Reken jy dis net spinnerakke, stowwerige hoekies en stokou meubels wat agter historiese hotelle se mure skuil? Dan het jy die kat so effens aan die stert beet! Menige ou hotel is al deur die jare spoggerig opgeknap en bied luukse geriewe. Die negentiende- en vroeë twintigste-eeuse argitektuur het egter hoofsaaklik behoue gebly en so ook die verborge geheime en legendes. LekkeSlaap het talle historiese hotelle regoor Suid-Afrika uitgesoek en deel graag ’n paar verhale uit vergange dae waarvan sommige selfs jou hare sal laat rys!

Cathedral Peak Hotel

Drakensberge, KwaZulu-Natal

Dié hemelse hotel is in die Drakensberge se skadu gebou en vorm deel van ’n Wêrelderfenisgebied. Die grond is in 1936 deur die Van der Riet-gesin aangeskaf waarna die hoteldeure drie jaar later op Kersdag geopen is. Die hotel was aanvanklik ’n plek waar Tweede Wêreldoorlog-troepe kon aansterk. Vandag is dit moeilik om te glo dat die hotel weens sy afgeleë ligging destyds bykans onbereikbaar was.

Gebou: 1939
Slaapplek: Superieure, standaard- en gesinskamers en presidensiële en wittebroodsuites
Geriewe: 24 uur-ontvangs, kroeg, restaurant, lughawe-pendeldiens op versoek, kinderoppasser op versoek, skoonheidskliniek, spa-behandelings, swembad, speletjieskamer, gastesitkamer, wasgoeddiens, rolstoelvriendelike geriewe, gimnasium, gratis WiFi en konferensiegeriewe
Doendinge op die perseel: Perdry, kunsvlieghengel, visvang, forelhengel, baarshengel, voëlkyk, fietsry, begeleide wandelpaaie, bergfietsry, swem en tennis
Trekpleisters in die omgewing: Cathedral Peak Natuurreservaat, Drakensberg-toomtoptoere en Champagne Castle

Houw Hoek Hotel

Grabouw, Wes-Kaap

As jy uit die stadsgewoel wil ontsnap en ware plattelandse gasvryheid wil ervaar, is Houw Hoek Hotel die ideale rusoord. Gedurende die laat 1700’s toe die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie in Suid-Afrika handel gedryf het, was die hotel ’n wapad-tolhek. Daar word ook gemeen dat dié hotel die oudste dranklisensie in die land het ─ voorwaar ’n genotvolle bestemming!

Gebou: 1779
Slaapplek: 50 en suite-kamers
Geriewe: Kroeg, restaurant, kinderoppasser op versoek, swembad, speletjieskamer, gastesitkamer, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens, gratis WiFi en konferensiegeriewe
Doendinge op die perseel:  Fietsry, bergfietsry, swem en tennis
Trekpleisters in die omgewing: Kogelberg Natuurreservaat, Arabella Gholfbaan, voetslaanpaaie in die Hemel-en-Aardevallei

Royal Hotel

Pelgrimsrus, Mpumalanga

Jy sal dalk ’n entjie moet reis om by dié hotel uit te kom, maar om die waarheid te sê moes die hotel self reis om hier uit te kom! Die gebou was eers ’n kapel in Maputo, Mosambiek en was op ’n ossewa na sy huidige tuiste vervoer waarna dit elegant opgeknap is om sy eertydse Victoriaanse styl te behou. Die Royal Hotel spog ook met daardie beroemde openbare kroeg waarna David Kramer se lekker saamsing-liedjie verwys.

Gebou: 1894
Slaapplek: 50 en suite-kamers
Geriewe: 24 uur-ontvangs, kroeg, restaurant, lughawe-pendeldiens op versoek, kinderoppasser op versoek, braaiplek, gastesitkamer, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens, rolstoelvriendelike geriewe, gratis WiFi en konferensiegeriewe
Doendinge op die perseel: Perdry, kunsvlieghengel, visvang, forelhengel, baarshengel, voëlkyk, fietsry en begeleide wandelpaaie
Trekpleisters in die omgewing: Blyderivierpoort, Krugerwildtuin en Panoramaroete

Die Tuishuise & Victoria Manor

Cradock, Oos-Kaap

Cradock was destyds ’n bedrywige dorpie op die ossewa-roete en ’n rits reisigers het hier oornag. Die Tuishuise & Victoria Manor in Markstraat was egter taamlik berug omdat dit tydens die Anglo-Boereoorlog deur Britse magte beset is wat die kelder as tronk gebruik het. Die hotel en kothuise is in 1994 opgeknap, maar die Victoriaanse boustyl is behou en vandag is dit ’n deftige bestemming met antieke meubels wat die Engelse en Duitse setlaars se leefstyl weerspieël.

