Die res van die wêreld se Best Westerns mag dalk dink hulle kraai koning, maar die beste in die weste is beslis ’n Kaapse ding. LekkeSlaap het onlangs op ’n woeste winderige dag in die Moederstad ’n draai by die Best Western Cape Suites Hotel in Zonnebloem gaan maak.

Tot die vroeë 19de eeu was Zonnebloem ’n eenvoudige plaasgemeenskap. Ná die stad ’n drastiese bevolkingstoename ervaar het, het dié gemeenskap deel van Distrik Ses geword. Vandag kan jy die geskiedenis van dié area in die Distrik Ses-museum gaan bekyk of deelneem aan ’n staptoer wat deur ’n oud-inwoner of gids begelei word.

Teen die voorheuwels van Tafelberg, lê ’n toevlugsoord met ’n uitsig oor die stad en baai wat ideaal is vir sakereisigers en toeriste wat in die stad wil kuier. Dié hotel is steeds na genoeg aan al die asemrowende besienswaardighede wat daagliks skares na die Kaap lok, maar sonder die kopseer van die strate se laataand-bedrywighede.

Met glimlagte en geselsies is ons vriendelik ingeteken en na die kamer begelei. Ons het in een van die Klassieke Eenslaapkamer-suites gebly en dié kamer het beslis alles wat jy nodig het. Ontbyt is ingesluit en daar is ’n restaurant op die perseel, maar die basiese geriewe soos ’n mikrogolfoond, ketel, yskassie en stoofplate is byderhand, sou jy ’n bietjie in jou kamer wou verwyl.

Buiten die heerlike Village Café, is daar ook ’n kristalhelder swembad, kroeg, wasgoeddienste en kinderoppasdienste teen ’n ekstra koste, en ’n speletjieskamer op die perseel.

Die suite is lekker ruim en die bed is yslik groot. Ek kon myself lekker uitstrek sonder om te vrees dat die monster onder die bed my voet, wat oor die kant hang, gaan beetkry.

Die volgende oggend maak ek my deur oop en Tafelberg se groen hange groet my so tussendeur die geboue. Die wind het darem effens bedaar en ek vat weer die (kort)pad na die ontvangsarea deur die “hoteldorpie” se strate om vir ’n heerlike buffet-ontbyt aan te sit. Daar is allerhande lekkernye op die spyskaart. Jogurt en vrugte, kouevleise en kaas, gebak, spek en eiers, koffie, tee en die lekkerste sappe. Ek het natuurlik hopeloos te veel geëet!

Ná ’n behoorlike nagrus en ’n heerlike ontbyt by The Village Café, het ek genoeg murg in my pype om die dag se bedrywighede aan te pak!

As jy ’n uiltjie in dié hotel kom knip en jy jouself besig wil hou, loer bietjie na hierdie doendinge:

Restaurante in die omgewing:
Active Sushi vir heerlike vars happies (gewoonlik op afslag – beplan net mooi).
Eastern Food Bazaar vir ’n Oosterse kinkel in die kabel.
Flatmountain Coffee Roasters vir ’n heerlike koppie boeretroos.

***

Baie dankie aan die Best Western Cape Suites Hotel-span vir die uitnodiging.

Hooffoto: Best Western Cape Suites Hotel