Die Bo-Kaap en sy ikoniese huisies is regoor die wêreld bekend ─ foto’s van dié kleurvolle buurt pronk op tydskrifte, kalenders en ek-verlang-na-jou-poskaarte. Dis onmoontlik om enigsins aan Kaapstad te dink sonder om ook aan die Bo-Kaap te dink. Dit is ’n historiese woonbuurt wat al aan die slegte en goeie ontvangskant van ons land se geskiedenis was en om elke hoek en draai is daar ’n storie om te vertel. So mooi soos wat die huisies is, is hierdie woonbuurt meer as net ’n prentjiemooi vakansiefoto en vorm dit ’n belangrike deel van die Kaap se erfenis, geskiedenis en karakter.

As ’n mens nou werklik ’n plek en sy gemeenskap wil leer ken, dan doen jy dit in sy kombuis. Van al die plekke wat ek al besoek het, is dit die kultuurkospotte wat my die beste geleer het. Snaaks genoeg hoef jy nie té ver te soek na Kaap-Maleise disse nie ─ dis die geurige bobotie by die kerkbasaar, die kafee op die hoek se samoesas en jou ouma se alombekende tamatiebredie op ’n winter-Sondag. Vereenselwig jou met die Bo-Kaap se kos en kultuur en kom pak saam met LekkeSlaap ’n gastronomiese avontuur aan!

Smul in die Bo-Kaap

Bo-Kaap: Jeanne Carstens

Biesmiellah

Biesmiellah is ’n restaurant op die hoek van Waal- en Pentzstraat in die hartjie van die Maleise Kwartier. Dié restaurant bied ’n veelsydige spyskaart met algemene eetgoed, soos burgers, geroosterde toebroodjies, seekos en pasta. Maar natuurlik ook Kaap-Maleise disse, soos denningvleis, bobotie en pienang. Daar is ook ’n verskeidenheid smullekker kerries en Noord-Indiese disse. Probeer gerus die salomies ─ dis roti-wraps met ’n hoender-, steak-, maalvleis- of groente-vulsel wat met sambals bedien word. ’n Lipleklekker hoender-brijani en skaapsvleis-brijani is ook beskikbaar teen R95 en R105.

Kontak: 021 423 0850
Adres: h/v Waal- en Pentzstraat, Bo-Kaap, Kaapstad
Besigheidsure:
Dinsdag tot Donderdag: 11:00 tot 22:00
Saterdag: 11:00 tot 23:00

Bo-Kaap Kombuis

Die Bo-Kaap Kombuis skuil aan die Bo-Kaap se bokant. Dié restaurant spog nie net met ’n pragtige uitsig oor Kaapstad en op Tafelberg nie, maar ook met ’n tradisionele Kaap-Maleise spyskaart. Hier kan ’n mens delf in alles wat Kaap-Maleis is. Begin jou ete met ’n bord vol brandrissiehappies, samoesas, dhaltjies en groentehappies teen R55 (2 van elk). Buiten tradisionele disse soos bobotie, tamatiebredie en verskeie kerries, is daar ook proe-borde teen R180 elk. Daar is ’n lamskerrie- en hoenderkerrie-bord, viskerrie- en garnaalkerrie-bord en ’n denningvleis- en botterhoender-bord. Elke bord sluit bobotie, rys en ’n roti in. Jy moet natuurlik nie vergeet van nagereg nie! Vir die ware Bo-Kaapse ervaring moet jy die artepilporring probeer. Dis ’n nagereg wat van kapokaartappel, eier, suiker en room gemaak is en dit word met ’n warm sitrussous en gestoofde vrugte bedien. Smaaklik!

Bo-Kaap Kombuis

Kontak: 021 422 5446
Adres: Auguststraat 7 (Waalstraat), Bo-Kaap, Kaapstad
Besigheidsure:
Maandag: Toe
Dinsdag tot Donderdag: 12:00 tot 22:30
Vrydag: 14:00 tot 22:30
Saterdag: 12:00 tot 22:30
Sondag: 11:30 tot 15:00

Lekka Kombuis

As jy ’n kosfoendie is wat self ’n Bo-Kaapse kombuis wil verken, is Lekka Kombuis ideaal. By dié blou huisie leer Gamidah Jacobs haar gaste hoe om egte Kaap-Maleise disse baas te raak. Gamidah verwelkom jou asof julle al jare lank vriende is. Vanuit haar gesellige kombuis leer sy jou hoe om roti’s, tradisionele kerrie en brandrissiehappies te maak. Jy vou en vul selfs jou eie samoesas!

Lekka Kombuis: Jeanne Carstens

Twaalf jaar gelede, ná die geboorte van haar jongste dogter, het Gamidah besluit om eerder van die huis af te werk en haar dogters groot te maak. Sy het geweet sy wou iets met kosmaak doen, maar het nie ’n vreeslike voorliefde vir spyseniering nie. Sy besluit toe haar voorland is om mense te leer kook. ’n Kookklas by die ene mevrou Jacobs is genotvol en opwindend. Haar stralende en energieke persoonlikheid verseker dat daar nie een saai oomblik is nie. Tesame met Aneesah Harris, Gamidah se regterhand, word jy ingelig en vermaak met kos- en familiestaaltjies. Die kosklas se bonus is natuurlik die smullekker eetsessie ná al die kokery. Jy loop versadig en met meer kennis en waardering vir die Bo-Kaap en sy bekoorlike mense daar weg.

Lekka Kombuis: Jeanne Carstens

Klasse word in groepe (maksimum nege) aangebied teen R520 per persoon en ’n les duur ongeveer twee uur. Vir R670 word ’n begeleide toer van die Bo-Kaap een uur voor die kookklas ingesluit. As jy jou kulinêre vaardigheid by die huis wil gaan toets, is Atlas Trading Co. heel gerieflik oorkant Gamidah se huis geleë. Maak seker jy neem ’n notaboekie saam, want daar mag dalk net ’n wenk of twee wees wat jy nie wil vergeet nie!

Lekka Kombuis: Jeanne Carstens

Kontak: 021 423 3849 /  79 957 0226
Adres: Waalstraat 81, Bo-Kaap, Kaapstad

Dial-a-Koesister

Die koesister is ’n soethappie wat glad nie verwar mag word met sy amper-naamgenoot die koeksister nie. Die koesister is van Kaap-Maleise herkoms en word tradisioneel op ’n Sondagoggend geniet. Vir diegene wat onseker is ─ ’n koesister is ’n tipe oliebol wat met kaneel, anys en gemmer gegeur is, in warm stroop gedoop word en dan in klapper gerol word. Abdurageem Randall, sy skoonsuster, Faieka Salie, en sy niggie, Juwayda Daniels, het dié wonderlike inisiatief Dial-A-Koesister begin wat vars koesisters elke Sondagoggend by jou voordeur aflaai. Dis heel eenvoudig: Jy plaas jou bestelling via WhatsApp voor Saterdagaand om 21:00 en die volgende dag word vars lekkernye by jou huis afgelaai om saam met ’n koppie rooibostee te geniet. Dit kos R10 vir drie koesisters en ’n ekstra R3 per kilometer buite Wynberg. Hulle laai selfs so ver as Somerset-Wes af! Besoek gerus die Facebook-blad om meer uit te vind.

Kontak: 073 367 1895

As jy nie binnekort in die Kaap is nie, probeer dan gerus Zerina Davis se wenresep!

Koesisters

A post shared by Zesty Food (@zestyfoodblog) on

Koesister Resep

Slaap in Bo-Kaap!

Magie vol, ogies toe ─ bly gerus ’n aand of twee in die Bo-Kaap en vereenselwig jou met dié Kaap se ryk kultuurerfenis!
Bo links - 139 Waterkant Street, Onder links - De Waterkant House, Regs - De Waterkant Village

Waarvoor wag jy? Kom beleef die Bo-Kaap se besonderse disse en laat weet ons gerus wat jou gunsteling is!

Alle foto’s is deur Jeanne Carstens geneem tensy anders vermeld. 

*Biesmiellah en die Bo-Kaap Kombuis is halaal-vriendelike restaurante en geen alkohol word bedien of toegelaat nie, maar daar is meer as genoeg ander drankies om die dors te les.