Die Dierespel

Hierdie spel werk net in die platteland, waar baie diere langs die pad gesien word. Dis eenvoudig, wanneer jy ‘n dier sien moet jy eerste die dier se geluid maak vir ‘n punt. As jy byvoorbeeld ‘n koei sien, moet jy “mooooooo” sê. Julle kan speel totdat iemand ‘n vasgestelde hoeveelheid punte bereik. Die een wat dus eerste, bv. 10 punte kry, wen die spel.

7. Twintig Vrae

Iemand in die kar dink aan iets – enigiets! Die ander passasiers mag dan 20 vrae vra (die antwoorde mag net ja/nee wees) om te probeer uitvind waaraan die mens dink. As die ander nie binne 20 vrae kan raai wat dit is nie, verloor hulle, en ‘n nuwe rondte begin waar iemand anders weer aan iets kan dink.

8. Wie sing dit?

In hierdie spel moet julle na die radio of ander musiek luister. Julle moet dan kyk wie met elke nuwe liedjie wat speel kan raai wie dit sing!

9. Kar-krieket

Hierdie is ‘n baie lekker speletjie as die verveeldheid begin toesak. Dit kom daarop neer dat julle (soos in krieket) kyk wie die meeste lopies kan insamel. ‘n Mercedes tel vir ‘n 6, ‘n BMW is 4 lopies, as jy ‘n Nissan sien is jy uit, en al die ander karre tel vir 1 lopie.

10. Liriekeraai

In hierdie spel sê iemand ‘n woord, byvoorbeeld die woord “motor”, en dan moet julle kyk wie eerste ‘n liedjie met daardie woord kan sing, soos byvoorbeeld “My oom se motor is ‘n ou masjien”. Die wenner kan dan ‘n ander woord kies, soos byvoorbeeld “gras” en kyk wie eerste ‘n liedjie met daardie woord kan sing.