Op die Roggeveld-platorand skuil ’n piepklein dorpie met ’n hart so groot soos die hemelruim. Sutherland is beslis meer as ’n navorsingsteleskoop en asvaal, sneeubedekte vlaktes. Hiér ken almal mekaar en besoekers word met egte Karoo-gasvryheid verwelkom. As iemand met ’n liefde vir letterkunde, geskiedenis en die natuur, wou ek Sutherland nog altyd besoek en my onlangse kuier op dié Karoo-dorpie het voorwaar nie teleurgestel nie!

In my vorige blog, Sterland: Ontmoet Sutherland se sterre, het ek die ongelooflike mense wat ek en Schalk op ons Karoo-wedervaringe ontmoet het, voorgestel en in dié blog vertel ek wat nóg in Sutherland se skatkis skuil.

Tjol se Gat

Net buite Sutherland op die R354 vanaf Matjiesfontein, wink ’n oase genaamd Tjol se Gat en ná die lang pad vanaf Stellenbosch, móét ons hier stilhou. Die vriendelike Duitse herdershond, Koffie, kom haal ons by die motor en sy baas, Tjol, volg kort op sy hakke. “Kom in!” nooi hy toe ons om die hoek na die kroeg-ingang stap ─ ’n geboutjie wat tot in die vroeë 1900’s ’n tolhuis op die wapad was. Tjol het dié gebou aangeskaf en in ’n kroeg omskep nadat hy weens gesondheidsredes die klam Kaapse lug vir die droë Karoo verruil het. Aanvanklik moes besoekers ledegeld betaal in ruil vir ’n lafenis, maar vandag spog Tjol met ’n wettige dranklisensie en stroom mense van heinde en verre om hiér te kom keel natmaak. Tjol gesels land en sand terwyl Koffie doodluiters by my voete lê en slaap. Ons kon ongelukkig nie vir middagete bly nie, maar Tjol verkoop ook wors en bied braaigeriewe aan diegene wat langer wil vertoef.

Tjol se Gat (Foto: Schalk Schreuder)

Dorpstrate

Ons eerste rit deur Sutherland se stowwerige hoofstraat lewer ’n rits skatte op. Ons ry verby die historiese kerk, ’n vulstasie, ’n paar restaurante en ’n kroeg. Daar is ’n handjievol allerlei-winkeltjies, soos Magda se Winkel, en ons snuffel rond op soek na ’n aandenking of twee. Tot ons groot verbasing het Sutherland ook ’n mall, of dis hoe dié gebou bekendstaan! Middag op RSG begroet ons oor die luidspreker toe ons die mall binnestap en ons loer na die koffiebekers, yskas-magnete en outydse doilies voor ons die dorpie verder verken.

Die Mall (Foto: Schalk Schreuder)

Planetarium

’n Besoek aan Suid-Afrika se sterrekyk-mekka is natuurlik nie volledig sonder om ’n draai by Sutherland se planetarium te maak nie en dis presies waarheen ons volgende gaan. Ons koop ystee by die ontvangsarea in die voorportaal, wat ook as ’n kafeteria dien, en wag vir Alta wat die sterrekyk-lesing gaan aanbied. Sy deel ons mee dat daar soms tot tweehonderd besoekers per dag by die planetarium kom inloer en lesings word heeldag aangebied. Ek het glad nie geweet wat om te verwag nie en ná ’n warm dag lê ek gemaklik terug op die uitskopstoel en maak my oë toe ─ gereed om ’n uiltjie te knip! Maar toe Alta met die lesing begin en die sterrehemel op die skerm teen die koepeldak verskyn, is ek wawyd wakker. Ons kry eers ’n voorskou van hoe die betrokke aand se hemelruim gaan lyk en word dan op ’n virtuele reis deur die Melkweg en van planeet tot planeet geneem. Daar is so baie wat ek nie van die sterrestelsel weet nie en dié vertoning is baie leersaam, veral omdat ons later die aand by Jurg op Sterland gaan sterrekyk.

Planetarium (Foto: Verskaf)

Louw-huis Museum

Die beroemde Afrikaanse digter-broers, W.E.G. en N.P. van Wyk Louw het in die vroeë 1900’s op Sutherland grootgeword en vandag is hul ouerhuis ’n museum. Ons maak Saterdagoggend ’n draai en tannie Rykie neem ons op ’n toer deur dié historiese huis. Ons luister verwonderd hoe dié tannie, wat reeds in haar tagtigerjare is, feit na feit oor dié begaafde broers uit haar kop met ons deel. Sy lees ook die bekende Louw-gedig, Karoo-dorp: someraand, met soveel gevoel voor dat ’n mens jou byna kan verbeel sy het dit self geskryf!

Die Louw-huis Museum en Louw-kinders (Foto’s: Schalk Schreuder)

The Whitehouse Inn

Ná ons reis na gister in die Louw-huis, is ons rasend honger en middagete by The Whitehouse Inn in die hoofstraat is volgende op die spyskaart. Dié gastehuis bied nie net verskeie verblyf-opsies nie, maar bedien ook ontbyt, middag- en aandete in hul restaurant op die perseel. Hiér smul Schalk aan ’n burger met spek en kaas en ek bestel ’n biefstuk. Ons eet ook nagereg, want wie kan dan vir tuisgebakte malvapoeding met vla nee sê? 

Middagete by The Whitehouse Inn (Foto’s: Schalk Schreuder)

NG Kerk

Teen laatmiddag ontmoet ons Jenny by Sutherland se NG Kerk. Dié merkwaardige gebou dateer uit die 1800’s en moes ná die Anglo-Boereoorlog weens skade herbou word. Die afwerkings binne, soos die Kanadese hout teen die dak, is van reg oor die wêreld ingevoer. Die oorspronklike Duitse orrel, wat die oorlog deurstaan het omdat dit nog op die skip onderweg na Suid-Afrika was, word vandag nog gebruik. Jenny vertel ons hoe Sutherland in die 1850’s as ’n gemeente en later as ’n dorpie gevestig is en sy deel ook staaltjies uit latere jare, soos hoe inwoners die woorde “Hoe liefderijk zijn Uwe woningen o Heere der heirschapen” teen die kerkmuur tydens die dorp se eeufees met neonkleure ingekleur het en die dominee versoek het dat dit weer swart geverf moes word. Ons loer by die kerk se museumkamer in waar ons die eerste orreltjie en foto’s van stigerslede met ruigte wenkbroue en weglê snorre gewaar. Daar is selfs ’n ouderwetse keil, maar as jy die storie agter dié hooftooisel wil hoor, moet jy self kom uitvind!

NG Kerk (Foto: Schalk Schreuder)

Ou Meule Guest House

Saterdagaand maak ons vir oulaas ’n draai in die dorp om aandete by Ou Meule Guest House, wat ook in die hoofstraat is, te nuttig. Ons kan nie die Karoo verlaat sonder om ’n tradisionele dis te probeer nie en daarom is dit tyd vir egte Karoo-lamsvleis, geroosterde groente, fynaartappel en pampoenkoekies ─ koningskos!

Aandete by Ou Meule Guest House (Foto’s: Schalk Schreuder)

Die Kaap lê nog ver toe ons Sutherland die Sondagoggend verlaat. Ons kan nie uitgepraat raak oor die naweek se ervarings nie en ek weet nou óók hoe dit voel om ’n stukkie van my hart in die Karoo agter te laat.

Baie dankie aan Jurg Wagener vir al die reëlings en gasvryheid, asook aan The Whitehouse Inn en Ou Meule Guest House vir die smullekker kos!

Hooffoto: Bigstock

Lees ook: