Soos gesien op Maroela Media.

Moes jy dié Paasvakansie weereens koebaai waai vir Wagter wat jou met verlangende oë agter die hondeherberg se tralies dophou soos jy op die horison verdwyn? As troeteldier-eienaar is dié besluit wanneer jy ’n vakansie beplan waarskynlik keer op keer ’n taamlike tameletjie. Die gesin gaan met vakansie, maar hoe gemaak met Wagter? Waar gaan hy bly, of kom hy saam? Volgens verskeie bronne staan die aantal honde wat in Suid-Afrika as troeteldiere aangehou word op 7,4 miljoen! Die kans is dus goed dat ’n groot persentasie elke jaar agtergelaat word wanneer die vakansie sy opwagting maak.

Baie Suid-Afrikaners gaan elke jaar ten minste een keer met vakansie wat ’n mens laat wonder wat dan van al die vierpotige vriende word. As mens kyk na hoeveel hondeherberge en oppasdienste geadverteer word, kan jy gou-gou aflei dat die meeste mense alternatiewe verblyf of oppassers vir hul dierekinders reël gedurende die vakansietyd. Maar wat as Wagter ook saam kon vakansie hou? Deesdae is dit nie net moontlik nie, dis boonop maklik!

"Ready to travel" deur bildschoen (Flickr)

Volgens die DogBlog se 2016-opname gaan stap net 26,2% van Suid-Afrikaanse honde se eienaars minstens een keer ’n dag met hulle. Nou ja, dit is seker nie so nodig vir die kleiner rasse nie, maar die groter honde moet definitief gereeld oefening inkry! En hoe gemaak as die hondeherberg tjokvol is gedurende vakansies? Honde in sulke herberge kry gewoonlik net die minimum oefening in en moet soms hul aktiewe lyfies vir ure aaneen in ’n klein hokkie rustig maak. So, wat is die oplossing dan? Moet ’n mens dan nou kies tussen ’n hond of ’n jaarlikse vakansie? Gelukkig nie! Deesdae is daar soveel troeteldiervriendelike plekke in Suid-Afrika dat dit eintlik eenvoudig is om enige hond saam te neem met vakansie. Hier is ’n paar oulike wenke om jou troeteldiervriendelike reis te vergemaklik!

Hondjies by LekkeSlaap-blyplekke, van links na regs: Mont Plaisir Guest Farm en Haven of Peace and Garden CottagesOm met jou hond aan jou sy te reis kan jou veiliger laat voel

Dis nie nodig om doekies om te draai nie ─ ons almal weet Suid-Afrika is nie die veiligste land ter wêreld nie, en as jy jou persoonlike waghond saam kan neem, sal jy mos baie meer gerus voel. Dit geld vir ’n goeie nagrus én wanneer jy buite rondstap om ’n nuwe dorp of stad te verken. Baie mense slaap sleg wanneer hulle met vakansie is omdat hulle bekommerd is oor hul motor wat nie in ’n motorhuis geparkeer is nie, of twyfel of die plek heeltemal bestand is teen inbrake. So, neem jou eie waghond saam wat jou sal waarsku as daar ongure karakters saans in die rondte is. Dieselfde geld vir deur die dag wanneer jy wil gaan rondstap en verken. Diewe teiken gewoonlik toeriste en reisigers aangesien hulle gewoonlik meer waardevolle besittings soos kamera’s, kontant en GPS-toestelle ronddra. Maar iemand wat met ’n hond stap lyk dan soos ’n plaaslike inwoner wat net vir Wagter sy bene laat rek en is dus ’n minder aanloklike teiken!

Dis sagter op jou beursie

As jy die daaglikse tariewe van die hondeherberg nog by jou eie gastehuis of vakansieblyplekkie se tariewe moet voeg, raak ’n vakansie darem maar baie duur. Dis doodgewoon goedkoper om net jou hond saam te neem. Daar is wel blyplekke wat ’n ekstra heffing het vir gaste wat met diere reis, maar dit sal nooit soveel ekstra wees as wat ’n hondeherberg jou uit die sak sal jaag nie. As hondeherberge nie jou styl is nie, sal jy waarskynlik ook iemand moet betaal om by die huis na jou dieremaatjie te kom kyk terwyl jy weg is. Daarom is die goedkoper opsie altyd om jou hond maar saam te neem.

