As kind het ek dikwels die sterre en planete agterop die Astros-boksies bestudeer en dit was net ’n kwessie van tyd voor ek Sutherland sou besoek om die Melkweg van naderby te bekyk. Gestewel en gespoor met ’n reisplan wat haarfyn uitgewerk is en ’n propvol brandstoftenk, is dit presies waarheen ek en Schalk vroeg een Vrydagoggend op pad is. Al vee ons nog die slaap uit ons oë, is ons kinderlik opgewonde ─ ’n naweek in Sutherland wink en vanaand kyk ons sterre op Sterland!

Die pad vanaf Stellenbosch is lank en ons moet noodgedwonge die N1 vermy, maar die skilderagtige roete oor die Bainskloofpas, verby talle padstalle, deur Ceres en Touwsrivier tot in Matjiesfontein, is beslis ’n rit werd. Ons steek die grens na die Noord-Kaap oor en stop by Tjol se Gat op die R354 net buite Sutherland om keel nat te maak.

Sterland ─ die blyplek

“Hoor die skugter kelkiewyn se wilde noot van vreugde en pyn! Daar’s waaigras in die laagtes en tulpe in die vlei. Daar’s botterblom en bloublom, en dit vir jou en my!” ─ I.D. du Plessis, Lente in die Karoo

Om 14:00 klok ons by Sterland Skrywershuisie in ─ ’n afgeleë tweeslaapkamerkothuis in Sutherland se buitewyke wat ter ere aan Sutherland se beroemde digterbroers, N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw, só gedoop is. Ons ontmoet Jurg en Rita, Sterland se eienaars, asook Jaco, ’n geoloog wat al meer as tien jaar in Sutherland se dorre aarde grawe.

Buiten Skrywershuisie bied Jurg-hulle ook ander Sterland-verblyf, soos Baroe, La Pari Pari, Doekvoet, Annex en Kambro Kind, asook kampeerplek op Sterland. Rita en die ou plaaskat, Bittergal, neem ons op ’n Sterland-toer om haar handewerk te wys ─ ’n netbalbaan, ’n sokkerveld en ’n groot boma vorm deel van die perseel. Om die jongspan meer oor die natuur te leer het sy gaan afbaken presies waar die son op die kortste dag en die langste nag (21 Junie) en die langste dag en die kortste nag (21 Desember) opkom en ondergaan ─ gaan beproef dit gerus!

The Blue Moon ─ die eetplek

“Die pizza proe soos poeding!” ─ Schalk

Ná ’n toer deur Sutherland se stofstrate, wat beslis ’n blog op sy eie werd is, is ons rasend honger en The Blue Moon in een van die systraatjies is nét die plek om daai hongerpyne te stil. Ons word vriendelik verwelkom en bestel dadelik koffie en een van hul spesialiteitsmelkskommels ─ toffie-neut! Die spyskaart bars uit sy nate met tradisionele disse soos bobotie met geelrys, lasagne, melkkos en malvapoeding met vla. Ons besluit egter om ons eie pizzas saam te stel toe ons hoor die pizza-oond is reeds aangesteek. 

’n Groepie Duitse toeriste kom die restaurant binne en ons verluister ons aan hul aksente, wat verbasend sag op die oor val. Ons knoop gou ’n geselsie aan en hoor dat hulle ses maande lank deur Suid-Afrika reis. Ons pizzas word bedien en die gesels droog op terwyl ons weglê aan pizzas wat fynproewersrestaurante in die stad sal laat les opsê!

Jurg ─ die sterman

“My ma het altyd gesê Jurgens is goud van kop tot tone. Sy liefde vir mense dra by tot sy sterrekyk-sukses. Hy is ’n man van min woorde, maar wanneer hy praat beter jy luister, want sy droë opmerkings sal jou beslis laat skater!” ─ Rita

Dan breek die oomblik uiteindelik aan ─ dis sterrekyktyd! Trommeldik geëet en nog dikker aangetrek, kom ons op Sterland aan. Die kwaai Karoo-son wat ons vroeër die middag behoorlik geskroei het, het verdwyn en die yswindjie wat deur my verebaadjie waai, gee my hoendervel. Ons ontmoet ’n viertal afgetrede Pretorianers wat op ’n toer na Kaapstad onderweg is en Catherine, die gemmerkat, sluit ook by ons aan om saam sterre te kyk. Jurg het reeds twee teleskope opgestel waardeur ons na Venus, die aandster, kan loer. 

Volgens Jurg het hy net geweet waar die maan is toe die sterrekyk-gogga hom destyds gebyt het. As iemand wat gaande is oor tegnologie en allerhande toestelle, het hy homself mettertyd oor die hemelruim touwys gemaak. Vandag het hy ses teleskope en hy is besig om ’n sewende een op te bou. Hy bied elke aand ’n sterrekyksessie aan en ons verneem dat ’n Franse televisiespan en die Duitse toeriste wat ons vroeër ontmoet het, die volgende aand sy sterrekyk-gaste gaan wees. Jurg wys die Skerpioen- en Suiderkruis-konstelasies met ’n reuse-laser uit en ons luister verwonderd na al die verhale wat daarmee saamgaan. Ons kyk ook deur verskillende teleskope na die massiewe Jupiter en Saturnus met sy hordes ysringe. Laasgenoemde het nou amptelik die meeste mane ─ 82! Al kan ons die Aarde se enkele maan met die blote oog sien, kyk ons laastens deur die teleskoop daarna om te sien of dit nie tog van kaas gemaak is nie. Deur die teleskoop kan jy selfs die kraters op die maan sien en ons kry ’n kans om die maan deur die teleskoop af te neem. As jy wil sien of daar werklik ’n man op die maan is, sal jy maar self moet kom kyk!

