Daar is twee dinge wat Jo’burgers veral hoog op prys stel ─ goeie restaurante en hul honde! Daarom is dit g’n wonder dat daar só baie troeteldiervriendelike eetplekke in dié stad skuil nie. LekkeSlaap het 15 gaan uitsnuffel om jou voor te berei vir jou volgende vakansie in die Goudstad met Wagter aan jou sy!

Arbour Cafe and Courtyard, Illovo

Arbour Cafe and Courtyard is in ’n gesellige binnehof versteek waar jou hondjie ook welkom is en genoeg plek sal hê om te ontspan. Dié Franse koffiewinkel spesialiseer in crêpes en glutenvrye pannekoek, maar bedien ook smullekker Franse aandetes, soos salm vol-au-vent en het gratis WiFi.

☎ 011 788 4111 | Webtuiste

Stanley Beer Yard, Milpark

A post shared by Petri Papenfus (@petripapenfus) on

Dié restaurant bied meer as net goeie craft-bier en heerlike kos ─ daar is ook ’n knus kaggel, musiekoptredes en lang tafels onder die olyfbome buite waar jy, jou vriende en jou beste maat almal saam kan kuier. Dis die ideale plek om met ’n drankie in die hand te ontspan nadat jy en jou hond die omgewing plat gestap het.

☎ 011 482 5791 | Webtuiste

Espresso Café & Bistro, Parkhurst

Espresso is ’n gewilde systraatkafee in Parkhurst en hul prego-rolletjies en fynproewers-pizzas is die proe werd. Pasop net dat Wagter nie saam met jou proe nie! Gelukkig is daar ook baie buitetafels, so hy sal beslis ’n gemaklike lêplek vind. Let wel dat dié kafee slegs kontant aanvaar.

☎ 011 447 8700 | Webtuiste

Full Stop Café, Parktown North

By Full Stop Café kan jy en jou hond sommer saam uit die stad se geraas ontsnap en in die tuin kom ontspan. Jou mond sal behoorlik water as jy die reuse verskeidenheid geregte op die spyskaart sien, maar ons stel voor jy bestel een van hulle gewilde pizzas of burgers.

☎ 011 880 4649 | Webtuiste

Moyo at Zoo Lake, Parkview

A post shared by Zanele (@zaza_mbali) on

Moyo Zoo Lake is in ’n pragtige park geleë waar jy en Wagter saam ’n blaaskans kan vat. Dit het ’n ontspanne atmosfeer en is omring deur bome wat dit lekker beskut maak. Deur die dag kan jy eende by die dam voer en jou gesig laat verf, en saans kan jy ’n skemerkelkie en lewendige musiek op die dek geniet. Hier kan jy aan heerlike geregte met ’n Suid-Afrikaanse kinkel kom smul!

☎ 011 646 0058 | Webtuiste

Walkhaven Dog Park, Zwartkop

A post shared by Ashalin Singh (@ashalin_singh) on

Die naam sê sommer alles! Walkhaven Dog Park is 22 hektaar groot en het oorgenoeg plek waar jou vierpotige vriend kan hardloop, swem en speel. Daar is ’n groot dam, braai en piekniekgeriewe, maar jy kan ook by Walkhaven Kitchen op die perseel inloer om ontbyt of ’n ligte middagete te nuttig.

☎ 071 212 9955 | Webtuiste

Patisserie de Paris, Blairgowrie

A post shared by MotoBelles (@motobelles) on

Wie sê jy moet al die pad Parys toe piekel vir ’n patisserie? Kom smul aan ’n sjokolade-brownie en ’n behoorlike cappuccino onder die sambrele op die sypaadjie en verbeel jou jy sit by ’n straatkafee in Frankryk! Jou hond sal sommer ook bederf word met ’n bak vol lekker koue water terwyl jy aan die vars gebak smul.

☎ 011 326 0913 | Webtuiste

Salvationcafé, Milpark

A post shared by leroux botha (@lerouxbotha) on

Salvationcafé skuil ook in 44 Stanley se gesellige binnehof en bied sitplek binne én buite waar jou hond sommer styf teen jou sy kan lê. Hulle bedien heilsame gesondheidskos soos Thai-viskoekies met groente en ’n soetrissiesous, en het ook van die lekkerste ontbyt in Johannesburg.

