Mpumalanga beteken “plek waar die son opkom” en sowaar as die son aan die hemel skyn, is dit een van die skilderagtigste plekke wat ek al ooit besoek het.

Dié provinsie is nie net ryk aan natuurwonders nie, Mpumalanga het ook talle dorpe met naamgenote regoor die wêreld, van Nederland tot Brasilië tot Skotland!

Amersfoort

Hierdie dorpie in Mpumalanga is in 1888 gestig. Die dorpie se naamgenoot is in Nederland, want dis vernoem na die geboorteplek van die Nederlanders wat dié dorpie in die Laeveld uitgelê het.

Amsterdam

Amsterdam is ‘n dorpie in Mpumalanga waar daar veral met skaap geboer word. Die dorpie is eers Roburnial genoem, maar die naam is in 1882 na Amsterdam verander ter ere van die geboorteplek van Eduard Bok, die staatsekretaris. Hierdie dorpie se naamgenoot is, natuurlik, die hoofstad van Nederland!

Barberton

Hierdie dorp in Mpumalanga vind sy oorsprong in die goudstormloop van die 1880’s. Barberton se naamgenoot is in die staat Ohio in Amerika geleë, en is in 1891 deur die nyweraar, Ohio Columbus Barber, gestig.

Belfast

Belfast is ‘n klein dorpie in Mpumalanga wat in 2010 tot eMakhazeni herdoop is. Hoewel hierdie dorpie met sy uitstekende forelhengelplekke nie meer met hierdie naam spog nie, is dit steeds noemenswaardig dat sy voormalige naamgenoot die grootste stad in Noord-Ierland is.

Ermelo

Ermelo is op 12 Februarie 1880 tot landdrosdistrik verklaar, en die dorp is deur ds. Frans Lion Cachet na sy tuisdorp in Nederland vernoem. Maar die Ermelo in Nederland is nie hierdie dorp se enigste naamgenoot nie, daar is ook ‘n Ermelo in Portugal!

Kinross

Hierdie myndorpie is die tuiste van omtrent 4 goudmyne en het eers rondom 1965 munisipale status verkry. Kinross se naamgenoot is ‘n ou markstad in Skotland wat naby aan Loch Leven geleë is.

Machadodorp

Machadodorp is ‘n klein dorp in Mpumalanga wat in 2010 amptelik hernoem is na eNtokozweni. Die dorp het begin as ‘n spoorwegstasie en is vernoem na Joachim Machado, die Portugese ingenieur wat die roete vir die Pretoria-Delagoabaai-spoorlyn uitgelê het. Dié dorpie se voormalige naamgenoot is ‘n plek met die naam Machado wat in die staat Minas Gerais in Brasilië geleë is.

Middelburg

Dié groot dorp in Mpumalanga se naam was eers Nasareth gewees, maar is in 1872 deur president T.F. Burgers na Middelburg verander omdat dit net mooi halfpad tussen Pretoria en Lydenburg lê (en Nasareth het hom aan melaatsheid laat dink!). Middelburg is ook ‘n stad in die Nederlandse provinsie Zeeland wat op die eiland Walcheren geleë is.

 Witrivier

Dié dorp net noord van Nelspruit in Mpumalanga is ‘n klein landboudorp. Die boere in hierdie gebied verbou veral vrugte, groente, blomme en daar is talle plantasies. Die Engelse verwys na hierdie dorp as White River, en die dorp het ‘n naamgenoot in Ontario, Kanada. White River in Kanada staan veral bekend as die geboorteplek van die beer wat as inspirasie gedien het vir die bekende Winnie the Pooh.

Wil jy weet watter naamgenote daar in jóú provinsie is? Kyk hier as jy in die Noord-Kaap bly, of hou die LekkeSlaap-blog dop vir die volgende inskrywing!