Jaco ─ die veldman

“Ek kry ’n klein klein beiteltjie, ek tik hom en hy klink; toe slyp ek en ek slyp hom totdat hy klink en blink. Ek sit ’n klippie op ’n rots: mens moet jou vergewis: ’n beitel moet kan klip breek as hy ’n beitel is …” ─ N.P. van Wyk Louw, Die Beiteltjie

Die kerkklok se sewe slae weerklink in die soel oggendlug en ’n haan kraai in die omtrek terwyl ons wag om saam met Jaco die veld in te vaar. Hy daag met ontbytpakkies danksy The Blue Moon op en ons val in die pad. Die steil grondpad toets my onfiks-bene behoorlik en die Karoo-klippies knars in harmonie onder ons stapskoene. Sutherland se parkrun sluit ook dié roete in en ons kom ’n paar ywerige stappers langs die pad teë. Een van die Duitsers draf ook flink met ’n vinnige wuif verby. Volgens Jaco sien hy selde ’n siel wanneer hy dié pad die veld in vat, om nie eens van voertuie te praat nie. Maar vandag blyk dit alle paaie lei na Sutherland.

Terwyl ons stap wys Jaco die onderskeie grondsoorte wat ryk aan fossiele is met sy kennersoog uit. Buiten sy Paleosoïse ekostelsel-uitstalling op Sterland waarna ons die vorige aand gekyk het, vertel hy ons meer oor die uitdagings verbonde aan sy navorsing en sy droom om met marine-fossiele in die Ceres-omgewing te werk. Dan is ons bo-op die heuwel en ons word met ’n unieke uitsig oor Sutherland tot by Salpeterkop, die dormante vulkaankoppie, beloon. Ons peusel aan die piekniekkos en pak dan die tog terug dorp toe aan ─ daar lê nóg ’n besige dag in Sutherland voor!

Rita ─ die blomvrou

“Ek noem haar sommer die ‘perseelbestuurder’. Sy is alewig besig met ’n projek en voorwaar ’n meester in alles wat sy doen. Daar is g’n vervelige oomblik met haar aan my sy nie,” ─ Jurg

As ’n Sutherland-boorling het Rita ’n innige liefde vir dié droë Karoo-landskap. Sy helder skoon op wanneer sy oor die blomme, plante en voëls wat in dié geweste voorkom begin praat en jy beter jou ore spits! Van bobbejaanboek en koggelmandervoet, tot asbos en katdoring ─ sy ken hulle almal.

Om die Roggeveld-distrik se besonderse plantegroei te verewig, het sy ’n blomgids met nommers en foto’s saamgestel en die ooreenstemmende plante in ’n blombiblioteek op Sterland aangeplant. Sy is ook aan die stuur van Sutherland se botaniese tuin wat sy met trots vir ons wys ─ ’n oorspronklike veldtuin wat sy net met paadjies en nommers op klippe gemerk het sodat leke, soos ons, ook meer oor Moeder Natuur te wete kan kom.

Middelfontein ─ die plaas

“Na al die jare maak ek weer ’n plaashek oop. Ek lig die knip … Ek maak ’n hek oop in my hart …” ─ Uys Krige, Plaashek

Middelfontein is Rita se geboorteplaas en dekades nadat haar gesin die plaas moes opgee, kon sy en Jurg die grond terugkoop. Vandag bestuur hul dogter, Juanita, die plaas se gastehuise, genaamd Fontein, Fonteintjie en Safraan, net een kilometer buite Sutherland. Rita is ook hiér volstoom aan die gang. Sy het ’n klompie stap- en fietsroetes reg oor die plaas uitgelê, asook die plantegroei langs dié paadjies volgens haar blomgids gemerk.

Ons besluit om Lovers’ Lane aan te pak ─ ’n kort staproete wat Rita met verse uit die gedigte The Passionate Shepherd to his Love (Christopher Marlowe) en The Nymph’s Reply to the Shepherd (Sir Walter Ralegh) afgebaken het. By die peerbome langs die rivier knibbel ons weer aan The Blue Moon se ontbytpakkies voordat ons na Skrywershuisie moet terugkeer om uit te klok.

Ons laat Sutherland met swaar harte in die truspieëltjie agter en is teen Sondagmiddag veilig terug in die Kaap. Ek haal my tekkies uit my tas en ’n handjievol verdwaalde Karoo-klippies val op die vloer.

Baie dankie aan Jurg en Rita Wagener vir al die reëlings en gasvryheid tydens ’n onvergeetlike naweek in Sutherland ─ ons sien julle beslis weer!

Hooffoto: Verskaf

Lees ook: