“No hour of life is wasted that is spent in the saddle.”
 
Met hierdie aanhaling het Winston Churchill iets probeer sê oor die gevoel van vryheid en avontuur wat mens beetpak wanneer jy jou voete in die stiebeuels steek en die growwe leer van die leisels in jou hande voel. Bo- en behalwe die wild en natuurskoon is dit dikwels die stilte van die ongerepte veld wat dit vir ons so aanloklik maak. Wanneer jy op ’n perd se rug sit en kyk hoe kameelperde kopspeel of jouself vir ’n oomblik oorgee aan die meditatiewe kalmte van die bosveld, is dit maklik om te vergeet van die gedruis van die stad. Hier aan die suidpunt van Afrika is wildkyk een van ons gunsteling aktiwiteite. In hierdie blog sê ons vir jou hoekom ’n perd stof skop in enige 4×4 se hoofligte wanneer dit by safari kom.
 

’n Donkie is ’n wonderlike ding maar ’n perd is beter

1. Sonder ’n raserige enjin kan mens baie nader aan die wild kom.

2. Die afstand tussen jou en die natuur word nie net fisies oorbrug nie – op ’n perd se rug raak jy deel van die natuur.

3. Ons wil nou nie perdekluite vir omgewingsvriendelike vye verkoop nie, maar die feit is perde is “groen” en motors is nie.

4. Dis baie moeilik om van die stad te vergeet as jy in ’n dieseldamp sit en luister na jou motor se klepstoters.

5. Die uitsig van ’n perd af is HD – daar is nie ’n stowwerige ruit wat die prentjie versuur nie.

6. Perdry is goeie oefening en terapeuties.

7. Perde leer jou om afstand te doen van die beheerbehepte in jou – dis werklik bevrydend om aan die stuur te wees van ’n rytuig wat sy eie brein het.

8. Perde dwing jou om jouself te versoen met die tempo van die natuur – as die perd op hierdie oomblik daardie spesifieke bossie moet eet, kan jy maar net verlief neem daarmee, terug sit in jou saal en die natuur bewonder.

9. ’n Saalsafari neem jou terug in tyd na die dae toe die eerste verkenners ons pragtige land te perd deurkruis het. Pak biltong, droë vrugte en beskuit in jou saalsakke en verwys daarna as “proviand” om die ervaring nog meer outentiek te maak!

10. As jy die volgende oggend opstaan met stywe spiere is jy gewoonlik opnuut dankbaar vir die industriële rewolusie – die langpad is aansienlik makliker agter ’n stuur as met leisels in die hand!

Kyk gerus hieronder na wildreservate – en lodges wat saalsafari’s aanbied. Party van die pakkette sluit selfs ’n vonkelwyn-ontbyt in!

* Rhenosterpoort

* Zebula Lodge 69

* Shumba Valley Gasteplaas

Untitled design

Hooffoto: Horseback Africa – Pinto’s Lodge