Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Lowveld

+15

Beskrywing

Die Laeveld is 'n wêreld van rykdom. In die boorde hang die vrugte swaar aan die bome en in die bosveld klou 'n grootoognagapie verbete aan 'n tak. Langs die pad is daar stalletjies wat sakke neute en houtbeeldjies verkoop en op die vlaktes loop daar troppe wild. Hier pak jy 'n tawwe 4x4-roete met 'n Land Rover aan en na die tyd sit jy tevrede op jou kampstoel en suig aan die sappige, soet pit van 'n veselperske. Jy bewonder die uitsigte van die Blyderiviercanyon, kyk wild in die Krugerwildtuin en herlaai met 'n bier in Pelgrimsrus. Die meeste mense mik Laeveld toe vir die Groot 5, maar die klein dorpies is vol stories van fortuinsoekers en gouddelwers. Tussen die Drakensberge en Mosambiek kan jy ook jou stukkie goud kom vind.

In die somermaande is die Laeveld snikwarm en in die wintermaande is die klimaat gematig en koel. Die wintermaande is die beste tyd vir wildkyk, maar in die lente is die landskap lowerryk en pasgebore bokkies steier rond in die lang gras. Die Laeveld is bekend vir sy natuurwonders – hier kan jy die wêreld se oudste grotstelsel, derde oudste canyon en bekendste wildreservaat verken. Vier biljoen jaar gelede het Antarktika en Madagaskar van die Blyderivercanyon geskei en vandag daal die landskap vinnig van die manjifieke berge af na die ondergeleë Laeveld. Buiten die natuurskoon is hier ook iets vir geskiedenisliefhebbers. Hier is rotstekeninge van die Khoi-San en 'n goudstormloop in die 1800's het aanleiding gegee tot pragtige klein dorpies soos Pelgrimsrus, Kaapsehoop en Baberton. Hazyview en Hoedspruit is ook oulike dorpies wat reg langs die Krugerwildtuin rus. Nelspruit is die hoofstad van die Laeveld en Mpumalanga en dit is waar ons toer afskop ...

Nelspruit lê in die hartjie van die Laeveld, tussen sitrusboorde en natuurskoon. Dit is 'n plek waar mens altyd bewus is van die omliggende bosveld en die pieke van die Krokodilpoortberge. Dit is ook die ideale oornagplek op pad na die Krugerwildtuin en Mosambiek en staan bekend as die poort na hierdie areas. Daar is talle besienswaardighede in die omgewing. Die Innibos-fees word jaarliks hier gehou en daar is verskeie restaurante wat 'n groot verskeidenheid disse - van Frans tot Portugees, optower. Natuurliefhebbers sal in hulle element wees in die Laeveld Botaniese Tuine, waar staproetes verby bosse en 'n waterval kronkel. Pak 'n piekniekmandjie en raak rustig in die skadu van 'n boom, of trek jou tekkies aan vir avontuursporte soos kanovaart, vierwielmotorfietsry, bergklim en kloofswem.

Die Krugerwildtuin is 'n uitstekende bestemming vir besoekers wat die hartklop en natuur van Afrika wil beleef. Die Groot 5 is 'n groot trekpleister, maar daar is soveel duisende ander diertjies en plante om ook te bewonder. Die wildtuin het die meeste soogdiere van al die wildreservate in Afrika – altesaam 147 spesies! En dan praat ons nie eers van die 114 reptiele- en 517 voëlspesies nie. Hierdie pragtige verskeidenheid spesies maak die wildtuin 'n uitstekende bestemming vir wildkenners en leke. Die Krugerwildtuin word ook omring deur wildreservate wat meer intieme ervarings aan vakansiegangers bied. Hoedspruit is 'n oulike dorpie met 'n ideale ligging tussen die wildtuin en die Blyderivercanyon. Timbavati en Sabisand is tussen die wildtuin en Hoedspruit geleë en het uitstekende privaat wildreservate en luukse lodges.

Die Panoramaroete met sy asemrowende uitsigte, is 'n moet in die Laeveld. Die roete begin by die klein dorpie Graskop en loop dan deur die Blyderiviercanyon-natuurreservaat. Langs die pad kan jy oor die prentjiemooi landskap van God's Window tuur, Bourke's Luck Potholes besoek en na die Drie Rondawel-kranse kyk. Die Blyderiviercanyon is een van Afrika se indrukwekkendste natuurwonders. Dit is die wêreld se grootste groen “canyon” met digte plantegroei teen die kranse en oorvloedige natuurlewe in die valleie. God's Window is 'n hoogtepunt langs die Panorama Roete – letterlik en figuurlik. Vanaf dié uitkykpunt kan jy oor die Laeveld kyk en op 'n mooi dag kan jy selfs die Krugerwildtuin in die verte sien. Besoek ook Burke's Luck Potholes – interessante rotsformasies by die plek waar die Treurrivier en die Blyderivier saamvloei. Terloops, die Treurrivier het sy naam gekry by die Voortrekkers wat gedink het hul manskappe het omgekom en die Blyderivier is vernoem na hul blye hereniging.

In die Laeveld kan jy een van die oudste grotte in die wêreld aantref – die Sodwala-grotte. Dié grotte is geleë tussen Nelspruit en Sabie (ongeveer 'n halfuur per motor vanaf Nelspruit). Behalwe dat dit 'n natuurwonder is, word daar ook gereeld musiekopvoerings hier gehou. Kinders sal mal wees oor die Dinosouruspark langs die Sodwala-grotte. Hier is lewensgrootte dinosourus-modelle en 'n subtropiese woud met apies. Tussen Sabie en Lydenburg is die Longtompas, een van die mooiste en hoogste passe in die land. Maak gerus 'n draai by die Hops Hollow-brouery en die Gustav Klingbiel-natuurreservaat, en stop by die replika van die Long Tom-kanon waarna die pas vernoem is. Nadat jy die Longtompas verken het, kan jy een van die talle 4x4-roetes in die omgewing aanpak. Die Riverwild 4x4 Trails is naby aan die Sodwala-grotte geleë en bied 'n lekker uitdaging aan avontuurlustiges.

Destyds het delwers, skurke en fortuinsoekers na die Laeveld gestroom met sterre in hulle oë – hier was 'n belofte van rykdom. Die stormloop het nie gestop nie, mense mik steeds dorstig na dié wêreld. Die rykdom het egter nie meer 'n goue kleur nie – dit is nou die groen natuurskoon, die interessante geskiedenis en, bowenal, die ontspanne atmosfeer. Kom kuier in die Laeveld saam met LekkeSlaap, jy sal teruggaan huis toe met skatte wat motte nie kan vreet nie en skelms nie van weet nie – 'n kop vol uitsigte en 'n lyf vol rus.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Lowveld te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Lowveld te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.