Die Limpopo-provinsie is dalk ryk aan wild en minerale, maar die provinsie het nie juis internasionale eweknieë nie! Dit blyk dat dié provinsie só eg Suid-Afrikaans is dat slegs 5 van sy dorpe naamgenote oorsee het.

Baltimore

Baltimore is ‘n klein dorpie in Limpopo wat ‘n naamgenoot in die VSA het. Die dorpie se naamgenoot is ‘n stad in Maryland in die VSA wat vernoem is na Cecil Calvert, die tweede Heer van Baltimore. Calvert was die grondlegger van Maryland en die stad is dus na hom vernoem.

Links: ‘n Wildsplaas naby Baltimore, Limpopo (foto: www.theauctioneer.co.za). Regs: Baltimore in die VSA. Foto: Mark Nakasone (Flickr)

Gravelotte

Gravelotte is ‘n klein dorpie in Lorraine in Frankryk. Dis veral bekend as die setel van die Slag van Gravelotte, ‘n geveg wat op 18 Augustus 1870 plaasgevind het tussen die Duitsers en die Franse in die Frans-Pruisiese oorlog. Dragonder Fritz Reuter was in die geveg betrokke en het ‘n gelofte afgelê dat hy, indien hy oorleef, ‘n sendeling sou word. Hy het alle gevare te bowe gekom en na die Transvaal emigreer waar hy toe sy plaas na Gravelotte vernoem het. Gevolglik het hierdie dorpie ook dié naam geërf.

Links: Gravelotte in Limpopo (https://sa.travel-directory.co.za). Regs: Gravelotte in Frankryk (ww.map-france.com, N. Guirkinger).

Londen

Ja, jy het reg gelees, ons het ‘n Londen in Limpopo. Dis nie heeltemal duidelik waarom dié plek na die Britte se hoofstad vernoem is nie, maar die feit dat ons ons eie Londen het, is klaar genoeg. Ek wed Engeland het nie ‘n Limpopo nie!

Links: Londen in Limpopo. (Foto: Google Maps). Regs: Londen in Engeland. (Foto: Google Maps).

Metz

Metz is ‘n stad in Frankryk met ‘n ryk geskiedenis. Die stad is die ekonomiese middelpunt van die Lorraine-streek en is nie te ver van Gravelotte af geleë nie. Ons het ook ons eie Metz in Suid-Afrika in die Limpopo-provinsie.

Bo: Metz in Limpopo (Google Maps). Onder: Metz in Frankryk (gaku. op Flickr)

Musina

Musina is geleë op die plek waar die Musina-stam koper ontdek het. Later, in die 20ste eeu, het Europese setlaars die koper herontdek en die dorp Messina genoem. In 2003 is die naam egter weer verander na Musina om die koloniale spelfout reg te stel. Interessant genoeg is daar ook ‘n dorpie met die naam Musina in Bulgarye.

Links: Die landskap by Musina in Limpopo (Foto: Willie Botha, Flickr).  Regs: Musina in Bulgarye (Foto: Alexander Nikolov, panoramio.com)
 

Wil jy weet watter naamgenote daar in jóú provinsie is? Hiér is GautengMpumalanga, die Vrystaat en die Noord-Kaap se naamgenote!

 

 

Hooffoto links: Willie Botha (Flickr), regs: Alexander Nikolov (panoramio.com). Ontwerp: Frances Strooh.