“Africanos sal jou asem wegslaan en dis baie meer as net ’n luukse hotel in die hartjie van Addo” ─ die Venters

Sitrusboorde en die beroemde Addo Olifant Nasionale Park is nie ál wat in die Sondagsriviervallei skuil nie … Africanos Country Estate is ’n hemelse hotel in die hartjie van Addo wat besoekers van regoor die wêreld lok. Hiér kan jy aan fynproewersdisse smul, snoesig slaap en selfs trou! LekkeSlaap het by Africanos ingeloer en ons vertel jou graag waarom jy óók hier moet kom kuier.

Storietyd

Die oorspronklike eienaar se ouma is van Griekse herkoms en daarom is die plaas Africanos gedoop ─ die Griekse woord vir “Afrika”.

Dié spoglandgoed is later deur Boeram en Elsa Venter gekoop wat die potensiaal van luukse verblyf in die Addo-omgewing raakgesien het. Hulle het die grootste deel van die perseel afgebreek en herbou waarna Africanos Country Estate se deure amptelik in November 2014 heropen is. Dis sedertdien ’n gewilde gesinsbestemming en ook ’n internasionale trekpleister.

Trouklokkies

Africanos is ’n romantiese bestemming waar jy liries kan raak oor die liefde! Paartjies kom van heinde en verre om hulle droomdag hier te kom vier en bruide word behoorlik bederf.

As julle ’n intieme seremonie wil hê, is die kapel ideaal omdat daar net plek vir 90 gaste is. Julle kan ook die jawoord langs die fabelagtige fontein voor 200 gaste gee. As julle egter op jul groot dag so na as moontlik aan Moeder Natuur wil wees, kan julle tussen die bome trou waar 300 gaste dié spesiale oomblik met julle kan deel. Boonop kan julle ook op die Venter-familieplaas langs Africanos ewige trou sweer terwyl julle die Sondagsriviervallei bewonder.

Die feesvierings begin met drankies langs die fontein of in die restaurant. Ná die seremonie is dit tyd om in die elegante onthaallokaal te kuier. Dié lokaal het plek vir 500 gaste en julle kan die uitleg kies ─ ’n banket, of aandete en dans. Om die troureëlings te vergemaklik is tafels, stoele, wit tafeldoeke, wit linne-servette, glase, breekware en eetgerei by die tarief ingesluit.

Dinkskrum

As jy ’n belangrike kliënt wil onthaal, ’n splinternuwe produk bekendstel, ’n konferensie hou wat oor ’n paar dae strek, of jou werknemers met ’n spanbounaweek wil bederf, is Africanos die antwoord. Die vreedsame omgewing en luukse geriewe beloof om te beïndruk en om enige moeë brein te herlaai.

Konferensiegeriewe sluit die volgende in:

Sitplek vir 50 tot 500 | lugversorging | die nuutste projektor, mikrofoon- en klankstelsel | 7 m breë skerm | raadsaal met elektroniese geriewe | spyseniering | dagkonferensiepakkette | plaas- en kultuurtoere

Plaaspret

Omdat die Addo Olifant Nasionale Park so na aan Africanos is, is daar geen diere op die perseel nie ─ dis egter alles behalwe vervelig op dié landgoed! Buiten die pragtroulokaal en lipleklekker kos, is Africanos die enigste bestemming in die vallei wat ’n opvoedkundige sitrustoer bied.

Tydens dié prettige toer ry jy agterop ’n trekkerwaentjie en ervaar die hele sitrus-oesproses. Jy kan aan ’n glasie vars lemoensap teug waarna jy jou eie sakkie lemoene kan pluk! Dié ervaring word afgesluit met ’n piekniek of Suid-Afrikaanse braai in die skilpadbewarea vanwaar jy jou aan die sitrusboorde en Sondagsriviervallei kan verkyk.

Knuppeldik

Ná ’n opwindende dag in die Addo-omgewing, kan jy by Africanos se à la carte-restaurant smul. Hulle het drie hoofsjefs wat jou beslis met kreatiewe kookkuns sal betower. Al bied die spyskaart iets van alles, moet jy definitief die ribbetjies en biefstuk probeer. Suid-Afrikaanse disse, soos volstruis en koedoe is ook gewild onder internasionale besoekers. Africanos koop bestanddele plaaslik aan en die meeste vars groente en speserye word op die perseel gekweek.

Buiten die restaurant se watertandlekker disse het Africanos ook die enigste soesji-kroeg in die omgewing. Elke Donderdagaand bars die restaurant behoorlik uit sy nate danksy die halfprys-soesji. Die tempura-garnale is bobaas en ander gunstelinge sluit Volcanoes, droë salmrolletjies, Africanos-verrassing en diepgebraaide tempura-rolletjies in.

As jy ’n groot soettand het, móét jy ’n fynproewermelkskommel probeer. Jy sal sukkel om tussen Candyland, Nutella, Bar-One & Espresso, Peppermint Crisp en Ouma se Melktert te kies!

Droomland

Africanos se luukse B&B-opsie is ideaal vir ’n gesinswegbreek of ’n paartjie wat uit die woelige stad wil ontsnap. Jy het minstens ’n naweek nodig sodat jy Africanos en die omgewing kan verken en die suites is ook gerieflik vir bruilofsgaste.

Elke suite het die volgende geriewe:

Koninggrootte-bed of 2 enkelbeddens | en suite-badkamer | privaat buitestort | gratis WiFi | TV met sekere DStv-kanale | lugversorging | verhitte handdoekrelings | elektroniese kluis | lessenaar | tee- en koffiemaakgeriewe | kamerjasse

Groen vingers

Africanos doen hulle deel om Moeder Aarde gelukkig te hou. Hiér word stortwater in ’n groot watertenk gepomp, deur ’n skoonmaakproses geneem en daarna in die tuin gebruik. Hulle gebruik ook wegneemetehouertjies van bamboes wat herwinbaar is.

Verder kweek Africanos hulle eie groente, soos blaarslaai, spinasie, tamaties, sprietuie en kool, asook kruie, soos roosmaryn en kruisement. Die roosboom is baie spesiaal omdat die blare in die Turkish Delight-poeding gebruik word. Africanos het ook verskeie toekomsplanne om nóg meer ekovriendelik te raak.

Verkenningstog

Wild is volop in die Sondagsriviervallei en jy kan nie dié omgewing besoek sonder om te gaan wildkyk nie. Hier is ’n rits opsies naby Africanos:

Addo Olifant Nasionale Park (10 km) | Kudu Ridge Game Ranch (10 km) | Lalibela Game Reserve (70 km) | Amakhala Game Reserve (53 km) | Schotia Safaris Private Game Reserve (52 km)

Ander doendinge in die omgewing:

Visvang | kunsvlieghengel | sandplankry | kanovaart | bootvaart | vierwielmotorfietsry | zipline | sonsondergangvaart

As jy in ’n toweragtige omgewing wil trou, jou kollegas wil motiveer, of as jy net op soek is na ’n rustige wegbreek uit die stad, is Africanos Country Estate nét wat jy nodig het. So, bespreek sommer nóú ’n naweek by Africanos en laat jou sorge soos mis voor die son verdwyn!

Hooffoto: Africanos Country Estate (LekkeSlaap)