Gebou: 1848
Slaapplek: Selfsorgeenhede en hotelkamers
Geriewe: 24 uur-ontvangs, kroeg, restaurant, lughawe-pendeldiens op versoek, kinderoppasser op versoek, skoonheidskliniek, swembad, braaiplek, portierdiens, gastesitkamer, kombuisgeriewe, wasgoeddiens, troeteldiervriendelik, daaglikse skoonmaakdiens, rolstoelvriendelike geriewe, gratis WiFi en konferensiegeriewe
Doendinge op die perseel: Swem
Trekpleisters in die omgewing: Namakwa Nasionale Park, Olive Schreiner Museum en Mountain Zebra Nasionale Park

Cape Heritage Hotel

Kaapstad, Wes-Kaap

Dié hotel is in die Kaapse middestad gebou en vorm deel van die Erfenisplein. Soos menige agtiende-eeuse gebou het dit ’n binnehof en dis hiér waar Suid-Afrika se oudste wingerdstok in 1781 geplant is. Dié wingerdstok dra vandag nog druiwe sonder dat dit water gegee word! Die Cape Heritage Hotel en Erfenisplein was amper tot niet toe daar in die 1960’s beoog was om dit te sloop en ’n groot parkeerterrein te bou. Gelukkig was die fondse boomskraap en die projek het deur die mat geval. Die plein en hotel is in die 1980’s opgeknap en verskeie historiese karaktereienskappe het behoue gebly, soos oorspronklike muurafwerkings en muurkuns.

Gebou: 1780’s
Slaapplek: 17 en suite-kamers
Geriewe: 24 uur-ontvangs, kroeg, restaurant, lughawe-pendeldiens op versoek, kinderoppasser op versoek, spa-behandelings, Jacuzzi, portierdiens, gastesitkamer, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens en gratis WiFi
Doendinge op die perseel: Wynproe
Trekpleisters in die omgewing: V&A Waterfront, Tafelberg en Langstraat-restaurante

Drostdy Hotel

Graaff-Reinet, Oos-Kaap

Graaff-Reinet het meer as 220 erfenisgebiede en is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika. Dis daarom g’n wonder een van die oudste hotelle is hiér gebou nie! Die Franse argitek, Louis Thibault, het in die vroeë 1800’s opdrag gekry om ’n drostdy ─ Nederlands vir “landdros” ─ te ontwerp en dit was tot 1847 die plaaslike landdroswoning. In die 1870’s het dit vir die eerste keer as hotel gedien en byna ’n eeu nadat dit gebou is, is dit in ’n dubbelverdieping met ’n Victoriaanse fasade omskep. Vandag dien die ou hofsaal as ’n elegante eetkamer en die enigste geskille wat deesdae besleg word, is wat op die aandetespyskaart moet wees!

Gebou: 1806
Slaapplek: Luukse en standaardkamers
Geriewe: Kroeg, spa-behandelings, swembad, portierdiens, gastesitkamer, wasgoeddiens, restaurant, daaglikse skoonmaakdiens, gimnasium, gratis WiFi en konferensiegeriewe
Doendinge op die perseel: Swem
Trekpleisters in die omgewing: John Rupert-teater, Vallei van Verlatenheid en Die Uilhuis

The Marine

Hermanus, Wes-Kaap

The Marine is aan die begin van die twintigste eeu deur twee swaers gebou en al was daar eers geen water of elektrisiteit nie, het gaste drie dae per ossewa van Kaapstad af gereis om hiér te kom kuier. Deur die jare het die hotel telkens van eienaar verwissel en dis ook verskeie keer opgeknap. Dié statige dame is nou al meer as ’n eeu oud en definitief ’n wêreldklas-bestemming aan die Walviskus!

Gebou: 1902
Slaapplek: 40 en suite-kamers
Geriewe:  Kroeg, restaurant, spa-behandelings, swembad, gastesitkamer en gratis WiFi
Doendinge op die perseel: Swem
Trekpleisters in die omgewing: Walviskyk, Hermanus Ou Hawemuseum en Bientangsgrot

Queen’s Hotel

Oudtshoorn, Wes-Kaap

’n Reis deur die Klein-Karoo is nie volmaak sonder om ’n draai in die Volstruisparadys te maak nie. Hiér sal jy Queen’s Hotel aantref ─ ’n hotel wat oorspronklik uit klip en met ’n grasdak gebou is. Die kamers is baie stylvol en die koloniale styl kom sterk na vore ─ jy sal behoorlik weggevoer word na ’n era toe ’n volstruisveer in jou hoed hoogmode was!

Gebou: 1880
Slaapplek: Luukse, standaard-  en gesinskamers
Geriewe: 24 uur-ontvangs, kroeg, restaurant, swembad, portierdiens, gastesitkamer, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens, gratis WiFi en konferensiegeriewe
Doendinge op die perseel: Swem
Trekpleisters in die omgewing: Kangogrotte, Meiringspoort en Swartbergpas

Foxwood House

Johannesburg, Gauteng

Dié boetiekhotel skuil in ’n lowerryke tuin in Houghton naby Johannesburg se sakekern. Dis een van die eerste huise in die omgewing en daar is steeds familie-erfstukke in die vertrekke, soos die grammofoon wat sedert 1936 op dieselfde plek staan! Soms hoor jy geheimsinnige voetstappe, maar dis dalk net die vloerplanke wat kraak. Maar benewens die geskuifel, het gaste al beweer hulle het ’n vrou met ’n kind op die balkon gesien en party gaste sweer hoog en laag hulle het selfs al Paul Kruger gewaar!

Gebou: 1924
Slaapplek: 12 luukse suites
Geriewe: Wasgoeddiens, konferensiegeriewe en gratis WiFi
Trekpleisters in die omgewing: Foxwood-teater, Killarney Mall en Suid-Afrikaanse Nasionale Museum van Militêre Geskiedenis

So, as staaltjies uit toeka se tyd jou belangstelling prikkel of jy bloot daarvan hou om indrukwekkende argitektuur te bewonder, maak ’n draai by ’n historiese hotel en vertel ons gerus watter skatte jy tussen die ou mure ontdek!

Hooffoto: Queen’s Hotel (LekkeSlaap-instansie)