☎ 011 482 7795 | Webtuiste

 Nice on 4th, Parkhurst

A post shared by Joe Fleming (@sotallrightnow) on

Nice on 4th is met goeie rede een van die Goudstad se gunsteling-ontbytplekke. Daar is talle ontbyt-opsies, goeie koffie en smullekker soetgebak, en jy kan binne of buite op die stoep sit. Reg langs die eetplek is Nice Books waar jy lekker leesstof kan kry om aan tafel te lees, terwyl Wagter by jou voete ontspan. Boonop sal hulle selfs vir hom sy eie waterbak bring!

☎ 011 447 7287 | Webtuiste

Delta Café, Craighall Park

Loer gerus in by Delta Café nadat jy en jou brakkie in Delta Park gaan rondwandel het. Hiér kuier fietsryers, drawwers en vierpotige vriende ewe lekker te danke aan die buitetafels onder die bome, indrukwekkende spyskaart en drinkwaterput vir honde. Drink ’n koppie Bean There-koffie terwyl Wagter ’n bietjie afkoel na al die opwinding in die park.

☎ 0794825286 | Webtuiste

Anderson’s Nursery and Coffee Shop, Norwood

A post shared by Clive (@latenightclive) on

Hier in die hartjie van Johannesburg se voorstede wag onverwags ’n oase op jou en jou hond ─ ’n restaurant binne ’n kwekery! Jy sal skoon van die stad vergeet terwyl jy sit en smul aan ’n heerlike ontbyt, smaaklike middagete of lipleklekker gebak onder die reuse, ou eikeboom. Buiten lekker kos, goeie diens en sakpaspryse is daar ook speelplek vir die kinders en jou hond.

☎ 011 483 0744 | Webtuiste

Bread & Roses, Melville

A post shared by Nick Carvell (@nickcarvell) on

As kreatiewe flair, ’n kunssinnige ambiance, buitengewone ontbyt, gourmet-burgers en varsgedrukte vrugtesap vir jou na ’n wenresep klink, is Bread & Roses sonder twyfel ’n goeie vonds. Daar is ’n paar buitetafels waar jy en Wagter die uitsig oor die woelige Melville en sy mense kan sit en bewonder.

☎ 011 482 1858 | Webtuiste

 Cafe Hemingways, Midrand

By Café Hemingway’s in Kyalami word jou hond eerste bedien met ’n bak vars water en ’n bederfie! Daarna sal jy self ’n beurt kry om die eklektiese spyskaart te bekyk en jou te verlustig in die fynproewersgeregte en vars gebak terwyl jy die pragtige uitsig van die dek af bewonder.

☎ 011 466 0195 | Webtuiste

Doppio Zero Bakery and Restaurant, Greenside

A post shared by Doppio Zero (@doppiozerosa) on

Greenside se Doppio Zero is die eerste van dié ketting-restaurante en is in die hartjie van dié bedrywige buurt geleë. Die spyskaart spog met alles van koffie tot gebak en van tapas tot pizza ─ dit sal jou dalk ’n rukkie neem om te besluit wat om te bestel! Daar is ook ’n lekker stoep met sitplek buite waar jou woef ook welkom is.

☎ 011 646 8740 / 011 027 8790 | Webtuiste

Voodoo Lily Café, Birdhaven

A post shared by Selwyn (@_selwyn) on

Buiten geurige gesondheidskos en lekker ontbyt het Voodoo Lily Café ook pragtige sitplek buite en selfs ’n aparte spyskaart vir honde wat organiese hoenderborsies, hoenderlewertjies en hondebeskuitjies insluit. Te danke aan die gesellige atmosfeer en speelparkie oorkant die pad, is dit die ideale plek vir ’n gesinsuitstappie ─ Wagter inkluis!

☎ 011 442 6965 | Webtuiste

Dis maar net ’n handjievol eetplekke in Johannesburg waar jy en jou hond lekker saam kan kuier! Om dit alles te kroon is daar boonop ’n hele spul blyplekke waar Wagter ook welkom is as julle propvol geëet is en ’n middagslapie wil vang:

Kliek hier vir troeteldiervriendelike blyplekke in Johannesburg!

Hooffoto:Agnes” deur Johan Larsson (Flickr)