Jy weet jou hond is in goeie hande

Die beste persoon om na jou hond om te sien, is tog jy self! Dis net jy wat sy gewoontes en sy maniere ken en weet hoeveel kos hy per dag nodig het. Jy alleen weet wanneer sy blaf iets beteken en wanneer nie, jy ken sy nukke en geite, en jy weet van watter peuselhappies hy hou en hoeveel kilogram hy nog moet verloor. Jy weet ook hoe ver hy kan stap voor hy moeg raak, en jy weet van watter mense hy nie hou nie. Keer dat jy met jou volgende vakansie jou sit en bekommer en vat hom net saam, dan weet jy jou hond is in goeie hande.

Honde op die strand by Atlantic Loft (LekkeSlaap)

Om jou hond saam met jou te neem klink duidelik na ’n blink plan, maar daar is tog ’n paar goed wat jy moet onthou voor jy vir Wagter in die kattebak laai.

Neem jou hond se geaardheid in ag

Alhoewel dit dalk ideaal klink om jou hond saam te neem, is dit wel jou verantwoordelikheid om jou hond se gewoontes en geaardheid in ag te neem wanneer jy jou vakansie beplan. Baie plekke wat as troeteldiervriendelik bestempel is, is wel omhein, maar as jy weet jou hond het die geneigdheid om oor mure te spring, doen eers navraag oor die spesifieke veiligheidsmaatreëls wat die blyplek in plek het vir hondekinders. Onthou ook dat nie alle honde langafstand ry ewe goed kan hanteer nie, so stop gerus eers by die veeartswinkel en kry ’n naarpilletjie of selfs ’n slaappilletjie indien jy ’n senuweeagtige hond het  ─ dis net beter vir almal in die voertuig!

Onthou ’n ID-bandjie vir jou hond

Al is jou hond nie altyd aan ’n leiband nie, moet jy seker maak dat hy te alle tye ten minste ’n halsband met ’n ID-skyfie aanhet. Dié ID-skyfie moet jou naam, adres en kontaknommer ophê, en as jy bekommerd is dat die skyfie kan afval, skryf sommer jou nommer as ekstra veiligheidsmaatreël ook sommer in kokipen aan die binnekant van die halsband. Só verseker jy dat Wagter weer saam met jou sal terugkeer na die vakansie.

Deesdae is dit ook ’n goeie idee om jou hond met ’n mikroskyfie te laat identifiseer. Dit is ’n relatiewe pynlose proses vir jou hond en enige veearts of dierebeskermingsvereniging sal eers kyk vir die mikroskyfie om die hond se eienaar te vind. Indien jou hond reeds ’n mikroskyfie het, bel die veearts om seker te maak dat jou kontakbesonderhede wat aan die skyfie gekoppel is, op datum is.

Pak ook vir jou hond

As jy met vakansie gaan, pak jy mos ’n tas met alles wat jy gaan nodig hê, en dit geld vir hondekinders ook! Onthou om vir jou hond ook ’n sak te pak sodat hy net so lekker soos jy kan vakansie hou.

Daar het jy dit! Die voordele van reis met ’n troeteldier is veelvoudig en oortuigend, en al is daar goedjies om in gedagte te hou, is dit definitief die moeite werd. ’n Hond is tog ’n lid van die gesin en verdien om ook saam met julle weg te gaan wanneer almal ontspanne is en daar oorgenoeg tyd is om stok te gooi. As jy ook dink dis ’n goeie idee om jou hondekinders met die volgende vakansie saam te neem, het LekkeSlaap talle troeteldiervriendelike plekke wat reis met diere maklik maak ─ kliek hier vir ons volledige versameling en geniet jou volgende vakansie met jou wollerige maatjie aan jou sy!

Bronne: advantagepetcare.com, petsecure.com, pets.thenest.com, thedogblogsa.com

Hooffoto: Super Cute deur Mike Spasoff (Flickr)