Kos- en drankliefhebbers is deesdae in die wolke oor al die plaasmarkte, slow food-feeste, en organiese markte om elke hoek en draai. Waar smulpape tot onlangs nog moes regkom met die skamele verskeidenheid op die rakke van kruidenierswinkels, kan hul deesdae net wag vir Saterdag en ’n draai maak by een van die honderde markies wat naweke soos paddastoele op plase, skougronde, dorps- en stadspleine opskiet. Die woorde slow food, organic en craft is dikwels ’n aanduiding dat die vars- en verwerkte produkte wat hier verkoop word van die beste vakmanskap getuig. Die koffierewolusie waaroor ek ’n rukkie terug geskryf het, hou verband met hierdie renaissance. Maar aangesien die meeste van ons op die oomblik onder die legendariese Suid-Afrikaanse son gebuk gaan, het ek gedink dit maak sin om meer uit te vind oor ’n ander rewolusie wat kort op die hakke van die koffierewolusie plaasvind.

Die Taproom by @devilspeakbc op Instagram.

Craft-bier, of “boetiekbier” in Afrikaans, is bier wat in klein hoeveelhede en met die klem op gehalte geproduseer word. Op die oomblik is daar 55 mikro-brouerye in Suid-Afrika, maar teen die tempo wat hierdie juwele deesdae die lig sien, is ek seker hierdie statistiek is alreeds verouderd. By die meeste van hierdie brouerye kan mens ook aansit vir ’n leersame bierproe-sessie. Ek het ’n lys van brouerye saamgestel waar jy hierdie somer ’n koue bier kan geniet en ook sommer meer oor hierdie ontluikende kultuur te wete kan kom.

Johannesburg

Gilroy: Laat Steve jou bekendstel aan sy lager, pale aleruby ale en dark ale.

Op die hoek van Beyers Naudé en die R114, Muldersdrift

Gilroy Brouery deur @willievds op Instagram

Beerhouse Fourways99 Plaaslike en internasionale biere kan hier geproe word.

1 Sunset Avenue, Fourways

Kaapstad

Devil’s Peak Brewing CompanyMenige bierliefhebber is van mening dat hierdie brouery tans op die kruin van die boetiekbiergolf is. Hulle King’s Blockhouse IPA (Indian Pale Ale) is die lekkerste bier waaraan ek al ooit my lippe gesit het!

95 Durham Avenue, Salt River

Darling BrewNog ’n rede om Pieter-Dirk Uys se tuisdorp te besoek! Begin met die Slow Beer met sy onmiskenbare heuningnasmaak en eindig met die Black Mist, ’n pikswart, donkergeroosterde ale.

Hoofstraat, Darling

Beerhouse on Long: 99 Plaaslike en internasionale biere kan hier geproe word.

223 langstraat, Kaapstad

Beerhouse on Long deur @willemientjie_91 op Instagram

Port Elizabeth

Bridge Street BreweryLex Mitchell het Suid-Afrika se eerste mikro-brouery in 1983 in Knysna gestig. Deesdae kan sy kuns by Bridge Street Brewery geproe word – bestel die Celtic Cross Premium Pilsener in die somer en die Black Dragon Double Chocolate Stout in die winter (en pasop vir die Bowman’s Natural Cider, ’n bedrieglike kalant wat die term “easy drinking” verpersoonlik!).

1 Bridge Street, Port Elizabeth

@thebeerbug - bridge street drewery
Bridge Street Brouwery deur @thebeerbug op Instagram

Beer Yard5 Boetiekbiere kan hier geproe word: Jack Black Lager, Boston Brewery se lager, IPA , Naked Mexican en Johnny Weiss.

1 Cooper Street, Richmond Hill

Durban

Porcupine Quill Brewing CompanyVat die pad van Durban af deur die Vallei van Duisend Heuwels en vra vir ’n blonde ale, amber ale of ’n English ale, jy sal nie spyt wees nie!

Old Main Road, Bothas Hill

Nottingham Road Brewing Company:  Net die beste hops en gars is goed genoeg vir hierdie brouery. Pale ale, lager, pilsner en ’n fris, donker bier word hier met die hand gebrou.

Rawdons Estate, Nottingham Road

Bloemfontein

Kaya BreweriesDie twee biermeesters wat hierdie brouery in 2010 gestig het, is trots op hul Cascade Blonde, Czeck Lager, Mystic Ale en Darkmoon Stout.

Bella Cassa; Seven on Kelner, Aasvoëlklub

Clarens BreweryOukei, so Clarens is nou wel bietjie meer as 3 ure se ry van Bloemfontein af, maar as jy eers kennis gemaak het met die boetiekbier in hierdie pragtige dorpie, sal jy vinnig vergeet van die langpad. Begin by die Clarens Blonde, probeer dan ’n Clarens IPA, gee jou Clarens English Ale ’n tydjie om asem te haal, en sluit af met ’n Clarens Stout.

Rosemary Centre, Clarens

Clarens Brouery deur @reatilepinto op Instagram

Ale vir Jan Alleman en lager vir die leke

Beïndruk jou vriende met ’n paar bierfeite as jy hulle volgende keer trakteer op ‘n paar boetiekbiere langs die braaivleisvuur.

AleIn Afrikaans staan dit bloot as “ligte bier” bekend. Gemoute gars en brouersgis word blootgestel aan ’n warm-fermentasie-proses en het ’n soet, vrugtige bier tot gevolg. Hops word dikwels bygevoeg om die mout se soetheid met ’n tikkie kruie en bitterheid te temper. Die gewildste ligte biere is brown ale, blonde aleamber ale en Indian pale ale (my gunsteling!).

LagerHierdie biersoort is die gewildste van die lot en word gebrou deur middel van koue-fermentasie. Mielies en rys word dikwels by die koring en hops gevoeg om die bier soeter en ligter te maak.

Weissbier“Weiss” is die Duits vir “wit” en dit verwys na die kleur van die bier. Om weissbier te maak, word ’n groot hoeveelheid van die gemoute gars wat gewoonlik gebruik word, vervang met gemoute koring. Bierkenners raak liries oor die piesang- en naeltjiegeure in hierdie bier.

Pilsner: Vernuftige Tsjegge in die stad Plzeň het vorendag gekom met hierdie verfrissende bier wat van Saaz-hops, ’n koninklike variëteit, gebrou word. Pilsner is die eerste keer in 1842 gebrou en kenners beweer die sukses van hierdie bier is grootliks te wyte aan die stad Plzeň se besonder sagte water.  As  jy volgende keer ’n paar koue slukke van ’n Pilsner Urquell vat, kan jy gerus dink aan die ryk geskiedenis van hierdie ikoniese bier.

Stout: ’n Donker bier wat gebrou word van geroosterde mout of gars, hops, water en gis. Die woord stout het oorspronklik verwys na die hoër alkoholinhoud van hierdie bier. Deesdae kry mens ’n groot verskeidenheid stouts van verskillende sterktes en geure. Guinness is waarskynlik die gewildste stout – bierliefhebbers kan gewoonlik nie genoeg kry van die ryk, donker kleur en geroosterde, koffie-agtige smake in hierdie donker Ier nie.

Dit is onmoontlik om in een blog reg te laat geskied aan al die opwindende verwikkelinge wat tans in ons bierkultuur aan die gang is. Hou hierdie spasie dop vir nog ’n blog oor brouerye waar jy kan gaan kyk (en proe!) hoe die land se beste bierkunstenaars toor met gars, hops en gis!