Ná vyftien jaar keer ek terug na die kusdorp waar ek as kind menige skoolvakansie saam met my gesin deurgebring het. Ek onthou nog ons tjoepry-sessies op die reusagtige Indiese Oseaan-golwe, biblioteek-besoeke en laatmiddag-uitstappies na die hawe om te kyk hoe die bote inkom ─ ons het elke bootnaam geken! Vandag vat ek en Schalk die R305-afrit vanaf die N2 en sowat dertig kilometer verder hou ons by Stilbaai se hawe stil. Dit ruik steeds soos vakansie en ek kan nie glo ek was só lanklaas hier nie. Seemeeue deurkruis die vroegoggendlug en smeek vissermanne luidkeels om tog net asseblief ’n stukkie vis te laat val. ’n Besige dag lê voor en ons is kinderlik opgewonde onderweg na ons eerste bestemming, danksy die Stilbaai Toerismeburo en LekkeSlaap.

Ontbyt by Drie Pikkewyne-restaurant

Ons avontuur begin vyftien kilometer verder by Drie Pikkewyne-restaurant in Jongensfontein. Ons hou teen die strand stil en neem ’n paar foto’s. “Kom in, kom kyk ─ ’n massiewe skool dolfyne is op pad hierheen!” word ons na binne genooi en ons haas na die restaurant se balkon om te kyk hoe dié see-akrobate in die branders baljaar. Corné en Lizette, mede-eienaars, verwelkom ons en ons bestel solank boeretroos terwyl hulle ons meer oor die restaurant vertel. Buiten die onverbeterlike ligging oorkant die see, is die storie agter die restaurant se naam beslis besonders en ons luister verwonderd na die verhaal.

’n Klompie dekades gelede het tant Dora ’n beseerde pikkewyntjie op Jongensfontein se rotse opgetel en hom huis toe geneem om te versorg ─ sy het hom Oupa gedoop. Haar kinders het vir hom gaan vis vang en hy het mettertyd herstel. Toe hy sterker word het hy daagliks agter tant Dora aan strand toe gewaggel om in ’n stroompie te gaan swem. Op ’n dag het Oupa egter koers gekies see toe en ’n droewige tant Dora op die strand agtergelaat. Sou sy hom ooit weer sien? As jy die antwoord op dié vraag wil hê, wag ’n hartroerende verhaal oor die diereryk én ’n smullekker bord kos op jou ─ probeer gerus die ontbyt-pizza!

’n Erfenistoer en palingvoer by Blombos Museum

Die pikkewyn-storie maal nog in ons gedagtes onderweg na Stilbaai se Blombos Museum, wat ook die toerismeburo se tuiste is. Hiér snuffel ons in die geskenkwinkeltjie rond en loer by die teetuin in terwyl ons op Sanet wag om die argeologie-toer aan te bied. Die museum bied ’n aantal vertrekke vol argeologiese skatte uit die Hessekwa-distrik. Dié erfenis bestaan uit verskeie artefakte uit die nabygeleë Blombos-grot en die handjievol skulpkombuise langs die kus, rotskuns uit die Langeberge en versteende duine uit die omgewing. Sanet neem ons op ’n reis na die verre verlede waar die enigste vorm van tegnologie dit was wat jy uit klip kon maak.

Dan is dit tyd om ’n draai by die palinggat op die perseel te maak. Ons sluit by ’n tiental besoekers aan en wag dat dié glibberige kalante te voorskyn kom sodat ons hulle kan voer. Die palings is taamlik sku en die jongspan is maar skrikkerig, veral toe ’n reuse-padda uit die water hop om ’n happie te steel ─ ’n paling sal uit jou hand eet, maar ’n padda byt jou vingers!

Ginproe by Inverroche-distilleerders

’n Besoek aan dié deel van die Tuinroete is nie volmaak sonder ’n ginproe-sessie by die gewilde Inverroche net buite Stilbaai nie en dis presies waar ons ons volgende bevind. Selfs Inverroche spring nie beurtkrag vry nie, maar toe dié gevreesde verskynsel om 12:00 kop uitsteek, ry dit gelukkig nie ons ervaring in die wiele nie. Ons sluit by ’n groep toeriste aan en word op ’n toer deur die gebou geneem. Die sensorium kry groot aftrek en almal kry om die beurt kans om die verskeidenheid fynbos, waarmee Inverroche se gin vermeng word, te ruik ─ die lemmetjie en kaneel is my gunstelinge!

Ná ’n toer deur die distilleerkamer waartydens die vervaardigingsproses verduidelik word en ons ook hoor dat die bekende musiekgroepe Watershed, Prime Circle en The Parlotones al hier opgetree het, begin ons eie ginproe-sessie. Dié ervaring bestaan uit vier gins met sjokolade-pasmaats ─ beslis ’n wenkombinasie! My gunsteling is die Amber-gin met ’n peperkorrel-, aarbei- en lemoenskil-ondertoon wat ’n mens saam met donkersjokolade gevul met lemoengeur proe. Ons sluit dié luukse besoek met Amber-gingegeurde roomys af, want wie kan dan vir só ’n lekkerny nee sê? 

Kaasproe by Kasselshoop Cheese

Sowat dertien kilometer duskant Inverroche hou ons by Kasselshoop stil en Liesel kom dadelik uit om ons te verwelkom. Op die Old School-proelokaal se stoep vertel sy ons meer oor die kaasmakery wat al bykans twintig jaar aan die gang is. Aanvanklik was Kasselshoop die enigste melk-afsetpunt in die area en bestaansboere het hul melk hierheen gebring sodat dit verkoop kan word. Kasselshoop het begin om die harder kaassoorte, Gouda en Cheddar, wat beter in die area aard, van Jersey-melk te vervaardig en vandag lewer hulle tussen twaalf en negentien ton kaas. Die fabriekswerkers is plaaslike inwoners en alles word met die hand gedoen ─ van koeie melk tot die kaasverpakking. Boonop gebruik Kasselshoop net natuurlike geurmiddels, soos brandnekelpeper, paprikapeper en olywe, wat nie deur ’n radiasieproses gegaan het nie.

