Al die maatjies gaan sit in ‘n donker kamer. Terwyl die “nagwag” buite wag, kies almal ‘n nommer. Sodra die lig afgesit word, kom die nagwag in die kamer en sê: “Die Nagwag is hier en die klok slaan 5! Is hier ‘n nommer 5?” Nommer 5 moet sy teenwoordigheid aandui met ‘n klop. Die nagwag gee dan vir nommer 5 ‘n opdrag, soos “brul soos ‘n leeu” of “piep soos ‘n muis.” Die nagwag moet raai wie die geluid maak. Sodra iemand uitgevang word, is hulle die nagwag.

Adam en Eva word in die swembad gespeel. Dit is soortgelyk aan donkerkamertjie of blindemol. Die soeker moet sy oë toe hou en sy maatjies vind. Die soeker skree dan “Adam,” waarna die wegkruipers moet antwoord “Eva!” Die soeker kan dan die stemme volg en die wegkruipers probeer vind.

Almal stap in ‘n ry agter die “wolf.” Elkeen kry ‘n beurt om te vra: “Wolf, Wolf, hoe laat is dit?”. Die wolf kan dan antwoord met ‘n tyd. Sodra die wolf sê “etenstyd!” moet almal weghardloop. As die wolf jou vang, is jy die nuwe wolf. 

Speler A is die koning wat op die een kant van die speelgrond op sy troon sit. Sy “onderdane” moet na hom toe gaan en sê “ons is tien klein kindertjies en ons soek werk!”. Die koning antwoord “watse werk?”. Die onderdane sê “enige werk!”. Die onderdane moet dan weggaan en besluit watter werk hulle moet doen. Hulle kom terug na die koning en demonstreer dan woordeloos die werk wat hulle doen. Sodra die koning kan raai wat hulle doen, moet almal na die ander punt toe hardloop. Die koning moet sy onderdane jaag en die persoon wat eerste gevang word, is die nuwe koning.

Die blikaspaai is ‘n blikkie met klippies in. Speler A plaas die blikkie in ‘n sirkel en tel dan tot by honderd terwyl al die kinders wegkruip. Sodra hy jou vind, skree hy: “Blikaspaai vir (persoon se naam,)” Speler A moet dan terughardloop na die sirkel, die blikkie skop en “blikaspaai” skree. Die ander wegkruipers weet dan hulle kan nuwe wegkruipplekke kry. Die persoon wat gevind is, moet eers die blikkie terug in die sirkel sit voor hy weer iemand kan begin soek.

Al die maatjies staan in ‘n afgebakende gebied terwyl iemand ‘n bal van buite af gooi. Sodra jy raakgegooi word, moet jy buite die hok staan. Die laaste bok in die hok is die wenner.

Toktokkie is ‘n stoutkindspeletjie. Jy lui iemand se deurklokkie en moet dan vinnig weghardloop voordat die huismense oopmaak. Die grootste uitdaging was altyd om die skoolhoof se deurklokkie te lui.

Oef, dit was ‘n vreesaanjaende speletjie! Twee kinders staan oorkant mekaar en maak ‘n boog met hulle arms. Al die ander moet onder die boog beweeg terwyl daar gesing word: “Koljander koljander so deur die bos, my ma en pa maak lekker kos. Die kinders verstik aan ‘n druiwetros …” Die laaste lirieke is “die laaste een se kop word afgekap,” waarna die boog (arms) gesak word en ‘n deelnemer vasgekeer word. Al die deelnemers moet so vinnig as moontlik beweeg sodat hulle “koppe nie afgekap” word nie.

Al die maatjies sit in ‘n kring, hande agter die rug gevou. Speler A hardloop om die kring en gooi ‘n klippie in iemand se hand. Sodra die klippie jou hand raak, moet jy vinnig om die kring hardloop en weer op jou plek sit, voordat Speler A jou plek inneem. As dit gebeur, moet jy in die middel gaan sit as die vrot eier tot die volgende maatjie uitgevang word.

My gunsteling-speletjie! Die speletjie werk amper soos wegkruipertjie. Speler A tel tot by honderd terwyl al die kinders wegkruip. Terwyl Speler A soek, moet jy probeer om ongemerk terug te hardloop na die tuisbasis. Sodra jy daar kom, skree jy “blok myself!”. As speler A jou egter gewaar voor jy die basis bereik, moet hy skree “blok jou,” en dan is jy die nuwe soeker. 

Middelmannetjie is doodeenvoudig. Twee maatjies gooi ‘n bal vir mekaar terwyl ‘n derde maatjie in die middel staan. Die middelman moet probeer om die bal te vang. Sodra hy dit regkry, word die persoon wie se gooi hy onderskep het die middelmannetjie. 

Hierdie speletjie het my juffrou altyd gebruik as ‘n stilmaak-taktiek. Almal sit in ‘n kring. Die eerste persoon fluister ‘n boodskap in die volgende persoon se oor. Só moet die boodskap al fluisterend oorgedra word, totdat dit die eerste persoon weer bereik. Die uiteindelike boodskap word dan met die oorspronklike ene vergelyk. 

Sykousspring of rekspring was ons gunsteling-speletjie in die laerskool. Drie maatjies speel dié speletjie. Twee staan met die rek om hulle kuite, terwyl een op die maat van ‘n rympie of liedjie oor die rek spring. “Coca-Cola, Fanta, Sprite, Inside, Outside, Inside, ON!” Ek was nooit besonders atleties nie, en het maar in die aande met die sykous om die eetkamertafel se stoele probeer oefen.

Handjietennis se reëls verskil van skool tot skool, maar dit is basies soos tennis wat met die handpalm gespeel word. Ek kan tot vandag onthou wie die Graad 5-klas se handjietenniskampioen was!

Almal staan in ‘n ry. Die eerste kind buk af waarna die tweede wydsbeen oor hom spring. (Met sy hande op die eerste bok se rug). Na die sprong buk die tweede bok sodat die derde bok oor hom spring. So kan die speletjie aanhou en aanhou.

Olke bolke riebiekie stolke, olke bolke knor. Êrie tjêrie tjiekerie tjêrie, êrie tjêrie tjorts …

Baie dankie aan die LekkeSlaap-span en Snoekie vir die oulike foto’s!