Van Kuruman tot in die Kaap gaap die kraaie en sukkel die vrieskaste om voor te bly ‒ dankie tog Eskom hou darem deesdae kop bo water! Ek het gaan rondsnuffel vir ’n paar yskoue drankie-resepte wat jou sal help om die hittegolf te ry met ’n glimlag op jou gesig.

1. Ystee

Suid-Afrika se kruideniersrakke loop deesdae oor van die ystee ‒ BOS, Lipton en Fuze Tea, noem maar op. Maar hierdie “fabriek-ystee” is dikwels te soet, vol preserveermiddels en meestal te duur. Maak ’n slag jou eie ystee ‒ al wat dit kos is ’n appel en ’n ei, en ’n klein bietjie moeite. Ek is mal oor tuisgemaakte ystee omdat ek dit presies so soet kan maak as wat ek dit verkies.

Bestanddele:  

1 liter rooibostee
1 liter Ceres Berry Ice Tea Cordial
’n handvol bessies

Metode:

1. Brou die rooibostee lekker sterk.

2. Maak die vrugtestroop (“cordial”) aan.

3. Wag tot die rooibostee louwarm is, meng dit met die vrugtestroop en laat die mengsel afkoel.

4. Voeg suiker by na smaak.

5. Voeg die bessies en ys by.

Wenk: Dié kalant is nogal sterk, so verdun dit gerus.

2. Limonade

My Amerikaanse vriend en kollega, Spencer Tobi, het my gehelp met dié een. Tuisgemaakte limonade is nét so Amerikaans soos burgers en melkskommels. As kind het ek daarvan gedroom om aan te klop by een van die limonade-stalletjies wat ek so dikwels in die flieks gesien het. Spencer se tuisgemaakte limonade is uiters verfrissend en ek reken dit is die beste teenvoeter vir die knaende hitte.

Bestanddele:    

8 suurlemoene
¼ koppie suiker
1 koppie louwarm water

Metode:

1. Druk die sap uit die suurlemoene.

2. Voeg die suiker by die water en roer totdat al die suiker opgelos is.

3. Voeg die suurlemoensap by die suikerwater.

4. Gooi yskoue water in glase en voeg die suurlemoen- en suikerkonsentraat by die water totdat die limonade sterk genoeg is na jou smaak.

Wenk: Gebruik “rou” rietsuiker.

3. Spogwater met sitrus en komkommer

waterfinaal

Kikker die water ’n bietjie op vir jou gaste – dis tog altyd lekker as mens kan sien die gasheer en gasvrou het moeite gedoen! ’n Beker spogwater is soms ál stukkie afronding wat ’n mooi gedekte tafel skort. Jou gaste kan sommer hulself help en hoef nie in jou huis rond te dwaal op soek na lafenis nie.

Bestanddele:  

1 groot suurlemoen (in skywe gesny)
1 groot komkommer (in skywe gesny)
’n handvol kruisement
4 liter water

Metode:

1. Meng alles in ’n plastiekbeker en voeg ys by.

2. Skink in ’n spoggerige glasbeker.

Wenk: Voeg kappertjies by om dit nog fraaier wil maak.

 4. Pynappelbier

Pynappelbier in ’n mooi glas met ’n sambreeltjie en ’n strooitjie is vreeslik feestelik. Volg dié resep, skink vir jou ’n glas, vat ’n slukkie, maak jou oë toe, en bevind jouself skielik onder ’n palmboom in die Seychelles!

Bestanddele:

½ pynappel
¼ koppie rosyntjies
2½ koppies suiker
1 teelepel droë gis
3½ liter water

Metode:

1. Gooi die stronk weg.

2. Was die pynappel sonder om dit af te skil en sny dit in blokkies met skil en al.

3. Gooi al die bestanddele in ’n groot houer, meng deeglik en laat dit staan.

4. Roer 2 maal gedurende die volgende 72 uur.

5. Moenie komkommer nie ‒ dit moet ruik soos vrot vrugte terwyl die gis die geure ontwikkel.

6. Op die derde dag sal ’n heerlike “cider”-geur uit die houer opwel.

7. Skink dit deur ’n sif, gooi dit in bottels en plaas dit in die yskas.

Wenk: Versier elke glas met ’n pynappelskyfie!

5. Sangria

Ou Spaanse staatmaker met ’n Suid-Afrikaanse kinkel! My kollega, Elbé van Heerden, het huis toe gebel vir dié uitstekende resep. Bederf jou gaste met dié somerse drankie by jou volgende braai ‒ hulle hoef nie eers van wyn te hou nie. Na elke hemelse slukkie bly daar stukkies gegeurde vrugte in jou mond agter wat jou smaaknoppies in ’n beswyming sal bring!

Bestanddele:                                                              

2 koppies kookwater
2 rooibosteesakkies
½ koppie suiker
1 koppie lemoensap
1 lemoen, geskil en in skyfies gesny
1 suurlemoen, geskil en in skyfies gesny
1 appel, geskil en in blokkies gesny
1 bottel rooiwyn of Rosé-wyn (vir ligter Sangria)
500 ml gemmerlim (gemmerlimonade / “ginger ale”)
500 ml sodawater

Metode:

1. Laat trek die teesakkies in kookwater vir 5 minute.

2. Haal die teesakkies uit en roer suiker by.

3. Voeg lemoensap, wyn en vrugte by en laat dit afkoel.

4. Voeg die gemmerbier en sodawater by net voor jy dit op ys bedien.

Wenk: Voeg bloubessies by vir ekstra bederf!

Troef die hitte dié somer – beproef self een van hierdie lekke resepte!

* Hooffoto: Perthenia Thomas deur Pieter Wolhuter Photography

* Die eerste 14 foto’s: Pieter Wolhuter Photography

* Modelle: Spencer Tobi (Instansie-agent); Perthenia Thomas (Grafiese Ontwerper); Ankia Wolf (Blogger en Taalpraktisyn)