Kaas- en wynproe is dalk alombekend, maar buiten dit bied Kasselshoop ook kaas met Belgiese sjokolade-, gin-, port-, olywe- en boetiekbier-pasmaats. Ek besluit om die kaas- en sjokolade-kombinasie te probeer en Schalk pak die kaas- en boetiekbier-pasmaats aan. Ons deel ook die kaas- en wyn-kombinasie en as iemand wat nie ’n rooiwyn-liefhebber is nie, is Baleia Wines se rosé, wat perfek by ’n gerookte Gouda pas, beslis iets om oor huis toe te skryf. Liesel bederf ons verder met ’n middagete-kaasbord en ons groet later met die wete dat ons Kasselshoop beslis weer sal besoek.

Olyfproe by Oudewerfskloof Olyfplaas

Knuppeldik ry ons terug in Stilbaai se rigting om by Oudewerfskloof in te loer. Sonja verwelkom ons en ons stap deur die moderne plaashuis se ruim leefarea tot by die kuierstoep vanwaar ’n mens oor die olyfboord, die Goukourivier en myle ver oor die vallei kan tuur. Sonja vertel ons meer oor die luukse selfsorgverblyfopsies op die plaas, asook die olyfproduksieproses en die talle toekennings wat Oudewerfskloof se olywe al ontvang het.

Sonja het ’n olyfproebord vir ons voorberei en ons begin by die olyfolie wat soos vars gras en neute ruik. Sy leer ons hoe om olyfolie te proe ─ jy hou die houertjie in jou hand totdat dit warmer raak, dan neem jy ’n slukkie, hou die olie op jou tong, trek jou asem in en sluk … Die smaak sal jou definitief verras! Ek weet nie waar Schalk nog ’n gaatjie in sy maag ontdek nie, maar hy smul behoorlik aan die pitlose olywe wat met knoffel gevul is, terwyl ek ’n stukkie brood in Balsamiese asyn doop en daaraan peusel. Ons gesels nog ’n rukkie met Sonja en maak dan aanstaltes terug see se kant toe.

Voetslaan op Skulpiesbaai se strand

Ons ontmoet Elza, ’n oudjoernalis en avonturier, by Stilbaai se hawe en volg haar tot by Skulpiesbaai om die historiese visvywers te besoek. Dié klipkraalmure is duisende jare gelede in die vlakwater opgerig om ’n getypoel te vorm waarin visse tydens laaggety agterbly ─ ’n vindingryke visvangmetode! Vandag is dié area ’n Nasionale Erfenisgebied en hoewel dit in stand gehou word, mag dit nie meer vir visvang of enige ander doeleindes gebruik word nie.

Ek trek my skoene uit en voel die sagte seesand tussen my tone terwyl ons oor die strand stap. Hordes bloublasies het uitgespoel en ons moet mooi trap om hulle nie te laat bars nie. Ons wandel tot by ’n stel trappe en klim ’n steilte uit om die wêreld vanuit ’n ander hoek te bekyk ─ jy sal nie spyt wees nie!

’n Ontdekkingsreis deur die Tuin op die Brak Fynbospark

Elza neem ons na Stilbaai se botaniese tuin en speel toergids terwyl ons dié pragpark verken. Hiér plant hulle elke jaar die Boom van die Jaar aan en die munisipaliteit ontsien geen moeite om die tuin in stand te hou nie. Ons staan ’n rukkie by die informatiewe afdeling stil om te kyk watter plante giftig, medisinaal en eetbaar is. Die tuin bied ook ’n ruik-en-raakroete (braille trail) waar mense met sigprobleme plante kan ruik, voel en in braille meer daaroor kan lees. Die tuin is propvol interaktiewe pret, soos die sonwyser en labirint, wat ons natuurlik beproef!

Aandete by On the Rocks

Ons sluit ons dag by On the Rocks in Stilbaai-Oos af. Teen dié tyd is ons pootuit en die yskoue drinkgoed verrig wondere. Schalk hou die rugby op die groot skerm so met een oog dop terwyl ons deur die spyskaart blaai ─ en het hulle opsies! Ek sien al heeldag na seekos uit en bestel kalamari met rys en groenslaai ─ ons is immers by die see. Alles lyk heerlik en Schalk kan nie besluit wat om te bestel nie, maar ook hiervoor bied On the Rocks ’n oplossing ─ surf ’n turf! 

Dis al donker toe ons weer die R305 na die N2 vat om die aand in ons naweekbestemming, die Albertinia Hotel, deur te bring. Al is ek net ’n toeris in my geboorteland, sal ek ’n ervaring soos dié vir niks verruil nie! ’n Motreëntjie sak uit om Moeder Aarde ná ’n snikhete somersdag af te koel en toe my kop die kussing raak, is ek uit soos ’n kers.

Al die foto’s deur Schalk Schreuder tensy anders vermeld
Hooffoto: Verskaf deur Stilbaai Toerismeburo

Baie dankie aan:

Annerise en haar span ─ Stilbaai Toerismeburo
Corné en Lizette ─ Drie Pikkewyne-restaurant
Liesel ─ Kasselshoop Cheese
Sonja ─ Oudewerfskloof Olyfplaas
Tony en sy span ─ On the Rocks-restaurant
Die span by Inverroche-distilleerders