Die somer is hier en dit beteken dis weer kamp-seisoen. Soos die kwik-vlakke styg vaar meer en meer mense die natuur binne. Oop vlaktes reg oor die land word skielik versier met kleurvolle tente wat soos miershope dimensie aan die landskap gee en binne-kuiers word vinnig verruil vir buite-kuiers en baljaar.

Ons het al gekyk na wat om te onthou wanneer jy gaan kamp, so nou kyk ons na oulike, kreatiewe, skeppende en vindingryke wenke en idees* wat sal verseker dat jy selfs swaargewig kampeerders iets nuuts sal kan leer. Jip, hierna sal jy bekend staan as die Kamp Koning, die Baas van Buitelewe, die Kenner van die Kamp-wêreld …

1. Indien jy kamp langs die water waar die temprature saans effe laag kan daal, vat so ‘n paar koerante saam en sit dit onder die opblaas matras om die koue te isoleer.

2. Kamp-kos hoef nie net uit blikke te kom nie, jy kan heerlike koningskos en varsgemaakte disse óók bedien. Vir dié wat graag slaai maak, draai jou slaaikop in koerantpapier toe dan bly dit tot 10 dae vars.

3. Indien jy nie meer blits oor het nie, gooi kookolie oor koerantpapier om die vlamme aan te stook.

4. Maak jou vuurhoutjies waterdig deur die voorpunte in naelak of kerswas te doop.

5. Naas nat vuurhoutjies, is nat toiletpapier niemand se pel wanneer jy kamp nie. So, maak seker jy bewaar jou “wit goud” só:

– Vat ‘n leë 1 kg jogurt-houer, verkieslik die wat nié nouer word na onder nie, en was dit uit. (Enige ander plastiekhouer kan ook werk.)

– Vat nou ‘n skerp mes of skêr en sny ‘n vertikale gleuf aan die kant van die bakkie. Plaas die rol daarbinne, sit die deksel op en siedaar!

– Voer nou die toiletpapier deur die gleuf. Jy sal die rol enige plek kan neersit sonder dat dit vuil of nat raak.

6. Gooi ‘n kombers wat as ‘n mat kan dien in jou tent, dit sal nie net ekstra gemak oor boom-wortels bied nie, maar sal ook die skoonmaak voor jul vertrek soveel makliker en vinniger maak. Skud dit bloot uit en siedaar!

7. Dames dié een is vir julle: ontdek die wonder van DROë SJAMPOE! Jip, die oulike poeier sjampoe word in jou hare gevryf, dan los jy dit vir so ‘n paar minute en kam dit dan uit. Die poeier absorbeer die lastige olies en sal jou hare weer tydskrif-mooi laat lyk.

8. As jy nie muskiet-room het nie, vryf die binnekant van lemoen-skille oor jou lyf om die nare peste weg te hou.

9. Nog ‘n manier om muskiete weg te hou is deur knoffel te eet voor jul weggaan. Dit gaan dalk die ander mense ook weghou maar as almal saam eet, sal almal ook saam stink en boonop hoef niemand dan muskiete weg te waai nie.

10. Nog ‘n gogga-wenk (as ek dit so kan noem) is om ‘n brandende bysteek met mosterd of tandepasta te verlig. Die tandepasta moenie ‘n gel-basis hê nie.

11. Kabelbande (cable ties) en kleefband kan enige ding regmaak, enige ding! En indien jy nie die hele kleefbandrol wil saamneem nie, draai so ‘n paar meters om jou aansteker om te gebruik.

12. Kamp in die donker is glad nie lekke nie, so onthou om enige bron van lig saam te neem, iets wat jy in jou tent kan gebruik. Koplampies werk soos ‘n bom, want dan is jou hande vry om te werk. Maar hier is nou ‘n lekke oulike en kreatiwe lig-idee:

– Vat ‘n 5 liter plastiekbottel en maak dit vol met water.

– Bind nou jou koplampie daaraan vas sodat die liggie in die bottel in skyn – viola! Dit sal ‘n sagte lig skyn.

13. As jy lanklaas gaan kamp het en jou waterbottels het al begin muwwerig ruik, gooi vier teelepels koeksoda in, skud en laat staan vir een uur voor jy dit uitspoel.

14. As jy graag visvang wanneer jy kamp, voer die binnekant van jou hengelboks met foelie uit, dit sal help om te voorkom dat jou hoeke en sinkers ens. roes.

15. Om waterbottels kouer te hou, draai dit in foelie toe!

16. Om te verseker dat jou tent-penne en toue nie saans ‘n onskulidige verbyganger pootjie nie, plaas ‘n oopgesnyde tennisbal oor die bokant van die tent-pen. Vir die toue, draai ‘n stuk foelie daarom, so halfpad tussen die tent en die pen. Die foelie sal reflekteer in die lig van die flits.

17. Nog ‘n oulike foelie-wenk is:

– Plaas foelie oor ‘n gewone braairooster om ‘n plaat te vorm.

481622_484586058280244_1451414217_n

Deel asb. ook jou kamp-kennis met ons deur nog oulike wenke hieronder by te voeg.

 
 
*Let asb. Die idees is nie gewaarborg nie …  
Hooffoto: Flickr
Foto 1: Style Motivation
Foto 2&3: News24